Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 20/04/2019

Scroll to top

Top

Waardes vir kinders – Eerlikheid

Waardes vir kinders – Eerlikheid

deur Deon Botha

 

Ek het myself uitgevang dat ek waardes van my kinders verwag wat ek self nie eens onder die knie het nie. So vra my middelste vir roomys na ete, “Daar is nie…” kom die antwoord soos ‘n refleks, maar dit is nie waar nie. Wat meer is, hy weet dit is nie waar nie. Daar is sekere reëls in ons huis; weeksaande = geen nagereg, behalwe by spesiale geleenthede. Hy weet dit, maar wil ‘n kans vat en kyk of hy my arm kan draai. Nou moet ek weer verduidelik hoekom ons nie elke aand kan nagereg eet nie, die suiker voor bedtyd, die ‘spesiaal’ wat nie meer spesiaal is as ons dit elke dag doen nie, ens. ens. ens. Ek is nie nou lus hiervoor nie, dus jok ek. (Lieg klink darem te hard.)

Net die volgende dag vra ek of sy huiswerk klaar is… “ja” kom die refleks. Later kyk ek of alles gedoen is en daal op hom neer omdat hy durf jok het…

Ralph Waldo Emerson som dit mooi op: “Oorsaak en gevolg… saad en vrug, kan nie geskei word nie; want die gevolg blom alreeds in die oorsaak, die end bestaan reeds in die begin en die vrug is in die saad.”

Ouers is dikwels die oorsaak van die kinders se gevolg (en ek sluit myself eerste in) deur te verwag dat kinders sekere waardes leef sonder dat dit vir hulle geleer word. Daar is honderde klein treëtjies wat geneem moet word voordat jou kind dit baasraak.

Eerlikheid
Chris Jones het ‘n wonderlike boekie geskryf (God se waardes vir die lewe – beskikbaar by Communitas @ R110 – sluit dvd in) oor hoe om waardes vir jou kinders aan te leer. Ek deel graag ‘n paar van die insigte uit sy boekie:

Volgens ‘n ondersoek wat in die laat twintigste eeu gedoen is, is bevind dat 97% van alle mense leuens vertel! Hoe leer ons kinders om eerlik te wees binne hierdie konteks? Die Engelse toneel- en romanskrywer John Lyly meen as mens eerlikheid verloor het, jy niks meer het om te verloor nie (Wiehahn 1999).

1. Eerlikheid word heel eerste in die ouerhuis moduleer. Wees altyd ten volle eerlik met jou kinders. Antwoord hulle vrae openhartig en eerlik. ‘Gerieflike’ leuens sink die skip van eerlikheid. Moenie oordryf nie en moenie dreig om iets te doen wat jy weet jy nie gaan doen nie.

2. Prys jou kinders wanneer hulle die waarheid praat of erken hulle leuens vertel het. Om te fokus om hulle uit te vang maak hulle net meer skelm. Wanneer jy vermoed hulle vertel ‘n leuen, stop hulle dadelik en vra hulle om eers mooi te dink voor hulle verder praat.

3. Wys kinders op die gevolge van eerlikheid en oneerlikheid. Gebruik voorbeelde in die alledaagse lewe, selfs op tv-programme waar leuens se negatiewe gevolge gesien word. Wys ook op die positiewe gevolge wanneer iemand eerlik is.

Wees kreatief in hoe jy jou kinders elke dag, treetjie vir treetjie leer om eerlik in alle omstandighede te wees. In die proses gaan ek ook die positiewe gevolge van eerlikheid, by myself en my kinders kan geniet.

Deon Botha is Care & Community Bedieningsleier by SG

Bronne:
Jones, Chris 2009. God se waardes vir die lewe. Bybelkor: Wellington.
Wiehahn, Nic 1999. Bakens langs die pad. Vereeniging: CUM