Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder.
.
Podcast: Download (7.1MB)
.Na-leef gedagte — Geseënd is dié wat huil (1)
Treur is treurige woord. Dit klink te abstrak, te stil, te onsintuiglik, te innerlik. Huil is ’n tragies tasbare woord. Dit is meestal sigbaar, hoorbaar, kan selfs geproe word. Wanneer jy iemand vashou wat huil kan jy die ontsteltenis fisies voel. Huil is lastig lyflik. Hierdie week wonder ek oor Jesus se onverwagse “Geseënd is die wat treur…” in die lig van al nege die saligspreuke en vertaal dan die gedagtes in korter poëtiese gedagtes…
Geseënd is dié wat huil
Geseënd is dié wat huil
wanneer die gewig van die lewe
deur hul skanse breek,
hul voorgee stroop
en die waarheid tot trane vloei —
want dit is hier waar ons onthou
ons was nooit bedoel
om die wêreld alleen te dra nie.
Geseënd is dié wat huil
oor wat verloor is —
’n geliefde stem wat stil geword het,
’n stoel wat leeg staan by die tafel,
’n lewe wat skielik verander het—
want rou is liefde
wat nêrens anders het om heen te gaan nie—
as om te besef hoe hul liefde jou gevind het nie.
Geseënd is dié wat huil,
wat weier dat die wêreld hul verhard.
In ’n tyd wat eis ’n rots-van-Gibraltar,
deurweek trane die hart,
tot vrugbare grond
wat nooit sal versteen nie.
Geseënd is dié wat huil
omdat hul ontsteld word
oor wat verkeerd is in die wêreld—
geweld waar daar vrede moet wees,
gierigheid waar daar genoeg moet wees.
Hul trane verlang na heelheid —
verbind hul aan ’n ander moontlikheid,
sleur hul mee tot geregtigheid .
Geseënd is dié wat huil
met die trane van ’n ander se seer.
Wanneer ander se trane
in jou hart loop lê
beweeg God se genade reeds,
omhelsend, verby alle twyfel heen.
Geseënd is dié wat huil
wanneer waarheid illusie deurbreek—
die stof afwas van
vensters van die siel—
dat ons helder kan sien
wat in ons gerief
vermy, geklee, vertroetel word.
Geseënd is dié wat huil
eerder as om terug te slaan;
wat in die middel, eerder as
aan ’n kant, gaan staan;
wat vrede se ewigheidspas bo
kits kunsmatige wraak verkies.
Hul trane hou beide die pole vas,
skilder waterwerf landskappe
wat die verbeelding van almal verras.
Geseënd is dié wat huil
omdat hul ten koste van hulself
probeer om reg te doen —
want trane troos teleurstelling,
voed verlange,
vloei tot ‘n volgende tree
op die pad wat lewe gee.
Geseënd is dié wat huil
wanneer hul liefdesoffer misbruik word
want hulle sal onthou—
liefde se krag,
liefde se vreugde,
liefde se lewe,
leef in die gee.
Geseënd is dié wat huil —
want hulle sal ontdek, onthou, glo
in ’n God wat huil
oor ’n wêreld wat verward is
oor wat seën werklik is.
Mag jou elke traan
in die lewegewende stroom
van God se trane drup.
Mag jou elke sug
uitnooi na inasem
van ’n Gees-deurweekte lewe.
Al is dit snikkend.
Na-leef teks
Johannes 11:35-36 – by Lasarus se graf
Jesus het gehuil.
Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”Lukas 19:41-42
Toe Jesus nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.”
Na-leef vraag
- Met of sonder trane: Waaroor huil jy? / Waaroor sou jy wou huil?
- Hoekom huil/sug jy hieroor?
- Ek vra dié vraag versigtig, nie met een of ander onsensitiewe oplossing in gedagte nie: Veronderstel hierdie trane het ’n versteekte wysheid, ’n waarde binne God se koninkryk wat nie noodwendig binne die wêreld waarbinne ons leef herken word nie – wat sou die wonder van hierdie trane dalk kon wees?


