Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 02/08/2021

Scroll to top

Top

Gemeentestories | Oor konneksie

Gemeentestories | Oor konneksie

Die Here weet presies wie ons is, waarmee ons goed is en waar Hy ons kan gebruik. Ek ontmoet vir die eerste keer vir Charlene Nieuwoudt by die vroue-oggend van 29 Mei. Die groepie saamkuier vroue het almal iets kreatiefs saamgebring waaraan hulle wil werk en wat reeds lankal moes klaar kom. Dit is so lekker om te hoor hoe Charlene gesels en idees uitruil terwyl sy haar serp klaar brei.

Sy sê sy is nie ‘n uitgesproke kunstenaar nie, sy is eintlik ‘n kunstenaar van woorde wat ook lief is vir ander kreatiewe dinge. Maar dit is nou reeds ‘n paar jaar waarin sy haar vermoë, om ander te leer van kreatiwiteit, afskeep. Dit is veel makliker om te skuil agter die verskoning dat sy voldag werk.
Charlene vertel hoe sy in een van die SG dienste gehoor het oor geleenthede vir konneksie met ander, waar sy ook haar gawes kon gee. Sy het gedink dit sal uiteindelik haar geleentheid wees om weer kreatiewe programme vir ander aan te bied.

Maar toe gebruik die Here haar anders as wat sy gedink het. Hy het ‘n spesifieke tydgleuf op ‘n Donderdagmiddag, vir haar beskikbaarheid, persoonlikheid en talent vir kreatief wees met woorde, ingedagte gehad. Sy moes vir meisies, tussen die ouderdom van tien en veertien jaar, Engels leer by die Green Door projek in Jamestown. Sy sê sy het gewonder waarom sy dan nie iets meer kreatiefs kan doen nie, sy het so baie om te gee. Tot sy besef het dat hierdie Donderdag-middag afspraak tot in die fynste besonderhede beplan is. God weet mos hoe sy daarvan hou om met meisies en vroue te werk. En Hy weet hoe goed sy daarmee is om taal op ‘n kreatiewe manier te ontsluit. Hy weet ook hoe mooi sy ‘n veilige spasie kan skep sodat ‘n jongmeisie wat nie praat nie, net saggies agter haar kan sit met haar hand op Charlene se rug. Vir konneksie.

‘n Paar weke later verteenwoordig sy die Green Door projek tydens ‘n kunsterapie werkswinkel by die Rupert Museum, en nou begin sy al hoe meer wonder oor verskillende vorme van kreatiewe terapie. Wie weet, miskien was haar besluit om weer kreatiwiteit te omarm die begin van ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe. Of, miskien was dit net sodat sy kan weet die Here ken haar hart en behoeftes en Hy sê dit is mooi en goed.

Sy kan maar net wees wie sy is, Hy sal haar gebruik op die regte plek en tyd.

Vir konneksie.

– deur Liesl Cronje –