Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder.
.

Play
.

Na-leef gedagte: As-Woensdag — ’n off-beat ritueel
deur Pieter Roeloffse

“Jesus is an alternative to the dominant ways of the world,  not a supplement to them.”  Eugene Peterson

Elke jaar doen die kerk iets vreemd. Ons neem die oorblyfsels van verlede jaar se Palmsondag — die takke waarmee ons “Hosanna!” gesing het — en ons verbrand dit. Die takke wat eens tekens van oorwinning en hoop was, word as. En met daardie as begin ons Lydenstyd. Dit is nie toevallig nie. Dit is teologies briljant.

Die ironie van die skare

Op Palmsondag stap Jesus Jerusalem binne. Die skare waai palmtakke. Hulle roep “Hosanna! “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” (Matt 21:1-11, Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19) Hulle verwag ’n Messias wat hul vyande sal oorwin, die regte mag sal herstel, die regte koninkryk sal vestig.

’n Paar dae later is daar weer ’n skare. En hulle roep: “Kruisig Hom! Kruisig Hom.” (Matt 27:15-26, Mark. 15:6-15; Luk. 23:13-25; Joh. 18:39 – 19:16)  Dieselfde stad. Dieselfde fees. Waarskynlik meeste van dieselfde mense. Wat het verander?

Jesus het nie by hulle script ingepas nie. Hy het nie mag oorgeneem soos hulle verwag het nie. Hy het nie Rome omver gewerp soos hulle verwag het nie. Hy het nie die soort oorwinning gebring wat hulle wou hê nie. En toe Hy nie inpas by hul verwagtinge nie, draai die skare. Ons is nader aan die skare as wat ons dink.

As-Woensdag begin met “Onthou jy is stof” en ’n as-kruis merk op jou voorkop of pols. Hoekom?

Omdat ons ook palmtakke dra — ons eie verwagtinge het van hoe God moet werk; hoe verlossing moet lyk. Ons eie planne van die mooi en goeie lewe het. Ons juig maklik vir ’n Jesus wat óns drome bevestig. Maar ’n Jesus wat selfopoffering vra? ’n Koning wat op ’n donkie ry? ’n God wat alle mense liefhet? ’n Messias wat leer en leef “sterf van jou ekkigheid dan kom daar nuwe lewe”? Dis net té anders, té vreemd, té ongemaklik. Die as van Palmsondag-takke herinner ons: selfs ons aanbidding kan soms besoedel wees (vgl. Miga 6:6-8; Amos 5:21-24).

’n Heilige onderbreking

Wanneer die palmtakke verbrand word, word triomf in stof verander. Dit nooi ons: Moenie hoop op jou eie namaaksel van God en jou eie weergawe van oorwinning nie.

As-Woensdag help ons om eerlik te word oor iets diep in ons harte — ons wil graag hê God moet ons idees, oortuigings en storie versterk — nie dit herskryf nie. Maar Jesus kom nie om ons storie te verbeter nie. Hy kom om ’n ander een te gee: ’n Storie waar die eerste laaste is. Waar mag lyk soos diens. Waar oorwinning deur selfopoffering kom. Waar lewe deur die dood breek.

Wanneer die as op ons voorkop in die vorm van ’n kruis geteken word, hou dit Palmsondag en Goeie Vrydag saam. Dit sê: Moenie te vinnig juig nie. Moenie te vinnig veroordeel nie. Moenie dink jy staan buite die skare nie.

Dit nooi ons om ons afhanklikheid te erken. Te erken dat God en Sy manier anders is as wat ons graag sou verkies. Te onthou dat God en Sy anderster manier verlossing, vryheid, lewe gee — vir alles en almal!

As-Woensdag vra nie: Is jy opgewonde oor Jesus? nie. Dit vra: Sal jy Hom volg wanneer Hy nie in jou verwagtinge pas nie? Sal jy Hom vertrou wanneer Hy nie jou vyande veroordeel nie? Sal jy leer om ’n ander soort oorwinning lief te hê?

Van palmtak tot as — van triomf tot waarheid — van skare tot dissipel

Mag hierdie As-Woensdag en Lydenstyd ons help om nie net mense te wees wat “Hosanna!” roep wanneer dit maklik is nie, maar mense wat gevorm word deur die kruis.

Na-leef teks:

22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin,  24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.” 1 Korintiërs 1:22-25

Na-leef vrae

  • Kan jy dit in jouself raaksien hoe jy soms Jesus en Sy weg, soos die skare, wil verander om by jou agenda en idees in te pas?
  • Watter deel van Jesus se “Neem jou kruis op en volg my.” Is vir jou moeilik?
  • Hoe sal jy dit eerlik in ’n kaalvoet-gebed verwoord?