18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Efesiërs 1:18-23

“Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.” Efesiërs 4:10

 

Hemelvaart en Pinkster word beskryf as die skarnier-oomblik in die Jesus-beweging:
Jesus na die hemel — Die Gees na die aarde.

Ons hoor iets van die skarnier by Paulus as hy skryf dat dieselfde kragtige werking in ons aan die werk is, as die kragtige werking wat Jesus uit die dood opgewek, en geneem het na die regterhand van God. (1:19-20)

Met Hemelvaart onthou ons Jesus se troonbestyging as Koning: Jesus word verhef hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy. Alles word aan Hom onderwerp. Hy word bo alles verhef. Hy word aangestel as die hoof die kerk. (1:21-22)

Met Hemelvaart onthou ons die geboorte van die kerk as die liggaam van Christus: Die kerk is Sy liggaam. Nie sóós Sy ligaam of ’n uitbeelding van Sy liggaam nie. “Die kerk ís Sy liggaam.” Om dit te laat insink beskryf Paulus die omvang daarvan: “Die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

Ons het dus nodig om ons self af te vra: Hoe het die volheid gelyk wat Jesus kom wys het? Want dít is die volheid wat Hy deur ons in almal wil vervul. Soos Philip Yancey skryf: “When Jesus departed, He left the keys of the kingdom in our fumbling hands.” Wanneer jy, soos ek, wil terugdeins voor hierdie skrikwekkende idee dat ons Sý volheid in alles en almal moet vervul is dit belangrik om twee goed te onthou:

  • Ons moet onthou dat Jesus regeer. Dat Hý die hoof van die liggaam is. Dat Hy in beheer is. Dat Hy die aard/styl van die beweging bepaal. Dat die liggaam met Hóm moet sinkroniseer.

  • Ons moet onthou hoe het hierdie volheid van Jesus lyk – deur die styl, ritme, aard van Sy beweging aan te leer. Onthou Sy volheid was soms net te gewoon vir party, net te omhelsend vir ander, net te liefdevol, te genadig, te aards…

Natuurlik sou ons verkies het dat Jesus fisies self hierdie volheid oral, in almal, kom vervul en dit nie deur ons “fumbling hands” wil doen nie. Onthou Hy gee die belofte by Sy troon-bestyging: “En onthou, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Mag Augustinus se woorde ook vir jou waar wees hierdie Hemelvaart: “You ascended from before our eyes, and we turned back grieving, only to find you in our hearts.”

Daarom bid ons, soos ons saam met die dissipels die berg af, na die lewe toe stap:

Die eerste tree, Here,
loop ek agter U aan
en kyk mooi wat U doen.
U het nie mag gesoek nie,
nie rykdom
of byval nie.
U het mens geword
In die gestalte van een van die nederigstes,
misverstaan en verag.
Hulle het oor U die kop geskud,
hulle het agter die hand oor U gepraat.
Hulle het gesê U is gevaarlik
en U voor die regter gesleep.
Hulle het U geslaan en bespuug
en U doodgemaak.
My eer, Here,
is die kiem van die tweedrag
tussen my en die mense.
My trots is die kiem van haat.
Maar U kniel voor my en was my skoon
en maak my vry.
Daarom het God U verhef
en U as maatstaf gestel
vir alle mense.
Ek is nog maar aan die begin,
nog besig met die eerste tree.
Nou vrees ek vir my reputasie
en dat ek verag gaan word.
Neem my hierdie tree met U saam
Dat ek deur U vry kan word.
Here, U buig U voor my.
Ek buig
voor die geheimenis van u pad.

— deur Jorg Zink

 

Luister ook saam na hierdie lied, spesiaal geskryf deur Stephan Cloete en Heléne Burger, om saam Hemelvaart te vier.