Na-leef Gedagte: Die Geskenk van Verkeerd Wees
*Vir ons werkswinkel “Becoming human” wat Helene Smit aanbied, luister ek ter voorbereiding na Kathryn Schulz se TED-praatjie “On Being Wrong”. Hierdie is ’n gesprek met van haar gedagtes.
“Map out your future – but do it in pencil.” — Jon Bon Jovi
“Everybody makes mistakes, that’s why they put erasers on pencils.” — Tommy Lasorda
Ek weet nie van jou nie, maar soms is dit heerlik om verkeerd te wees — oor my voorspelling van slegte weer, oor sportuitslae en veral om verkeerd te wees oor mense van wie ek die slegste/minste verwag het…maar dít is seker die som-totaal van my positiewe reaksie op verkeerd wees.
Daar is min dinge wat ons so hard probeer vermy soos om verkeerd te wees. Min dinge wat soveel angs en skaamte in ons los maak. Ons verdedig ons standpunte, argumenteer oor ons oortuigings en hou vas aan ons sekerhede. Tog vra Kathryn Schulz insiggewende vrae: “What if being wrong is not the problem? What if the problem is that we believe we should always be right?”
Ons verwag in die opvoedkundige raamwerke van die lewe dat daar ruimte vir “verkeerd wees” behoort te wees – dat daar selfs ’n gemaklikheid met “verkeerd wees” behoort te wees: Verkeerd wees moet asb nie kinders en studente se selfbeeld, nuuskierigheid en soeke demp nie. Die Joodse geloof moedig selfs kinders aan om soveel as moontlik Gods-vrae, geloofsvrae en lewensvrae te vra as wat hulle kan.
Erens langs die pad van die lewe het ons hierdie onuitgesproke verwagting van onsself en ander om vanaf ’n sekere ouderdom groot, afgehandel, nie-meer-verkeerd te wees nie. Gevolglik klou ons soos ’n neet aan ons opinie, sekerhede en gedagtes – want ons glo reg wees, weet, sekerheid word van ons verwag. Ons verloor mettertyd die vae moontlikheid dat ons dalk verkeerd kan wees of selfs nog altyd was.
Kathryn Schulz deel die verrassende gedagte: “The feeling of being wrong is indistinguishable from the feeling of being right.” Dit gaan oor hoe ons agterna voel; self-voldaan en in-beheer of skaam en verleë. Ons maak nie foute omdat ons opsetlik dwaal nie; ons maak foute omdat ons opreg glo dat ons die waarheid sien. Daarom voel dit dikwels so ontwrigtend wanneer ons ontdek dat ons verkeerd was. Dit raak nie net ons denke nie; dit raak ons identiteit, ons trots en ons behoefte aan sekerheid. Maar dalk lê daar ‘n geskenk in hierdie ontwrigting.
Schulz herinner ons dat verkeerd wees nie ‘n uitsondering op die menslike ervaring is nie. Sy skryf: “Error is not a separate category of experience. We spend our whole lives oscillating between wrongness and rightness as surely as we alternate between sleeping and waking.” Om verkeerd te wees is dus nie ‘n teken van mislukking nie; dit is volledig deel van wat dit beteken om mens te wees. Ek sou dus wou sê: “Maak vrede daarmee, om verkeerd te wees is nie verkeerd nie!!!!”
Wanneer ons dit aanvaar, gebeur iets merkwaardig. Ons raak minder verdedigend en meer nuuskierig. Minder geslote en meer oop. Ons luister beter. Ons word leerbaar. Ons word oop vir die moontlikheid dat God, ander mense en die lewe self nog iets nuuts vir ons kan leer of wys.
Dalk is dit waarom enige groei, veral geloofsgroei, so dikwels met ontwrigting begin. Die Bybel is vol verhale van mense wat ontdek dat hulle verstaan van God te klein was. Abraham moes sy bekende wêreld verlaat. Jona moes leer dat God se genade groter is as sy eie vooroordele. Petrus moes ontdek dat God mense insluit wat Petrus nog altyd uitgesluit het. Elke keer moes ou sekerhede plek maak vir ‘n groter werklikheid.
Transformasie kom meestal nie wanneer ons nuwe idees ontdek of bedink nie, maar wanneer die lewe ons bestaande idees uitgedaag en verruim word. Miskien is dit waarom nederigheid so ‘n belangrike geloofswaarde is. Nederigheid beteken nie om minder van onsself te dink nie; dit beteken om ruimte te laat vir die moontlikheid dat ons nie die hele prentjie sien nie. Dit is die bereidheid om verras te word deur God.
Die volgende keer wanneer jy ontdek dat jy verkeerd was, probeer om nie net die ongemak daarvan raak te sien nie. Vier dit! “Excellent mistakes!”, noem iemand dit. Let ook op die uitnodiging daarin. Want soms is die oomblik waarin een van ons sekerhede verbrokkel, presies die oomblik waarin God besig is om ons wêreld te verruim. Baie van die wêreld se nuttigste uitvindings—soos penisillien, kleefnotas (Post-it Notes), en selfs chocolate-chip-koekies—is gebore uit eksperimentele foute. Hierdie “gelukkige ongelukke” bewys dat mislukking dikwels die beginpunt van briljante ontdekkings en innovasie kan wees. Dalk moet ons nie in ink glo en praat nie maar in potlood. Jesus sê meer as een maal “Daar staan geskrywe…maar ek sê vir julle…” In kort, “Julle dink verkeerd hieroor, dink so daaroor…”
Na-leef Vers
Spreuke 3:5–6
“Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”1 Korintiërs 13:12
“Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”Na-leef Vrae
1.Waar het ek onlangs ontdek dat ek verkeerd was, en wat het ek deur daardie ervaring geleer?
2.Watter oortuiging, aanname of sekerheid hou ek tans so styf vas dat dit moontlik nuwe groei of insig verhinder?
3.Hoe sou my verhouding met God en ander mense verander as ek meer gereeld met nuuskierigheid eerder as met sekerheid luister?
* Met erkenning aan Kathryn Schulz se TED-praatjie “On Being Wrong” [https://www.ted.com/talks/kathryn_schulz_on_being_wrong] en haar boek Being Wrong: Adventures in the Margin of Error.

