Naleef-gedagte: Veeltalig
Die parmantige Samaritaan het meer as my wonde versorg
“Wie is my naaste?”, vra jy.
Verbeel jou jy lê langs die pad na ’n motor-kaping. Daar’s nie ’n mens in sig nie. Jou lewe voel of dit aan ’n draadjie hang soos jy sukkel om jou bewussyn te behou.
’n Priester ploeter op sy poegie verby. Hy beduie dat hy vanweë jul gedeelde geloof se reinheidsreëls, nie nou vir jou kan help nie. Hy is boonop oppad na die oggenddiens.
Kort op sy hakke kom ‘n Leviet, deel van die oggend se worship-team, met sy kitaar oor die skouer daar verby. Hy beduie dat hy nie kan help nie want hy het die vreeslike geestelike verantwoordelikheid om mense te help om God se naam groot te maak.
Jy voel hoe die lewe (én jou geloof) stadig uit jou uit dreineer.
Onverwags, sonder dat jy hom raaksien, is daar skielik ’n Samaritaan wat langs jou kniel. Hy vra, bewus van jou kultuur se haat vir mense soos hy, “Kan ek jou maar help?”
Wat sal jy sê? Kan hy maar aan jou raak? Jou mond-tot-mond asem gee? Jou hart masseer? Jou lewe red? Jou na sy huis toe neem om te versorg?
Óf gaan jy sê “Oor my dooie liggaam!”, en gevolglik jou laaste asem uitblaas?
Natuurlik sal jy doodsbenoud enige iemand se hulp aanvaar! Jy het pas, soos die Jood in Jesus se gelykenis, jou naaste ontdek.
En dan ontdek jy tot jou skaamte dat die Samaritaan jou leer dat “hulle” soveel anders is as wat jou kultuur hom wil afmaak: Hy stel homself in gevaar, hy maak sy lewe ongerieflik, hy kan dalk deur sy eie mense verwerp word én hy sal boonop vir jou herstelproses betaal.
Die Samaritaan red nie net jou fisiese lewe nie – hy red jou van ’n eendimensionele lewe.
In die taal van God se koninkryk is jou naaste nie maar net ‘n objek wat jy soos ’n wet of verpligting móét lief hê nie. Jou naaste word die een wat jou lewe in soveel opsigte red. Ons sien die lewe, asof deur ’n sleutelgaatjie, en probeer om die tiental ander te oortuig dat die lewe soos my sleutelgat-uitsig daarop lyk. Die Samaritane in my lewe, wanneer ek hulle toelaat om naby aan my te kom, om my leermeesters te wees, bevry my van my eenogigheid oor die lewe.
Wanneer jy die braille van die spoor van God se koninkryk volg, ontdek jy hoe Jesus die heeltyd oor allerande taal-grense beweeg. Die taal van kulturele-diversiteit, inkomste-groepe, magsposisie, geleerdheid, bekwaamheid…Dit is asof hy die grys selfopgelegde inperking waarin mense hulself beperk die heeltyd kom afstof met spatsels kleur en ons ontdek die taal van God se koninkryk is veeltalig.
“The single story creates stereotypes, and the problem with stereotypes is not that they are untrue, but that they are incomplete. They make one story become the only story.” uit TED-talk “The danger of a single story” van Chimamanda Ngozi Adichie
Na-leef teks
“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”Jesus se vraag na Hy die gelykenis van die Samaritaan vertel het (Lukas 10:36)
Na-leef vrae
- Kan jy jou eie sleutelgat-perspektief op die lewe herken? Gee dit ’n lekker speelse naam.
- Wie is die spreekwoordelike Samaritaan in jou lewe wat jy op ’n afstand hou? Waarvan kan hy/sy jou dalk verlos of vir jou leer?
- Hoe gaan jy nader aan die Samaritaan kom? Moenie wag vir ’n ongeluk nie, kies doelbewus ’n sekere plek/tyd.

