Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder.
.
Podcast: Download (8.1MB)
.Na-leef gedagte — Gelukkig is jy wat huil…
Treur is treurige woord. Dit klink te abstrak, te stil, te onsintuiglik, te innerlik. Huil is ’n tragies tasbare woord. Dit is meestal sigbaar, hoorbaar, kan selfs geproe word. Wanneer jy iemand vashou wat huil kan jy die ontsteltenis fisies voel. Huil is lastig lyflik. Hierdie week wonder ek oor Jesus se onverwagse “Geseënd is die wat treur…” in die lig van huil en vertaal dan die gedagtes in korter poëtiese gedagtes…
Gelukkig is jy wat huil
Gelukkig is jy wat huil
want jou siel is nie verdor nie.
Gelukkig is jy wat huil
want jou hart is nie versteen nie.
Gelukkig is jy wat huil
want jou lyf is nie verwyderd nie.
Gelukkig is jy wat huil
want jou trane verklap
jou menslikheid,
jou afhanklikheid,
ons nog maar oppad wees.
Gelukkig is jy wat huil
met trane, of net ’n sug,
want jy ontdek weer
jou eie weerloosheid,
jou klein,
afhanklik,
kind wees.
Gelukkig is jy wat huil
want jou trane ontbloot
wat vir jou belangrik is.
Gelukkig is jy wat huil
want jou trane dwing jou verby
die oppervlak van jou bestaan.
Gelukkig is jy wat huil
want jou trane stop jou geskarrel,
vra jou om hier te wees,
verlos jou van ontvlugting.
Gelukkig is jy wat huil
oor ’n geliefde se dood,
want hul lewe het gewig gehad,
jou hart bewoon,
meer as net
jou sintuie geraak.
Julle was die rare wonder
van geliefdes-van-mekaar.
Gelukkig is jy wat huil
oor ander se seer,
want hulle dra dit nie alleen nie.
Gelukkig is jy wat huil
oor ’n gebroke werklikheid,
want jy behoort
aan ’n groter heelheid:
’n geloof in goedheid,
’n hoop op herstel,
’n liefde vir skoonheid.
Gelukkig is jy wat huil
want jou trane verlos jou
van die greep van tydelikheid.
Gelukkig is jy wat huil
want jy sal kan glo
in ’n God wat huil —
’n God met ’n hart,
’n teenwoordige God,
’n God wat saam treur,
’n God wat hoop.
Gelukkig is jy wat saam met ander kan huil,
want jy sal ook saam met hulle lag,
saam met hulle vier.
Gelukkig is jy
wanneer jy erken —
dit is swaar om te huil.
Want diep in ons almal
woon ’n verlange
na ’n wêreld
waar trane net
lagtrane of
trane van verwondering is.
Na-leef teksJohannes 11:35-36 – by Lasarus se graf
Jesus het gehuil.
Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”Lukas 19:41-42
Toe Jesus nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.”Na-leef vraag
-
Met of sonder trane: Waaroor huil jy? / Waaroor sou jy wou huil?
-
Hoekom huil/sug jy hieroor?
-
Ek vra dié vraag versigtig, nie met een of ander onsensitiewe oplossing in gedagte nie: Veronderstel hierdie trane het ’n versteekte wysheid, ’n waarde binne God se koninkryk wat nie noodwendig binne die wêreld waarbinne ons leef herken word nie – wat sou die wonder van hierdie trane dalk kon wees?


