“It has to be believed to be seen.” Willy Wonka / U2
Het jy al ooit ’n nuwe woord of konsep, of aangrypende nuwe musiek gehoor, of ’n nuwe kledingstuk of skoene of brand gekoop, of dit selfs oorweeg om ’n nuwe ryding te koop en dan gebeur die vreemde dat jy hierdie “nuutheid”, wat dit ookal is, om elke hoek en draai sien? Hierdie verskynsel word die “Baader-Meinhof Phenomenon” genoem. Die gedagte is eenvoudig: dat jy meer gereeld herken waaraan jy jou verbind het. Ek sou wou sê: dat jou sintuie ontwaak vir dít waaraan jy jou verbind het. Vanuit ons huidge reeks “Herken die opstanding” wonder ek of dit ook wat die opstanding betref geldig is en hoe dit dan sou werk.
’n Jong getroude paartjie, hoor die ander dag hulle is swanger. Daar is nuwe lewe wat bot. Hul huis word belyn met die koms van die verwagte lewe. Haar eetgewoontes en ’n paar ander gewoontes word belyn met die koms van die nuwe lewe. Sy verander ’n paar ritmes. Die pa maak selfs ’n afspraak met hul finansiële raadgewer en pas maande vooruit hul persoonlike finansies aan. Hulle lees ander artikels, voer ander gesprekke, verander hul dieet, beplan en doen dinge anders. Hul menswees verander nie noodwendig dramaties nie — maar hul verwagting skuif beslis hul bewustheid en hulle leef baie meer gefokus op die nuwe lewe soos wat hulle al swangerder en swangerder word.
So is dit ook wanneer jy spreekwoordelik swanger word met die opstanding. Jy kan nie help dat dit jou identiteit, bewussyn, fokus en leefwyse meesleur en vorm nie.
Die ander dag besoek ek ’n ma van drie klein asempies en ons gesels diep, verby die oppervlak, oor die lewe en geloof. Tussendeur, nog voor dit gebeur, gee sy hier vir enetjie iets aan, keer sy daar vir ’n ander een, praat sy met elkeen van hulle, maak sy koffie, bottels en ’n speelpark vir die kinders se tuiswees. Sy lees die realiteit rondom haar as ’n moeder en sy tree die heeltyd, amper instinktief, moederlik op. Sy’s dieselfde mens maar sy het ’n nuwe, verruimde bewussyn. Sy kan haarself nie help as om alles anders te sien nie. Sy’t as’t ware ’n nuwe identiteit.
So is dit ook met die nuwe lewe van die opstanding. Jy kan nie help om dit herken nie, om toe te laat dat dit jou manier van wees beïnvloed nie. Jy kan dit nie aan en af sit soos wat jy dit nodig kry nie – want dit is iets wat met jou gebeur.
Tannie Rosa vertel vandag, met my vra oor oom Chris se aansterk in die hospitaal, ’n klomp wonderlike, mooi, alledaagse geloofstories. Erens vertel sy hoe dankbaar sy is vir haar kinders en hul ondersteuning. Sy vertel van haar seun uit Gauteng wat nou kom kuier en ondersteun het met ’n klompie baie praktiese alledaagse dinge wat sy nie nou voor raad gehad het nie, en hoe hy kon help daarmee. Dan sê sy “Ons bid en vra die Here om ons te help en dan verwag ons ’n engel of iets…maar dan stuur Hy mense om ons te help. En dit is hoe God nog altyd vir ons help, deur mense.” Haar vertroue op God en haar jare lange belewenis van God verander haar seun se besoek tot ’n opdaag namens God. Tannie Rosa en oom Chris het oor jare deur moeilike en wonderskone landskappe deur ontdek hoe dit lyk om saam met die lewende teenwoordige God te leef.
Hulle kan nie anders as om die lewe en God se beweging in die alledaagse te herken nie.
Frederick Buechner nooi ons uit: “Listen to your life. Listen to what happens to you because it is through what happens to you that God speaks. . . . It’s in language that’s not always easy to decipher, but it’s there powerfully, memorably, unforgettably.”
Om die opstanding te herken vra dat jy die eerste opstanding in jou hart moet graveer, jouself as ’n opstandingsmens moet sien en dan op die Gees moet vertrou om jou te help om die herskeppende lewe, waarmee Gód besig is, oral rondom jou en in jou te herken.
Ons sien hierdie herkenning langs teleurstelling se wegloop-pad, by ’n bang-wees-wegkruip-plek, in die alledaagse frustrasie van mislukte pogings, by ’n brood breek saam met ’n vreemdeling, ’n visbraai saam met vriende en langs ’n vuur van verleentheid. Wanneer ons later lees van Paulus se botsing met die Opgestane Jesus in Hand. 9 dan sien ons (soos met Maria, die dissipels, Tomas, die Emmaus-gangers en met Petrus) dat daar iets van ’n bekering, ’n rigtingverandering en ’n nuwe self-verstaan in hulle gebeur. Dan kan hulle nie help om die nuwe-lewe-beweging raak te sien en daarby aan te sluit nie.
Mag jy die opstanding al meer herken.
Na-leef teks
“Ons het die Here gesien.” Dissipels aan Tomas
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het.” Efesiërs 1:18-20
Na-leef vrae
- Wat sou jy sê is die herkenbare karaktertrekke van die opstanding?
- Waar het jy onlangs die opstanding herken? / Waar het jy onlangs ’n behoefte daarna herken?
- Jesus vra vir ’n blinde Bartimeus “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Waarop Batimeus antwoord “Rabbi, dat ek kan sien.” Om die opstanding te herken het jy dalk nie ’n Geneesheer nodig nie, maar ’n Rabbi wat jou kan leer om dit te herken. Vra die Gees, in jou eie woorde, dat jy die opstandingslewe al meer wil sien.

