Dis opwindend dat ons paaie op hierdie manier kruis, en dat jy meer van Stellenbosch Gemeente (SG) wil weet.

Daar is ’n uitdrukking wat sê: “This is really about that.” Agter jou inisiatief om uit te reik na SG lê waarskynlik ’n dieper behoefte; dalk dié van groei, konneksie, betekenis, genesing – jy ken jouself veel beter as wat ons jou ken. Ons hoop dat jy nog dieper as hierdie behoefte sal delf, en ’n soeke na God sélf sal herken. Paulus herinner ons hieraan in Handelinge 17: “God het hulle (die mens) gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.” Ons soek ook.

Wat ons tot nou toe ontdek het is dat God ons nooi tot ‘N LEWE WAT IETS BETEKEN – dis SG se visie. Vir ons word betekenis gevind langs die weg van…

CHRISTUS | VANDAG | SAAM | VIR ALLES EN ALMAL

Die woord ‘mekaar’ kom nogal gereeld in die Nuwe Testament voor, en impliseer dat ons mekaar nodig het in ons soeke.

Dit sal wonderlik wees om saam met jou op reis te wees.

Uitnodiging na SG 101

Die volgende tree is dat jy inteken vir ‘n reeks van vier e-posse wat tree vir tree SG se visie en waardes met jou deel. Ons gaan waarskynlik nie ál jou vrae beantwoord nie, maar ons wil jou ten minste ’n prentjie gee van wie SG is.

Uiteindelik wil ons jou graag leer ken in verhouding.

Die skakel hieronder neem jou na ’n databasisvorm, met die basiese inligting wat ons nodig het om op ’n relevante manier met jou kontak te maak en kommunikeer.

Ons wil versoek dat elkeen in die gesin wat inligting van ons wil ontvang die databasisvorm voltooi, voel vry om die inligting te deel waarmee jy gemaklik is.

Mag ons betekenisvolle reisgenote vir mekaar wees op God se reis met ons.

Groete
Die SG-span

ONS VISIE

’n Lewe wat iets beteken

Christus

Ons glo Christus beliggaam die lewe waartoe God ons roep.
Ons volg hierdie lewe.

Vandag

Ons glo Christus se lewe bring heelheid in elke konteks.
Ons leef hierdie heelheid.

Saam

Ons glo ons volg-van-Jesus bind ons aan mekaar.
Ons verwelkom en vorm mekaar.

Vir alles & almal

Ons glo ‘n herskepte wêreld is die fokus van Christus se lewe en liefde. Ons bestaan ter wille van ’n heel wêreld.