Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 18/11/2017

Scroll to top

Top

Springlewendig!

Springlewendig!

deur Deon Botha

 

Kinders het nodig om te aktief te wees. Dit is die heel beste manier vir hulle om te leer en te voel hoe die wêreld werk. Tydens oefening ontwikkel hulle motoriese vaardighede, verhoog hul metabolisme en versterk hulle hart, longe en spiere. Buiten fisieke voordele is ’n aktiewe lewenstyl natuurlik fantasties vir jou liggaam se metabolisme asook kapasiteit om dinge soos spanning en stres te kan hanteer. Niks hiervan is baanbreker deurbrake nie, maar hier is (wat ek dink) een van die blindekol in gesinne – ouers het dit nét so nodig indien nie meer nie. Nog ’n blindekol van holistiese gesondheid is dat ons liggaam die voertuig is waarmee ons God se liefde na hierdie wêreld uitleef en ’n gesonde liggaam maak dat ons dit soveel beter kan doen.

Jy dink dalk nou terug aan ’n lang-vergete nuwejaarsvoorneme en die super-fikse skuldgevoel wat gewoonlik so knap kan saamdraf. ’n Aktiewe leefstyl beteken nie noodwendig dat jy ’n gym-junkie hoef te wees nie. Daardie oefenpakkies word in elk geval net ontwerp vir ’n klein groepie van ons samelewing maar gedra deur so paar meer.

Oefening kan op baie lekker gemaklike maniere informeel in ons alledaagse lewe insyfer, ons hoef nie na die naaste gym te hol om aktief te kan leef nie.(Behalwe as jy dringend Discovery-punte nodig het;)). Jy sal verbaas wees oor wat alles moontlik raak en hoeveel geleenthede begin voorval wanneer jy daarvoor begin soek nie. Hier is so paar waarmee julle kan ekspirimenteer en daarop verbeter:

 

Idees vir Aktiewe gesinne

  1. Doen n pre- of post-aandete stappie

Hierdie is die lekkerste tyd om ook bietjie oor jou dag te reflekteer. Elkeen vertel wat alles vandag gebeur het terwyl julle deur die woonbuurt stap. Partykeer maak ons allerhande speletjies soos om by ’n stelletjie trappies op en af te hardloop of resies te hardloop van een lamppaal tot die volgende. Ons dorp is so mooi en vol lewe dat selfs die middedorp ’n heerlike laatmiddag/vroegaand stappie kan wees. Ons is omring deur berge, woude of selfs naby strande – spring in die motor en ry tot daar dan stap julle terwyl julle kyk hoe die son sak. Die oomblik dat julle dit begin ontdek sal daar ’n nuwe stukkie verwondering vir die plek waar ons bly ook begin deurskemer.

  1. Sit die musiek hard en dans soos n Rock-ster.

Hierdie is ’n lekker geleentheid om vir jou kinders te wys jy is oud maar nog lank nie gevrek. Hulle ken niks van die goeie musiek wat ons as jongmense geluister het nie. Verlos hulle van die elektroniese gedoef en speel weer daardie nommer waarop jy en jou beter deel so lekker kon dans toe julle nog sterk verlief was. Draai die ligte dowwer en span ’n flits in vir ’n strobe-light, een van die kinders kan hom beman. Kinders is mal daaroor – hulle kan vir ’n uur ononderbroke boogie. Soms lê ons soos ons lag vir al die kreatiewe en snaakse moves.

  1. Maak n speletjie van takies in die huis.

Verbeel jou die hele kombuisvloer is vol stof-monsters wat die aarde gaan oorneem en net Kaptein [jou kind se naam] kan ons red deur hulle lam te skok met die Borselhaar-Elektriese-Stofmonster-Einde-Masjien, aka BESEM. Die kamervloer is besig om in ’n lava-put te verander en hulle moet vinnig al die speelgoed red.

  1. Nuwe roetes

Gebruik by die winkel die trappe in plaas van die hyser. Ry tot op ’n gemaklike plek by die skool en stap die laaste stukkie. Jy sal vermoedelik nooit weer met parkeerplek by die skool sukkel nie.

  1. Hou n uitdagingsaand.

Ons het van tyd tot tyd ’n ding waarin ons met mekaar kompeteer. Kies ’n aand in die week wanneer julle kyk wie kan die langste handstand doen. Kyk wie almal kry dit reg om 20 sit-ups of opdrukke te doen – onthou jou neus moet grond raak. Skop ’n sokkerbal of gaan slaan ’n golfbal in die park.

  1. Parkrun

Ons kinders kan op ’n Saterdag ’n lekker kies, mits hulle saam kom Parkrun het. Parkrun is ’n groot pret, gesins-uitstappie. Stellenbosch het een van die mooistes in die wêreld. Jy stap/draf deur wingerd, om ’n pragtige dam met waterlelies, verby ’n dennebos met hoë bome, omring deur die mooiste uitsigte tot jy weer deur die wingerde en verby ’n ou trekker stoortjie weer verby die dam terugkeer. Beste 5km om ’n Saterdagoggend mee te begin. Daarna voel almal fris en vars en vol lewe. Neem gerus jou hond ook saam.

  1. Werkies in en om die huis

Daar is altyd ’n paar dingetjies wat in en om die huis moet gebeur. Gee vir elkeen ’n takie of laat hulle kies dan is dit tjoef-tjaf afgehandel. Die een stofsuig die motors, een hark blare op, iemand sny die gras, nog een trek bossies uit of vee die plaveisel skoon. Wanneer almal saamwerk om die huis ’n skoon netjiese plek te maak het hulle ook meer waardering vir hulle spasie en pas hulle dit ook beter op. Ek is versot op grassny – dit werk vir my dieselfde as ’n labarint. Jy begin op ’n punt en kan duidelik sien hoe lank en lelik die grasperk geword het. Dan word die gras stelselmatig van een kan gesny terwyl ek met my gedagtes besig is. Soos dit vorder kan ek sien hoe die grasperk transformeer in ’n pragtige gladde groen mat en net so dink ek ook my gedagtes klaar. Teen die einde het ek ’n hele terapeutiese sessie gehad en my gras lyk fantasties.

Om ’n gesonde leefstyl te handhaaf hoef nie ’n pyn te wees nie. Dit kan die grootste klomp pret wees wat julle ooit saam kan hê.