Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 13/12/2019

Scroll to top

Top

SG Stories | Om die lewe (te) bring

SG Stories | Om die lewe (te) bring

geskryf deur Deon Botha

 

Vandag begrawe ons niemand…help ons Here. Ek kan nie vir iemand se ouers gaan sê: “Jammer, ons kon niks doen nie”.

Op 19 Augustus, bid ek hierdie angstige gebed terwyl ’n groep van ons in die Visrivier Canyon sit. Dit is dag 4 van ’n 5-dag stap, net die vorige aand het ons gelag en gekuier en mekaar begin High 5want almal wat tot dusver swaar gestap het toon tekens van herstel en nuwe moed.

Ons het op Dag 2drooggemaakvir twee redes: 1) ons het nie gedurende die 37ºmiddag-hitte gestop en rus nie, 2) ons het te ver en te lank aanhou stap, donker eers gestop. Daardie aand was ons gedaan. Minstens twee van die elf het sonsteek opgedoen. Dag 3 was moeilik, die siekes is naar en dehidrasie is ’n bekommernis. Daardie middag maak ons nie weer dieselfde fout nie, ons rus ordentlik voordat ons verder stap. Almal se gemoedere lig daardie middag toe ons ’n pragtige kampplek kry waar ons kan swem, rus en kampvuur maak.

Dag 4 begin goed maar die hitte haal ons vinnig in en die simptome van sonsteek trek die krag uit die lywe. Ons mik vir ’n rusplek om gemoedere gesond te hou. Ongelukkig het die beplande middag-rusplek se water opgedroog wat ons forseer om verder te stap vir water. Nou is die spannetjie gaar, die siekes is sieker. Daar is slegs 16km van die Vis oor, so naby maar tog so ver.

Verlep val ons in die koeltes neer waar ons aptytloos probeer eet.

’n Middagslapie sal help om die warmste deel van die dag te vermy.

Ek maak lyf nat in die poele voordat ek ’n koeltekol kry.

Oppad sien ek een van die olikes plat op sy rug. Sy gesig toegemaak met sy hoed. Ek dink aan die barmhartige Samaritaan wat nie sou verbyloop nie en gaan hoor eers of hy OKis. Hy probeer iets eet ten spyte daarvan dat sy eetlus op -80 lê. Hy wil eerder rus en ek beweeg aan. Net soos ek my kol kry sien ek die ander pasiënt is naar en krul nou van die pyn. Dit lyk nie goed nie.

Sy’t ’n pyn in die regtersy. Ons probeer raai wat dit kan wees. Hoe meer ons vra hoe meer klink dit na blindederm moeilikheid. “Wat gebeur as ’n blindederm bars?”vra ek onbeholpe. “Jy sterf”hoor ek my verbeelding-dokter. Ek roep nog van ons stappers bymekaar, ons gaan ’n goeie plan moet maak en vinnig…

Ons opsies:

Iemand hardloop sonder rugsak die 16km uit in die hitte, kry hulp en kom haal die sieke. Nog iemand kan in die moeilikheid beland. (6 ure minimum)

Iemand klim teen een van die hoogtes uit, in die hitte, totdat ons selfoon sein het en bel vir hulp. Nog iemand kan in die moeilikheid beland.(4 ure minimum)

Ek besef dat nie een van hierdie opsies eintlik opsies is nie. Dit mag te laat wees vir ’n gebarste blindederm. Terwyl my kop elke moontlike alternatief soek dwaal die gebed deur my kop.

In die verte is ’n pad. Hy verskyn oor een bult, maak ’n draai na regs en verdwyn oor ’n volgende bult. Ons bestudeer die kaart, stappers word gewaarsku om nie na die pad te gaan as hulle in die moeilikheid is nie. Die pad is 12km lank en loop tot by ’n hek wat gesluit is.

Daar ry nie voertuie nie.

Vorige stappers het al die fout gemaak om te dink dit gaan hulle Ai Ais toe vat en dan is hulle net nog dieper in die moeilikheid en verder van Ai Ais. Die pad is nie ’n opsie.

Wat doen jy as daar geen opsies oor is nie. Wie wil iemand se kind op ’n stap vat en dan gaan jammer sê?!!Die vorige dag is ons verby ’n graf van iemand wat in die Visrivier ’n hartaanval gekry het. Ek het geen oplossing. Ek is uit.

My vrou gaan sit op die sand en sak haar kop terwyl sy vir die Here vra om ons te help. Ons het geen ander uitweg. Wanneer sy haar kop optel is die eerste ding wat sy sien ’n wit bakkie wat oor die bult ry. Wat is die kans?! Ons waai en skree en net voordat hy oor die volgende bult verdwyn hou hy stil, hy stoot terug. Hy’t ons gesien.

As gevolg van die geweldige droogte het hulle waterpunte in die Canyon. Hierdie bakkie kom slegs een keer per dag om waterpunte op te vul. Hy is slegs sigbaar vir ’n 3 min tydgleuf. Net van daardie kampplek af. Hy kan ons help. Hy vat die twee siekes uit om hulp te gaan kry in Ai Ais.

My hele lyf bewe toe die voertuig met die siekes oor die bult verdwyn.

Die hele geselskap is vir die res van die ervaring bewus van ’n groter Teenwoordigheid asook ons menslike broosheid. Hoe kan alles so toevallig? Presies? Genadiglik uitwerk. Hoe meer ons hieroor reflekteer en dink hoe meer besef ons hier moet iets groter aan die werk wees.

Terug in Stellenbosch voel ek die ervaring aan my lyf en in my hart.

Hoe lyk dit om God werklik te vertrou?

Hoe min het ek nodig om dit binne my daaglikse ritmes te doen, alles hier is so veilig en uitgewerk. Moet ek nie dalk baie meer waag en vriende raak met ongemak nie?

Is dit nie juis waar God se teenwoordigheid eerder openbaar word nie?

Watter ander ongemaklik ruimtes moet ek gaan opsoek vir my groei?

Watter ongemaklike grense moet ek oorsteek om te groei?

Watter oortuigings moet ek sagter/ligter vashou om meer van God te leer?

Dis ongemaklike vrae wat ek gaan aanhou vra, want ek het lanklaas so lewendig gevoel soos in die Vis. Iets van my hét in die Vis gesterf, want dit was nodig om nuwe lewe te bring.

Ns. Dit was op die ou end 11 nierstene en nie ’n gebarste blindederm nie en almal is gesond terug by die huis. Geen karakters in die storie was fiktief of het permanente skade opgedoen.

Foto: Die groep SG stappers, iewers in die Vis.

deon@sg.org.za