Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder.
.

Play
.

Naleef-gedagte: …in-wording (onder konstruksie)

Deon se gesels oor die Hebreeuse woord, die kern van Israel se geloof, die Shema (Deut 6) ,en die postuur van luister, het my laat dink aan die luisteryke “Heilige familie kerk” (La Sagrada Familia) in Barcelona. Die bouwerk aan hierdie indrukwekkende Katedraal, ontwerp deur die Spaanse Argitek Antoni Gaudí, het in 1882 begin. Hulle beplan om na 144 jaar in Junie 2026 die bouwerk klaar te maak — 100 jaar na Gaudi se dood!

Met Gaudi se dood in 1926 was die bouwerk maar ongeveer 20% ver. N.a.v kritiek oor die lang bouproses het hy blykbaar opgemerk “My client is not in a hurry.” Na sy dood was daar ’n Spaanse burgeroolog in 1936 en Gaudi se oorspronklike planne en modelle is vernietig en ’n hele paar argitekte ná hom moes namens Gaudi die planne en modelle rekonstrueer.

Hoewel die bouery al vir jare voortduur ,en nog nie klaar is nie, is die Katedraal al lankal in gebruik. Die Pous het die gebou geheilig en as ’n UNESCO erfenisgebied verklaar. Selfs al word daar beplan om in Junie vanjaar die buitekant van die argitek-wonder te voltooi, word daar beweer dat die die afronding met standbeelde, lig en kuns eers in 2034 voltooi sal wees.

Hierdie bou-proses, wat na ’n ewigheid voel, en die postuur van luister – ’n openheid om te hoor en te leer ge-hoor-saam leef – het my laat wonder:

Kinders raak soms goed kwyt of vang onbesonne dinge aan…en ons glimlag en dink “Siestog, hulle is nog net kinders, hulle leer nog, hulle is nog in wording.” Ons maak spasie vir hierdie wording se vrae, wonder en foute. Ons moedig dit selfs aan. Maar is groot-mense regtig afgehandel, wanneer ons so vol kritiek, ‘n foutlose perfektheid van mekaar verwag? Of, veroorsaak die plooilose kunsmatige intillegensie dat ons só min genade met onsself het: “Ek moes van beter geweet het! Hoe kon ek so dom wees? Teen die tyd behoort ek mos te weet, in beheer te wees…Die wêreld, die kerk, my werk en my mense verwag dit immers van my!”

Dan bestaan daar natuurlik ook die afgehandeldes: Klaar gedink, klaar besluit – selfversekerde ék-weet-mense. Dalk steek hierdie afgehandeldheid maar kop uit by elkeen van ons. Dalk hét ons nie ruimte vir leer, groei, verander…of selfs die moontlikheid dat ek nog altyd verkeerd was oor ’n saak, ’n persoon of gebeure nie.

Afgehandeldes verwag natuurlik ook afgehandeldheid by ander! Dit maak nogal die lewe, ’n beroep en ’n verhouding spanningsvol as jy moet voorgee dat jy perfek, afgerond, kant-en-klaar is. Veral as jy voor jou siel weet “Ek weet nie. Ek is nie in beheer nie. Ek sukkel met dit, daai en die ander…” Ek en jy is, wanneer ons eerlik kan wees met onsself, soos Gaudi se meesterwerk: onafgehandeld – vir ewig in-wording.

Hoe anders sal jou lewensbenadering en verhoudings lyk wanneer jy hierdie “in-wording” genade ook dáár kan uitleef: Jy vra dalk meer vrae as wat jy stellings maak; Jy haal die juk van perfektheid se angs van jou skouers af en word oral bekend as ’n ewige student; In plaas van kritiek en verwerp, sien jy “Siestog, hy leer nog, hy groei nog, hy ontdek nog…” en dan nie op ’n beterweterige manier nie, maar op ‘n ek-is-ook-nog-in-wording manier.

Wat help kla en skel en self-marteling oor onafgehandeldheid? Dit is soos om na 100 jaar die meesterlike katedraal af te breek omdat dit nou nog nie klaar is nie. Dis tog absurd! Om ’n onafgehandelde verder af te breek, maak tog geen sin nie. ‘n Beter benadering is dalk eerder “Hoe word ek deel van die in-wording storie van God met jou?

In-wording beteken nie, in onbruik nie.
In-wording beteken nie, minder heilig of indrukwekkend nie.
In-wording beteken nie, laat staan maar soos dit is nie.

Paulus skryf vir die gemeente in Korinte, ‘n gemeente wat nog duidelik in-wording is. Hy sluit ’n lang gesprek oor die sluier-van-ons-gebrokenheid af met die mooi woorde in 2 Kor 3:18 “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Die woorde “Ons word al meer verander se tydsgleuf is tot in die oneindigheid…m.a.w dit beteken letterlik “vir-ewig-in-wording” en so ook die woorde “die heerlikheid van ons uitstraal neem steeds toe.

Ek is nog nie klaar nie, jy is nog nie klaar nie, die kerk is nog nie klaar nie…ons is vir ewig nog in wording en die argitek-bouer is die Here, wat die Gees is en die manier hoe die Gees primêr in die Bybel werk is deur mense. Mag ons al meer met die genade leef van “My client is not in a hurry.” omdat ons vertrou dat ’n meesterstuk soms langer as ’n ewigheid neem.

Na-leef teks:
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.” 2 Korintiërs 3:18

 

Na-leef vrae

  • Waar in jou lewe is jy nog in wording?
  • Wat gaan jou help om jou kind-wees, jou openheid vir wording, te onthou?
  • Wat gaan jou help om ruimte te maak vir ander se ewige wording?