Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid – André Serfontein
Ek kan nie presies onthou wanneer dit vir my gebeur het nie; seker omdat die bewuswording oor ’n lang tyd realiseer, eerder as in ’n oomblik. Stukkie vir stukkie, stadig maar seker, het my bewussyn ontwaak vir God se teenwoordigheid in die alledaagse.
Die hele aarde is toe inderdaad vol van sy magtige teenwoordigheid.
Dát God teenwoordig was op die heilige plekke binne my leefwêreld is ek van kleins af gekondisioneer om te glo. Heilige plekke was, vir my, meer as die fisiese ruimtes van die kerk. Dit het ander ruimtes ingesluit: soos die geselskap van ander gelowiges; plekke en mense van ’n hoë morele standaard; en – om eerlik te wees – ook die speelveld van die wit, Afrikaanse kultuur waarbinne ek grootgeword het. Ek was natuurlik nie bewus van die wêreldwye landskap wat deur my definisie van heiligheid uitgesluit is nie. Dit sou tyd neem vir my om te sien wat ek nie op daardie stadium kon sien nie.
Die eerste baksteen wat gekraak het in hierdie Calvinistiese muur van my het die lig laat val op die natuurlike wêreld. Ek was as tiener bevoorreg om gereelde naweek-staptogte te kon ervaar in die berge van die Boland, ’n weeklange stap in die Tsitsikamma-bos, en herhaalde vakansies langs die lagune in Hermanus. God was hier teenwoordig. Wow. Ek het nie op daardie stadium die taal gehad daarvoor nie, maar het sonder twyfel die ervaring gehad van awe, reverence, en verwondering teenoor God. Hierdie ervarings het ’n deur in my siel oopgemaak wat nooit weer toegemaak sou word nie. Dit was nie moeilik om Hom te ontmoet in die spieëlgladde water van Maanskynbaai in Hermanus, in die stilte op die gholfbaan, of onder die sterre op die dak van ons woonhuis in Durbanville nie. Van daardie oomblik af was God was naby, en toeganklik.
’n Volgende opening in die muur het my ’n kykie gegee in die siel van mense wat anders was as ek. Dit was nie maklik om in vroeë 90’s die andersheid anderkant my muur te ervaar nie, hoofsaaklik vanweë die geografiese verdeeldheid in Suid-Afrika. Ek beland toe egter as student in die Libertaskoor; ’n koor wat sedert die begin van die 90’s ’n veilige ruimte geskep het vir ’n diverse groep mense, deur ’n gedeelde passie vir musiek. Die koor se leuse, Freedom in Harmony, sou vir my ook realiseer: om vry te kom van my jarelange perspepsies, projeksies en vooroordele terwyl ek meegesleur word deur die harmonie van die mees ongelooflike musiek. Ek het die menslikheid ontdek agter bruin en swart koorvriende se andersheid. Ek het ’n Godsbegrip ontdek wat uniek was aan die ander, maar wat groter geloofwaardigheid ingehou het as die prentjie waarmee ek grootgeword het. Ek het ’n vreugde waargeneem wat moontlik was ten spyte van armoede en swaarkry, en ’n afhanklikheid van God wat gebore is uit weerloosheid. Ek kon ervaar hoe ons mekaar se gelykwaardigheid herontdek, en hoe ’n bevestiging van ons menswaardigheid genesing bring. My speelveld het sy grense verloor.
Die koor het ’n volgende ry bakstene help afbreek deurdat dit my die geleentheid gebied het om vir die eerste keer oorsee te reis. Drie oorsese ervarings met die koor, en ander oorsese reise wat hierop sou volg, het letterlik die hele wêreld kom bevestig as die speelveld van God se teenwoordigheid. Dit was vir my ’n buitengewoon bemagtigende ervaring om te ontdek dat God se Gees oral is; in die besige strate van New York, op die stadspleine van Europa, die sneeubedekte pieke van Oostenryk, die katedrale van Praag. Ek kon God ervaar in die vreemdheid van ander tale en kulture, en dit kon my verbeelding uitdaag om Hom op nuwe maniere en plekke te ontdek in Stellenbosch.
Iemand met goeie insig in die psige van die mens skryf: “We don’t see the world as it is; we see the world as we are.” Ons werklikheid word altyd gekleur deur die lens waardeur ons op ’n gegewe oomblik kyk. Dit bly vir my ’n opwindende uitdaging om God toe te laat om my ‘al meer aan sy beeld gelyk te maak’, sodat ek anders kan kyk na die wêreld waarin ek leef, en die mense met wie ek dit deel.