Oor Cecilia
Die eerste keer wat ek haar ontmoet het, het sy ‘n blomrok gedra. Dit het sag om haar bene geswaai terwyl sy aanstap na my toe. Ek dink haar hart was net soos haar rok, vol van blomme.
Ek het nie vir Cecilia in haar professionele hoedanigheid geken nie, maar wel as vrou wat opreg geluister het na ander en haar glimlag en omarming met ware liefde gedeel het. Net nou die dag nog het sy gevra hoe dit met my nuwe tweeling kleinkindertjies gaan en of hulle mamma OK is. Sy’t omgegee en ek was dankbaar.
Cecilia kon droom. Sy’t die mooiste idees uitgedink vir vroue-saamkuiers en dit was belangrik vir haar dat elke vrou die vermoë kweek om nuut te kyk na die lewe. Haar lewenslus was aansteeklik en so-ook haar lag.
Haar soet musikale stem het nie net gesing en ander moed ingepraat nie, dit het ook die pad aangewys vir hulle wat onseker was. Ek wonder of Cecilia geweet het, volgens die antieke geskiedenis, dat sy gesien is as die heilige beskermer van musikante en dat haar naam lelie van die hemel en ’n weg vir die blindes beteken. Ek dink sy het só geleef.
Mooier as ‘n hart van goud, is ‘n hart vol blomme. Liefste Cecilia, dankie dat jy al jou kosbare blomme uitgedeel het aan ander. Ons sal dit nooit vergeet nie. Mag jy ons met dieselfde oop arms inwag wanneer ons jou weer sien.
[Ter nagedagtenis aan Cecilia Roberts]
-Liesl Cronje-