SG Stories | ‘n Versameling

.
[ Laai die SG Stories PDF hier af: SG Stories Mar 2020 ]
.
Voorwoord deur André Serfontein
’n Kollega vertel my anderdag van ’n praatjie op die platvorm TED, getiteld “The danger of a single story.” Chimamanda Ngozi Adichie, ’n Nigeriese skrywer, belig in hierdie praatjie ons neiging om individue en groepe mense te tipeer aan die hand van ’n enkele storie wat ons van hulle ken. Ons beperkte blootstelling aan mense uit die Midde-Ooste, of ander godsdienste, of die Amerikaanse politiek, lei byvoorbeeld maklik daartoe dat ons vasgevang raak in ’n eendimensionele beskouing van daardie spesifieke mens of groep. Adichie reken dis gevaarlik; nie omdat die storie noodwendig verkeerd is nie, maar omdat dit onvolledig is.
Ek dink ons loop dikwels dieselfde gevaar in ons beskouing van onsself. Hierdie prentjie word maklik oorheers deur die trauma van ons kinderdae, ons verlies, ons huwelikstatus, ons werk, ons chroniese siekte. Dis nie maklik om ons verbeelding oop te stel vir ander perspektiewe oor onsself, wanneer ’n enkele storie ons bewussyn kaap nie. Hierdie storie is egter onvolledig – daar is altyd meer.
Dit is merkwaardig om te besef dat Jesus twee storielyne gelyktydig kom beliggaam het: God én mens. Volledig heilig én volledig menslik. ’n Halo om sy kop én vuil voete. Ons vermoë om beide hierdie stories in Jesus vas te hou, skep in ons verbeelding die kapasiteit om dit in onsself ook te doen.
• Om in Jesus as mens ook die Goddelike te kan herken, is om te erken dat ons soeke na die transendente – hierdie misterieuse en onsigbare dimensie wat ons sukkel om te begryp – herkenbaar en toeganklik word in ’n vorm wat ons wel kan verstaan: die menslike.
• Om in Jesus as God ook die menslike te kan herken, is om te erken dat ons soeke na die wese van menswees – hierdie komplekse en subjektiewe dimensie wat ons sukkel om te definieer – die beste verstaan word wanneer dit die terrein betree van die heilige en die Goddelike.
Ek en jy beliggaam beide hierdie stories: ons is mens, maar ook die beeld van God. Ons sug, maar met God se asem. My brose lyf is ook die liggaam van Christus.
Dis soms makliker om beide aspekte van ons menswees in ander te herken; in nóg ’n storie, eerder as die enkele storie wat my denke oorheers. Ander se stories kan die storie van my menslikheid bevestig. Ek kan daarmee assosieer en vir ’n oomblik asemhaal: dis nie net ek wat hierdie ervarings het nie! Maar ander se stories kan ook die storie van God se teenwoordigheid in my eie stories bevestig. Dit kan my help ontwaak vir die beweging van God se lewegewende Gees in my storie, en só ook vir my identiteit in Christus.
Ek is ongelooflik dankbaar vir die inisiatief agter hierdie boek, asook elkeen wat ’n storie gedeel het, want dit kan ons red van ’n verskraalde storielyn. Mag ons Christus in mekaar se stories herken, en mag ons onsself en mekaar op ’n nuwe wyse raaksien en bevestig in Sy storie met ons elkeen.
.
[ Laai die SG Stories PDF hier af: SG Stories Mar 2020 ]
Nuutste Stories
-
[ storie ] Die argitektuur van menseregtedag
deur Pieter Roeloffse
Vanuit ons land se vrylating uit die historiese greep van uitsluiting van sekeres, en die bevoordeling van ..
-
[ Storie ] Oor ‘n antwoord
Vandat ek op die plaas aangekom het waar ons nou bly, is ek nie heeltemal seker wie ek is nie. ..
-
[ storie ] Oor hier se kleur
deur Liesl Cronje
My hier is blou. Deurweef met sagte blou en donkerblou en grysblou en ‘n bietjie wit. ..Lees Meer
-
2021…Waar begin ‘n mens
deur Pieter Roeloffse As kind het ek my ouers in ’n winkelsentrum in Johannesburg verloor. Hoe meer ek probeer om ..Lees Meer
-
Om tydens grendeltyd te rou, is om te luister en te skryf
deur Anelia Heese | www.herklink.co.za
Hoeveel keer begin ek deesdae ‘n brief met die sinnetjie: “Ek skryf uit ‘n ..