Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 13/05/2021

Scroll to top

Top

2021…Waar begin ‘n mens

2021…Waar begin ‘n mens
deur Pieter Roeloffse
As kind het ek my ouers in ’n winkelsentrum in Johannesburg verloor. Hoe meer ek probeer om hulle te vind hoe meer verlore het ek gevoel en geraak. Elke angstige tree, nuwe vloer, nuwe roltrap en hysbak het my net al meer weg laat voel. In plaas van rustig wag daar waar ek besef het ek is weg, het my pogings tot gevind word my al verder laat wegraak. Wanneer jy verlore voel is die versoeking groot om angstig rond te skarrel in ’n poging om gevind te word.

Dit was nie die eerste keer wat ek as kind weggeraak het nie (jip ek het ook as volwassene al weggeraak!). Die volgende keer was by die Randse Paasskou. ’n Vreesaanjaende groter, meer diverse en chaotiese plek om by weg te raak. Die vorige wegraak het ons gesin gelukkig geleer om nie angstige skarrel treë van soek te gee nie. Daardie eerste weg raak het geboorte gegee aan ’n nuwe gesins ritueel by groot openbare, potensiële wegraak-plekke: by ons aankom het ons ’n hoë, groot, veilige baken gesoek en afgespreek dat as een van ons sou verdwaal (of wegraak) ons eenvoudig na daardie gedeelde vind-plek sou gaan en daar sou wag. Hierdie ritueel het nie die wegraak gekeer nie — net my (en verseker ook my ouers se) belewenis daarvan.

Meer as ander jare hang daai ou Maleisiese refrein “Dis ’n nuwe jaar ons is deurmekaar…” in my kop. Hierdie jaar is dit meer as die feestelike woorde van die Kaapse klopse. Dis regtig deurmekaar! Deurmekaar is hierdie jaar ’n emosie. ’n Dagboek. ’n Jaarbeplanning. Dis ’n remskoen. ’n Sug. ’n Irritasie! Hierdie deurmekaar voel soos ’n deurmekaar lessenaar wat oorspoel tot op elke ander tafel van my lewe. Dié “deurmekaar” is natuurlik alles net simptome van my behoefte om met meer beheer te begin as waar ek geeindig het. Om meer gevind te leef, met groter sekerheid. Sekerheid oor waar ek is, waarheen ek op pad is en hoe die volgende tree moet lyk.

Wanneer jou kompas die dieptes in sak en jou kaart in die wind weg waai, het jy in hierdie vloeibaarheid sekerlik die kalmte van ervaring nodig en hopelik kan jy onthou hoe om op te kyk en die oeroue rigting vanuit die sterre te lees. Hopelik weet jy in watter rigitng jou tuiskom se hawe is, en hopelik vertrou jy die groter vaste bane van sterre meer as jou instinktiewe rigting inslaan.

So waar begin mens as die begin plek na ’n verdwaalplek voel:
by die groter rigting;
by vaste bakens;
by die leerskool van vorige ervarings en;
dan probeer jy hopelik nie hierdie jaar as ’n alleen-vaart aanpak nie.

Laat weet ons asseblief as daar mis oor jou ster-kompas is, as jou vaste bakens uit sig is, of as hierdie vir jou na ’n alleenvaart voel. Ons soek graag saam met jou wat die groter rigting en die volgende tree in 2021 moet wees.

Groete,
Pieter