’n Nuwe gesig op die SG-span

SG het ontstaan vanuit die AGS-gemeente op Stellenbosch, wat teen die einde van die vorige millenium ’n klein aantal lidmate gehad het. ’n Span gemeenteleiers het, onder leiding van Theo Geyser, ’n nuwe visie vir hierdie gemeente gedroom en geleef, wat gelei het tot die ontstaan van SG. In 2000 word Heinrich Dry beroep as mede-leraar, met die oog op bediening aan jong werkendes en studente. .

Fast forward – soos ons sê – so 25  jaar, en Heinrich en sy gesin is al vir vyf jaar weer terug in Stellenbosch. In die afgelope kwarteeu het Heinrich verskeie gemeentes binne die Doxa Deo netwerk gelei, heelwat gemeentes geplant dwarsoor SA, en algaande sy roeping uitgebrei om as mentor / konsultant by gemeentes betrokke te raak en hul te ondersteun in die ontsluiting van hul visie, waardes en strategie.

My en Heinrich se paaie het so twee jaar gelede weer gekruis, en sedertdien kuier ons van tyd tot tyd saam, waar ons praat oor alles en nog wat. Die gesprekke het gelei tot die oorweging om Heinrich deel te maak van SG se bedieningspan. Die Bestuur en Gemeenteraad se onderskeiding het gelei tot ’n bevestiging van hierdie oorweging. Heinrich is tans deeltyds betrokke by ’n gemeente in Worcester, asook een in Swellendam. Dit bied aan hom die kapasiteit om ook deeltyds by SG betrokke te wees, en sy roeping met ons visie te verweef. Die ondersteuning van finansvennote maak Heinrich se bediening moontlik, en daarom gaan SG geen finansiële verpligting teenoor hom hê nie.

Jy kan sekerlik waardeer wat ’n geskenk dit vir SG is om toegang te kry tot Heinrich se ondervinding en kapasiteit van bediening en leierskap, en dít sonder dat dit ’n impak het op ons uitgawe begroting. Ons is dankbaar vir die geleentheid om minstens vir die volgende jaar saam met Heinrich te bedien.

Heinrich gaan uit die aard van die saak saam met die leierspan ook SG se visie en strategie vashou. Hy gaan in besonder rigting gee aan ons strategiese inisiatief om SG se studentbediening (en waarskynlik daarmee saam ons aanddiens) te laat herleef. Hy gaan ook deel in die prediking en pastorale sorg van ons community. 

Kom ontmoet eerskomende Sondag vir Heinrich, en kom deel ook in die diens wat hy op 1 Februarie gaan lei. Ons glo julle deel in ons dankbaarheid, en dat julle saam sal bid dat hierdie vennootskap ’n seën sal wees vir Heinrich, sy gesin en SG.

Groete
André  (namens die leierspan)