Naleef-gedagte: God as Tuinier – die lewe as ’n tuin

“On the third day the friends of Christ, coming at day-break to the place, found the grave empty and the stone rolled away. In varying ways they realized the new wonder; the world had died in the night. What they were looking at was the first day of a new creation, with a new heaven and a new earth; and in the likeness of a gardener God walked again in the garden, not in the cool of the evening, but in the dawn.” G.K. Chesterton

Soms help dit om die groot komplekse te vereenvoudig tot ’n metafoor. Prentjies gee woorde aan die onverwoordbare. Dit maak ook ruimte vir deelname, vir weer en weer interpreteer en wonder en misterie. God as tuinier soos in die afgelope Sondag se teks is so ’n heerlike metafoor geskenk wat Johannes vir ons gee:

’n Paar dae voor sy kruisiging sê Jesus in Joh 12:24 “Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.” Op Goeie Vrydag word die Saad gesaai en Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam gebalsem en in doeke toegedraai en die Saad in ’n graf geplant “By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus begrawe…” (Joh 19:41-42)…in hierdie braakland van die lewe. Op Paassondag bring die tuin die eerste vrug van die nuwe lewe voort, soos Paulus Jesus se opstanding ook in 1 Kor 15:20 beskryf.

Die eerste saad wat deur God in die tuin van die opstanding gekweek is, het die Tuinier geword. Wanneer Maria Magdalena die lewende Jesus met die Tuinier verwar, was sy presies reg! ’n Kosbare misverstand! Jesus is nou die tuinier van nuwe lewe en kweek nuwe lewe in alles en almal. Die eerste Adam (’n versamelnaam vir die mens) was ook ‘n tuinier met ’n spesifieke opdrag — om die skepping te dien en op te pas (Gen 2:15).  Die mens (1ste Adam) verrinneweer die skepping tot ‘n verwaarloosde tuin vol gebrokenheid – leeggetap vir eie gewin en gerief. Die tweede Adam, soos Paulus vir Jesus op ’n keer noem (1 Kor 15:45), ontkiem en staan op as die Tuinier van nuwe lewe wat soos mosterdsaad opskiet en soos ’n Kosmos-veld versprei.

Ek is so dankbaar dat Jesus ’n Tuinier is en nie ’n kondukteur wat kaartjies vir ‘n treinrit na die hemel verkoop of kontroleer nie; nie ’n prokureur wat ons hopelose saak by ’n kwaai God moet verdedig nie; nie ’n bankier wat lenings maak wat jy moet terugbetaal teen enorme rente nie. Hy is ’n tuinier!!!

Tuinwerkers ken die morsigheid van organiese groei en dat lewe nie so winkelrak steriel is as wat godsdienstiges dit soms maak nie.

’n Tuinier weet dat groot, blink en mooi vrugte nie noodwendig geurig of voedsaam is nie.

’n Tuinier-God is gemaklik met stowwerigheid en met vuil, met verlepte blare en vrot vrugte – want dit het nes die gesnoeide takke die kompos-potensiaal van nuwe lewe in die volgende seisoen.

’n Tuinier ken seisoene en dat elke seisoen nodig is en dat jy nie lente-verwagtinge in die herfstyd behoort te hê nie.

’n Tuinier weet plante verskil, dat sekere plante in koelte groei en ander net in vol son.

’n Tuinier verkwalik nie ’n boom wat a.g.v eksterne omstandighede ’n slegte jaar beleef nie. Inteendeel Hy vertroetel, versorg en skuif selfs die plant.

’n Tuinier weet dat ’n olyfboom so bietjie swaarkry nodig het om ’n beter kwaliteit oes in te bring.

Hy weet selfs dat te veel goeie goed soos water en kompos allerande kwale en swamme kan veroorsaak.

Hy weet dat daar allerhande peste is wat bedreigend is en dat kits-gif nie noodwendig die oplossing is nie maar ’n goeie balans of simbiose tussen natuurlike elemente.

‘n Tuinier se werk is aards en intiem met hul hande in die humus.

’n Tuinier weet van rus, van geniet, van verras word en van vier!

’n Tuinier weet veral dat die beste voeding vir ’n tuin die gereelde voetspore van die Tuinier in die tuin is, dat ’n tuin ’n Tuinier nodig het.

Hierdie mymeringe het my laat wonder of ons nie dalk meer oor die leef van die opstanding by ’n tuinier as by ’n skrifgeleerde kan leer nie. Dalk sou so gesprek met ’n tuinier oor wat leer ons van die lewe, geloof en God in die tuin-metafoor dalk van groot waarde wees.


Na-leef teks

Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.Johannes 20:15-16

Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword. Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. — 1 Korintiërs 15:45


Na-leef vrae

  • As jy jou lewe vir ’n oomblik as ’n tuin verbeel – hoe sou jy die landskap en die seisoen waarin jy nou as tuin leef beskryf?
  • Hoe lyk jou lewe as tuin op die oomblik? Beskryf die tuin.
  • Wat sou jy op hierdie stadium as tuin vir die Tuinier wou sê of vra?