Mylpale is deel van elke jaar, bakens wat die begin van ’n nuwe lewensfase aandui. Soos elke ander jaar gaan daar weer vanjaar ’n klompie verskrikte en opgewonde gesiggies in die graad 1-klas opdaag. Sommige kan nie wag nie en ander verken die onbekende uiters versigtig en met ’n gesonde dosis agterdog (…hulle het waarskynlik ouer boeties).

Dit is die ideale geleentheid om kinders te leer om God se betrokkenheid in ons lewens raak te sien en te vier. Hoe doen ons dit?

Ons deel ‘n voorstel of twee: 

Vir die begin van die eerste skooljaar kan julle bv. ‘n graad 1-ete hou.

Dis ‘n spesiale ete wat net oor die graadeentjie gaan: Hy kies self die kos, spesiale naby vriende word genooi en julle kan bv. plekmatjies met sy foto en skoolwapen op maak. Die tafel is mooi gedek en hy trek sy skoolklere aan. Aan tafel is tyd gemaak dat elkeen iets sê oor al sy goeie eienskappe, vir hom komplimente gee en vir hom bid. Dan word daar lekker saam geeet en gekuier.

‘n Geloofsgeleentheid kan enige geleentheid wees. 

1) Maak tyd om saam te kom as familie en vier die nuwe skooljaar.

2) Gebruik ritueel om dit te merk as spesiale geleentheid – kers aansteek, spesiaal tafel dek, gaan saam iewers heen.

3) Noem die moment op sy naam en bespreek elkeen se belewenis en gevoelens oor hierdie skooljaar wat voorlê – is jy bly, bekommerd, opgewonde, bang of ‘n kombinasie hiervan? Waarna sien jy uit en waarna nie? Wat gaan anders wees?

4) Verbind dit aan God se betrokkenheid in ons lewens: Hoe is God teenwoordig in hierdie tyd?

5) Lees en gesels saam oor ‘n teks bv. Jes 41:13, of kies voor die tyd ‘n verhaal uit die Bybel.

6) Gesels oor elkeen se ervaring van God se betrokkenheid in die oomblik.

7) Gebruik ‘n simbool soos ‘n geskenkie of kaartjie om jou kind te help onthou. Bv. ‘n kruis en ‘n glimlag emoji, die kruis herinner hom/haar dat God by hulle is en die glimlag dat hy/sy ‘n gawe maatjie moet wees vir ander.

8) Bid saam en seën die betrokke kind.

9) Eet en kuier saam.

Bid hieroor en neem God se leiding in die beplanning van julle geloofsmoment. Jy ken jou kind en weet wat vir hom/haar goed sal werk. Vertrou jou intuïsie en aanvoeling hiermee.

Dit kan so maklik soos dit wees. Maak jou tyd vas, nooi jou gaste en gaan sit rustig en dink wat wil jy graag vir jou kind sal gee om die wonderlike ervaring van ’n skoolloopbaan, vol nuwe dinge en vriende, met ’n sterk bewustheid van God se teenwoordigheid te vier.

Geniet julle mense.

– Deon Botha –