Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 07/07/2020

Scroll to top

Top

Stories | Herfs

Stories | Herfs

deur André Serfontein

.

Musiek is vir my ’n poort na groter selfbewustheid. Musiek is gesalf met die vermoë om die emosies, gedagtes, woorde en ervarings wat – soos bokse in ’n kelder – op verskillende dieptes binne ons psige weggebêre is, weer na die oppervlak te bring. Dan kom ons agter wat ons regtig voel; wat ons tóg dink; wat eíntlik is ons lewens gebeur het en aan die gebeur is; en wat ons al die tyd wou sê maar nog nie kon nie. Soms kry hierdie  ontwakings ’n sensoriese pasmaat, wat dit ’n intense ervaring kan maak. Natuurlik is musiek nie die enigste poort nie; daar is baie ander gewoontes en rituele wat jou vanuit bewusteloosheid kan beweeg na bewustheid. 

Ek begin vermoed ons gaan rituele soos hierdie nodiger hê as ooit van tevore. Een van my mentors stuur ’n e-pos met ’n refleksie oor die uitdagings van Covid-19, waarin sy die volgende advies gee: 

Be receptive to the idea that there is a great deal more to your  experience than your current awareness of it.

As jy hierdie perspektief aanvaar, dan is groter selfbewustheid belangrik. Dis eintlik meer as belangrik; dis wesenlik, want dit omskryf die landskap waar jy jouself bevind. Wanneer jy nie hierdie plek ’n koördinaat kan gee nie, is enige reis in jou kop, hart, lyf of siel eintlik maar futiel. Geen bestemming kan bereik word indien jy vertrek vanaf ’n denkbeeldige plek nie, want jy het dan nooit werklik vertrek nie. En wat meer is; indien jy nie ís waar jy in werklikheid ís nie, dan is jy eenvoudig nie present vir jou eie lewe nie. In ’n tyd waar daar op ons innerlike landskap meer gebeur as wat ons besef, kan ’n gebrek aan bewustheid nogal wesenlike gevolge hê. Paulus vra: “Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is?” Is om uit voeling te wees met onsself, wonder ek, om uit voeling te  wees met God?

Musiek beweeg my nie net om bewus te word nie. Dit vul ook my siel met beauty, stilte, ontwrigtende vrae, kreatiewe verbeelding, en die perspektiewe van die stories wat sommige liedere vertel. Hierdie week dwaal my gedagtes na ’n lied wat ek regtig lanklaas gehoor het: Autumn leaves. Ek luister na die weergawe van Eva Cassidy, en die lied tref my. Dit handel oor die verlies van iemand vir die komponis lief was, en die lied verklaar herhaaldelik: 

But I miss you most of all my darling when autumn leaves start to fall. 

Ek raak daarvan bewus dat my siel met hierdie beeld resoneer. Terwyl ek hierdie woorde tik, sien ek hoe blare na die grond tuimel vanaf ’n akkerboom net buite die venster. Dit lyk so natuurlik. Maar dit voel skielik so gewigtig; soos drome wat uit die lug val. Ek ontdek dat verlies my innerlike landskap beset het – al vir ’n geruime tyd. Ek dink aan die enorme hoeveelheid verlies wat in die wêreld, ons land en in myself aan die gang is op die oomblik. Ek kom ook nie weg van die antisipasie van alles en almal wat die wêreld in die volgende paar weke en maande gaan moet prysgee nie; so seker as wat hierdie boom buite my venster al sy blare gaan verloor. Ek sien hoe my hele tuin vol blare lê, en ek besef: ek gaan in voeling moet kom met verlies. Herfs is my gunsteling seisoen, maar ek voel nie gereed vir hierdie een nie. 

Eva sing voort: 

Since you went away the days grow long 

and soon I’ll hear old winter’s song 

But I miss you most of all my darling 

when autumn leaves start to fall

Die winter is op pad, blaar vir blaar. Ek gaan die landskap van my siel moet voorberei indien ek wil wees waar ek is.