saam met Pieter Roeloffse
Romans 12 (MSG)Embracing what God does for you is the best thing you can do for him. Don’t become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God. You’ll be changed from the inside out.
Spreuke 1:7
Wysheid begin met ontsag vir God…
Na-leef gedagte: Agtergrondmusiek…en die klop van my hart
Daar is ’n hele wetenskap oor agtergrondmusiek — jy ken dit, daardie musiek wat inkopie-sentrums of kettingwinkels speel wat jou laat voel jy móét hierdie dingetjie koop want jy skuld dit vir jouself. In ’n artikel wat winkeleienaars tot agtergrondmusiek wil bekeer, lees ek “Music is a key element in a store’s retail mix: The right music has the potential to put people in the right mood, (re)define the brand’s image, attract customers and increase sales opportunities and revenue.”
As jy sukkel om te glo dat agtergrondmusiek so groot effek in die lewe kan hê, probeer gerus die volgende twee eksperimente:
- Soek Leon Schuster se “Hie’ kom die bokke” album op Spotify/Apple, steek ’n kersie aan en dan speel jy dit vir jou vrou as die inleiding tot ’n heerlike romantiese aand. Ek kan snit nr 5 aanbeveel. Dit is daai roerende tribute aan Doc Craven. Moet net nie snit 8 “Hippo in a scrum” speel nie — dan gaan jy die aand verongeluk.
- Nooi Saterdag jou vriende om die Stormers en Sharks se rugby by jou te kom kyk. So entjie voor die afskop beveel ek ’n lekker vuurtjie, ’n koue bier en Diana Krall se album “The look of love” aan. Veral snit 5 se “Besame Mucho” sal die manne in die regte gees kry vir die stryd. As hulle nie daarvan hou nie, probeer panfluit musiek, dit verrig wondere vir spangees!
Hopelik help die belaglike satire jou om in te koop by die waarde van die régte agtergrondmusiek. Sommige mense speel sekere agtergrondmusiek om aan die slaap te raak, ander om te studeer, party om mense te laat ontspan by ’n spa. Sekere musiek werk vir sekere uitkomste. “Another one bites the dust”, sal bv. nie in ’n tandarts-spreekkamer werk nie, waar dis dalk wel ’n goeie deuntjie vir ’n gifsmous se telefoon-antwoord-diens. Agtergrondmusiek het dus ‘n effek en is daarom baie belangrik.
My bekommernis en gewaarwording lê egter nog dieper: Dit voel soms vir my asof die Ritme wat eintlik ons hartklop soos ’n pasaangeër moet beïnvloed, al meer na die agtergrond geskuif word. God en Sy Ritme het agtergrondmusiek geword in die mall van die hart. Sommige mense kies God om hulle te help om aan die slaap te raak, ander om te kan ontspan, ander om ’n paar goedjies te leer, sekeres om spanning te verlig of selfs vir sommige om hulle te oortuig dat hulle maar mag shop wat hul hart begeer want God beplan tog vir ons voorspoed!
Ek voel soms soos ’n rebelse tiener wat die winkelbestuur van ons kultuur wil oorrompel en die agtergrondmusiekkamer wil inbreek en die musiek en die ritme en die volume wil verander! Maar ek weet die slapendes en die onspannendes en die getroosdes met hul spense vol voorspoedsgeskenke sal my kruisig buite die stad terwyl hul spykers inslaan op die maat van hul verpandte hart “I did it my way”.
Ek hoor ’n ritme in God se musiek wat jy net kan hoor as jy dit klip hard, verby die gerief van agtergrondmusiek, draai. Hierdie ritme voer jou hele lewe mee. Dit beweeg jou politiek, jou werksetiek, jou opvoeding, jou liefdes, jou begeertes, jou praat, jou daad, jou rus en jou raad tot ’n dans wat aansteeklik is…wat nie uitgedoof kan word nie…selfs nie al druk hulle die kruis-mute-knoppie nie.
Die vreemdste is dat hierdie musiek nie soos die skreeuende-katslag-snare van protes- musiek klink nie, dit is veel eerder soos ’n oer oue dreunsang ritme wat uit die aarde vibreer, in pas met die natuur en met rus en met lag en met speel en met kweek en met wag en met stories en met eet en met verwelkom en omhels.
Mag jy dié vreemde musiek hoor en dit uit die agtergrond van jou lewe bevry sodat jy daarvolgens kan dans in alles wat jy doen.
NS – Jammer as die musiek te hard was!
Groete en vrede,
Pieter
Na-leef teks: Psalm 19:2-5
2Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ‘n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Na-leef vraag:
Daar is in die skepping ’n konstante agtergrondmusiek van God se beweging. Waar in die skepping ervaar of hoor jy iets van hierdie woordlose wonder van God? Hoe kan jy meer gereeld nader aan daardie plek van verwondering kom?

