Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 12/12/2018

Scroll to top

Top

Van sukses na impak – Stephan Joubert

Van sukses na impak – Stephan Joubert

In ons dag draai vele se lewe om die groot S-woord… SUKSES! Sukses is gewoonlik sinoniem met geld, mag en besittings. Diegene met die meeste van hierdie dinge agter hulle name wen. Tot my teleurstelling het ek agtergekom my geloof het vir jare nie veel verander aan my najaag van dieselfde dinge as die res van moederaarde se bewoners nie. Tot my skok het ek besef dat ek geen ander agenda het as om dag en nag hard te werk om suksesvol te wees in dieselfde terme as die res van die mensdom nie. En dat my geluk ook maar grootliks gedefinieer word deur my “stuff”, en ons ongelukkigheid deur die afwesigheid hiervan.

Vir lank het ek het my lewe gemeet aan daardie drie “lang Y” dinge waaroor ek al elders geskryf het en waarvoor mense so ly, naamlik wat ons kry, wat ons ry en waar ons bly! Ry, kry en bly! Hoe meer van sulke lang-Y dinge jy agter jou naam het, hoe beter! Altans, dis die mite wat die Opposisie wêreldwyd smous. Hoekom het my geloof vir lank niks hieraan verander nie? Miskien is dit omdat hierdie sake nie op die radarskerm in die meeste preke, Bybelstudies of geestelike gesprekke was nie. Nooit het ek geleer om deur die regte geloofsbril na al my ambisies, planne en drome te kyk nie. Nooit was hierdie sake die mespunt van Christenskap in my omgewing nie. Alle gelowiges rondom my het maar lustig meegedoen en dinge agter hulle naam gesit. Godsdienstiges was veel meer bekommerd oor die aanslag van popmusiek op die jongmense. Of oor morele sondes. Of oor die “agteruitgang” van die land. Maar vrae rondom die vind van ’n Christelike identiteit was nie ’n groot gesprekspunt nie. Al wat ek hieroor geleer het is dat ek ’n sondaar, of soms ook ’n begenadigde sondaar is.

Die regte skuif is altyd vanaf sukses, wat gemeet word aan alles wat ek agter my naam het, na impak in God se koninkryk. Maar dan moet ek eers my identiteit in Christus ontdek. Dan moet ek dit omhels en uitleef. Die Here definieer impak nie in terme van aardse bates nie, maar in geestelike skatte. Vir Hom gaan dit daaroor dat ek my skatte in sy hemelse bank bêre, daar waar motte en roes nie verniel nie en diewe nie inbreek of steel nie. Impak gaan oor ’n lewe van toewyding en diens aan God en ander. Maar hierdie skatte het slegs waarde as dit daagliks uitgeleef word. Lewe in volheid gaan oor die uitleef van my nuwe identiteit in Christus.

Bron: eKerk Vrouenuusbrief –  http://blog.ekerk.org