Oor meer en minder 

Verlede week kuier ons in die kerkkantoor sitkamer saam met Francois en Alta Rauch. Hulle vertel sending veld stories. Francois sê dit is chaos as hy sonder Alta reis en dat hy dankbaar is dat sy daar is saam met hom. ‘n Mens kan sien hulle vul mekaar goed aan. Francois gesels en gesels en Alta tik hom net liggies op die arm as hy te veel praat. Hy sê hy praat so baie, dat hy nooit ‘n preek in die oggend kan klaarpreek nie, daarom moet hy gewoonlik teruggaan in die aand om klaar te praat. Alta knik net en glimlag, sy weet. 

Eendag, toe Francois en Alta nog meestal in Mosambiek gewerk het, sê hy vir die Here: “Here, daar moet meer wees?” En die Here sê: “Kom ons kyk, en as daar is, wat is jou antwoord?” 

“Ja is ‘n gevaarlike antwoord”, sê Francois, “jy moet reg wees as jy vir die Here ja sê.” God gee ‘n ‘meer’ wat nie altyd maklik is nie. 

Ons hoor baie lande en mense se name. Pakistan, Thailand, Indië, Turkye, Cambodia, Kasakhstan, Oezbekistan (daar is die tannies blykbaar baie sterk), Rusland, Abu Dhabi, Irak, Borise, Sveta en Bonse wat net jongmens kerke plant. Daar is beweging, lank na Francois en Alta se betrokkenheid, want Francois glo daarin om ‘n leier groter en beter te maak as hyself. Daarna kan hy onttrek. Die kerk sal meer raak. 

Alta, die brug-bouer tussen Johannesburg, waar hulle nou bly, en die lande waarheen hulle reis, sê dat sy bekommerd is oor die mense hier in ons land. Almal steek hulle kwesbaarheid en ‘sondes’ weg. In Mosambiek bely jy jou sondes, mense luister en vergewe. Al wat nodig is, is ‘n koppie tee, omgee, liefde, ‘n glimlag, ‘n mooi boodskap aan iemand anders, en dit is dissipelskap. Ongekompliseerd. Minder. “Ek kies Mosambiek, dit is oop en vol eenvoud daar. Hier is dinge te gekompliseerd” sê Alta. 

‘n Krisis is ‘n geleentheid vir groei en verandering sê Francois. Miskien leer krises tye soos die laaste twee jaar ons dat as ons self minder word, minder vra, en minder nodig het, dat God juis meer gee, net soos in die lewens van Francois en Alta. 

-Liesl Cronje-