’n Gesprek wat jou nooi om saam te dink oor die skepping in al sy diversiteit. Pieter gesels met Helène Smit.
“Kom ons gesels saam oor die prentjies wat ons het van mekaar wat ons nie eens altyd besef nie. Dalk help dit ons om saam die volheid van God se skepping te ontdek. Natuurlik is hierdie tipe gesprekke soms ongemaklik. En as jou huis en omgewing ‘n veilige spasie is waar jy nie regtig hoef te kies vir ongemak nie, kan ons dit maklik vermy. Maar verloor ons nie dan ‘n stuk van God se “voluit lewe” geskenk nie?” – Helène
Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse.
.
Podcast: Download (30.1MB)
.Die veelkleurige skepping beweeg my… – Helène Smit
Hulle sê dat ‘n liefde vir voëlkyk jou onverhoeds betrap met die ouderdom. En aangesien ek groot geword het in ‘n familie met verkykers en voëlboeke, het die onvermydelike toe ook met my gebeur. Saam met die voëlkyk die laaste 10 jaar, het ek so diep onder die indruk gekom van die diversiteit van die skepping. Dit voel vir my al meer of God soveel pret gehad het toe hy al die verskillende voëls uitgedink het. Kyk net na die Paradysvlieevanger of Rooiborslaksman!
En dan praat mens nog nie eens oor al die vreemde insekte, wonderlike fynbos en belaglike diepsee kreature nie!
As ek kyk na al die verskillende persoonlikhede, eienskappe en talente van die mensdom, sien ek beslis ook God se kreatiwiteit en sin vir humor. Dit is dalk nie heeltemal teologies korrek nie, maar ek is oortuig God het die skepping so divers gemaak vir ons genot.
Dan wonder ek: As ek kyk na die mense om my, die mense wat naby my bly, saam met my kerk toe gaan, dieselfde plekke oefen as ek, dan voel dit of hulle maar meestal lyk soos ek. Daar is beslis nie dieselfde diversiteit in my vriendekring as wat daar is in hierdie mooie dorp van ons nie.
Ons weet almal dat dit is as gevolg van ons land se geskiedenis-storie. Maar dit voel of ek uitmis op ‘n groot stuk genot wat God dalk vir my beplan het. Want dink net hoe my prentjie van Hom sou kon verander as ek meer gereeld saam met iemand wat totaal anders as ek lyk en grootgeword het en dink, die Bybel kan lees! Maar sjoe – dis moeilik om regtig kontak te maak! Ons het soveel vooropgestelde idees oor mekaar. As ek iemand sien wat ek nie ken nie, maak ek aannames oor hulle op grond van geslag, ras, klere. En dit verander dadelik hoe wyd my arms oop is vir hulle. En of ek dalk ongemerk eerder seker maak my motordeur is gesluit in die verkeer…
Ek sou beslis kon sê dat my wêreld heeltemal veelkleurig genoeg is met werk en gesin en vriende en stokperdjies en dat ek nie regtig die res van die skepping mis nie. Dit is mos nie regtig nodig om te gaan soek na nog meer kleure en geure en geluide nie? Is daar enige gevaar daarin om maar net dit wat ek reeds om my het, voluit te geniet?
Dan dink ek egter aan die nuwe lied wat ek al harder en meer gereeld hoor wêreldwyd: Ek staan op vir MY mense. Ek maar seker dat MY mense OK is. Die Bybel sê ek moet lief wees vir my bure – so ek gaan veg vir my buurt. Ek dink egter dat ons dalk hier keuses begin maak wat kies teen ‘n deel van God se hart? Ek wonder wat sê die Bybel oor nationalisme? Oor menswees bo ras en taal en al die ander verskille en diversiteit.
Daarom wil ek jou uitnooi om saam met my te dink oor die skepping in al sy diversiteit. Kom ons gesels saam oor die prentjies wat ons het van mekaar wat ons nie eens altyd besef nie. Dalk help dit ons om saam die volheid van God se skepping te ontdek. Natuurlik is hierdie tipe gesprekke soms ongemaklik. En as jou huis en omgewing ‘n veilige spasie is waar jy nie regtig hoef te kies vir ongemak nie, kan ons dit maklik vermy. Maar verloor ons nie dan ‘n stuk van God se “voluit lewe” geskenk nie?
So hier is jou uitnodiging: kom gesels saam. In ‘n veilige spasie waar jy mag sê wat jy voel, al voel dit nie heeltemal reg nie. Kom ons ontdek ons dorp se volle kleure saam. Ek het dit n paar jaar terug begin doen. Ongemak gekies deur mense te volg op sosiale media wat my bitter kwaad maak. Spasies gekies waar mense anders lyk as ek. Boeke en TV reekse deur mense van ander rasse en kulture as ek. Ek het diversiteit gekies! En wow – ek het sooooooveel gewen!
En ek is boonop nou BAIE minder ongemaklik. Ek voel baie minder skuldig. Dit voel of ek tools het om verskil te maak.
Kom kuier saam. Kom ontdek die volle geskenk van diversiteit en die God wat dit uitgedink en geskep het en steeds so lief het.
Word deel van ons reis binne SG om met groter verwondering tuis te kom en te leef met diversiteit van mense in ons lewe:
- Versoeningsgesprek – ’n oop, veilige saam-gesels ruimte oor die wonders, uitdagings en misverstande oor ras en diversiteit. Donderdag 12 Feb om 18:30 by kantoor [elke 2e Do van die maand]
- Becoming human – ’n werkswinkel wat doelbewus geloof en diversiteit in gesprek bring met mekaar. Donderdag 26 Feb om 18:30 by die kantoor [elke laaste Do. van die maand]
- Church walk – ’n pelgrimstog deur die geskiedenis van Stellenbosch en ons storie. Sat 21 Mrt 8:00-12:00, vanaf Aunt Sophie by die Ou Landbou-saal.
- Volg hierdie skakel om deel te word van die WA-groep



