deur Pieter Roeloffse

Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse.
.

Play
.

As kind, onthou ek, was daar ’n liedjie wat dikwels gespeel is: “My nooi is in ’n nartjie, my ouma is in kaneel, daar’s iemand…iemand in anys – daar’s ’n vrou in elke geur.” Hierdie geur-geheue-ervarings roep sekerlik ’n hele karakter, belewenis en emosie by die skrywer op. André se gedagtes oor die antieke kontoerlyn van verhouding, met die klem op “God is ’n verhoudingswese” [ luister of kyk die preek hier as jy dit misgeloop het ] my laat wonder oor al die verhoudings deur die loop van my lewe. Oor my geur-geheue van mense in my lewe:

Daar is ’n lavender ontvlugting…stof-grondspore…’n na-reën stoepsit…
Daar’s ’n twak-sak stilte…’n four-seven-eleven omhelsing…’n skaapboud tafel…
Daar’s ’n koffie-moer-verwelkoming…basilie-oes geselsies…’n tanniene ode…
Daar’s ’n speelsheid Pleasures, rooi-aas drome, ’n perde-salf troos…

…en ek sou vir baie lank nog só kon aanhou met hierdie nostalgiese geur-geheue koester oefening van talle verhoudings deur die jare.

’n Volgende tree vanuit die kontoerlyn van verhouding beweeg my om te wonder: Wat het ek van God en Sy beweging by hierdie geur-geheue-mense in my lewe geleer? Wanneer Pierre du Plessis in sy boek “Jesus ruik na mirre en stof” skryf “Die reuke van ons wêreld het aan Hom afgesmeer en Sy heilige reuk uiteindelik aan ons…” dan wonder ek oor God se openbaringe deur al hierdie geur-geheue-mense in my lewe:

Sabbat was ’n méns, lank voor dit ’n dag of ’n opdrag of ’n wysheid vir my was.

Genade was ’n kattekwaad-vryspraak by die Buurvrou voor dit ’n eienskap van God was, wat Ds. O’Reilly vir my verduidelik het, en Oom Deon deurlopend beliggaam het.

Liefde was besoedel deur ’n duisend Hollywoodstemme – maar verlos, ontdek, geleer en probeer in ’n gallery vol diverse verhoudings.

Weerloosheid is groter as perfeksie ontdek ek by Mnr Du Preez, sonder dat hy een van daardie begrippe gebruik het. Getrouheid by Janes. Integriteit by Karel. Dat ’n groot mens se uit-jou-maag-uit-lag heilig is, leer oom Jannie my. Dat huil onkeerbaar én gesond is by soveel mede-rouers. Dat al is ubuntu nie ’n politieke werklikheid nie, is dit steeds waar in my Xhosa kollegas en vriende se buurte.

Ek sou so moeilik kon vertrou in ’n Godheid wat nie rus en vier en geniet nie; ’n God wat nie weerloos kan wees nie; nie kan vergewe of genade kon hê nie; wat nie liefde ken nie; nie getrou is nie; nie integriteit het nie; wat nie lag of huil nie; of wat nie t.w.v iets groter as Homself bestaan nie. Lank voor dit Bybeltekste en -gebeure vir my was, is dit by mense wat ek hierdie wonders van die lewe en van God ontdek het. Was die mens-ervarings dalk juis die manier waarop God my jare lank voorberei het om Sy beweging, Sy karakter, Sy lewegewende-aard te herken. Was dit hierdie menslike verhouding ervarings wat my so aangetrokke gemaak het tot Jesus, as God in lewende lywe.

Sou jy deur jou verhoudings stap, soos deur ’n kunsgallery, dan wonder ek wat is dit wat jy sou raaksien? Wat is God besig om oor Homself, die lewe, menswees, geloof en oor jouself aan jou te openbaar – juis deur die kunsmedium van jou verhoudings? En as jy hierdie beginsel gaan probeer na-leef, moet asb nie soos ek verstrengel raak in romantiese idees nie. Dit is juis in die alledaagse, in die frustrasie, die misverstand, die eenvoud, die kleine, die roetine, die stil saam-wees (die fluistering-in-die-windstilte) wat ons die wonders ontdek en nie net in die ekstase en trauma ervarings (wind, aardbewing en vuur) in ons verhoudings nie. Dit is die heilige alledaagse in ons verhoudings wat ons geloof uit die bubblewrap van geestelike-perfeksie kom haal, ons nederig maak, God-met-ons openbaar. En dit is waar die Woord weer lewend word. Al is dit is morsig, soos meeste kuns-ateljees, is dít waar die kuns en verwondering geskep word.

Mag jou geloofsoog al meer geoefen word om God se beweging in jou verhoudings te herken en mag hierdie verhoudings jou help in jou lag, eet, speel, stoei, gesels…met God.

NA-LEEF tekste:

“Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan.” 1 Konings 19:11-13

“Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen……….Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” Matteus 25:40 & 45

NA-LEEF vraag:

Probeer in elke interaksie en verhouding in jou lewe vra: Wat op dees aarde is God besig om aan my te bekend te maak?