Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 23/02/2020

Scroll to top

Top

Waardes vir kinders – Moed/Dapperheid

Waardes vir kinders – Moed/Dapperheid

deur Deon Botha

Ek en my jongste lê op die trampoline toe ek hom vra: “Weet jy wat dit is om moed te hê?”

“Ja” kom die antwoord onmiddellik en hy sit ook sommer regop, “ons moed elke oggend ons tandeborsel en ons bed opmaak.” (Nie dat dit elke oggend gebeur nie…) Daarom slaan ek toe eerder oor na ‘dapperheid’.

Moed en dapperheid word meestal gedefinieer as heldhaftige optrede, maar tog is dit veel meer as dit. Moed ís wanneer jy iemand in gevaar red, maar dit is ook wanneer die seun wat die ongeluk in ‘n rolstoel sit en weer aan sport begin deelneem. Dit is ook die dogter wat haar spraakprobleem oorwin en met selfvertroue toesprake maak as nuwe hoofmeisie. “Moed is iets wat doodgewone mense in doodgewone plekke kan hê” (Jones 2009).

In sy boekie God se waardes vir die lewe gee Chris Jones ‘n paar teks-verwysings maar die een wat by my vassteek is Josua 1:1 – 9 waar God vir Josua as nuwe leier van die volk bemoedig. Gaan lees dit gerus, nadat ek dit gelees het het ek besef hoe ver my vertroue tekort skiet.

Om die regte ding te doen ten spyte daarvan dat jy bang is om dit te doen, dit verg moed. Chris skryf “moed is ‘n innerlike sterkte wat jou in staat stel om nie noodwendig die meerderheid te volg nie, om nee te kan sê en ander ook hierdeur positief te beïnvloed. Moed beteken om getrou aan sekere oortuigings te leef al sou dit ongewild en ongemaklik wees.”

Hoe kan ouers hierdie moedige taak aanvat?

• Kinders kyk na ons voorbeeld. Vertel vir jou kinders wanneer jy moed moet hê en ook hoe jou moedige optrede uitgedraai het. Hulle sien dan dan pappa en mamma ook soms skrikkerig is om iets te doen.
• Prys hulle wanneer hulle moed het. Vir my middelste is dit bloot om ander volwassenes in die oë te kyk wanneer hulle met hom gesels. Dit sluit ook in wanneer hulle eerlik is, mooi praat of vir boetie of sussie ‘n kompliment gee.
• Moed beteken nie om luidrugtig te wees nie. Jy kan op ‘n stil manier ook moed hê.
• Dit help baie as jy ‘n moeilike situasie wat voorlê met jou kind rolspel, bv. Iemand bied vir jou ‘n sigaret aan by die skool, hoe tree jy op? / Een van die seuns het ‘n tydskrif met prentjies van kaal vroue, wat doen jy as hy dit vir julle wys? Na so rolspel en gesprek het jou kind reeds geoefen hoe hy of sy dapper kan wees en sal hulle makliker staat wees om die regte ding te doen.

Geloof en moed leef nou saam. Om in God te vertrou en om Sy krag staat te maak haal oneindige druk van jou kind se skouers af. Help hulle om te ontdek wat die Bybel ons leer oor God se bystand en hulp.

– Deon Botha is Care & Community Bedieningsleier by SG

Bronne:
Jones, Chris 2009. God se waardes vir die lewe. Bybelkor: Wellington.