Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 13/12/2019

Scroll to top

Top

SG Stories | Die Skoen in die Vis 

SG Stories | Die Skoen in die Vis 

geskryf deur Deon Botha

Jona was drie dae in die vis voor hy uitgespoeg is. Die ervaring het, soos sulke ervarings doen, ’n groot indruk op hom gemaak. Ek was vyf dae in die Vis, ek dink my hele lewe het verander.

Die Visrivier Canyon is geleë in Namibië en die tweede grootste canyon op aarde. Jy klim af in die canyon teen ’n steil helling en wanneer jy onder kom bereik jy die 0km merk, vandaar is dit ’n byna 70km stap oor rowwe terrein met dik sand en groot rotse.

So trek ons weg by die 0-merk, opgewonde soos kinders dog liggies ontnugter deur die hitte en swaar stap tot daar (ek meen, ons is gedaan net om 0 te bereik). Na 700m skeur een van die stappers se skoensool 90% van sy skoen af. Dis ’n dilemma. Die enigste voertuig wat jy vir die volgende 5 dae het is jou voete. Voete, water en sonskerm is jou kosbaarste items, in daardie volgorde.

Op hierdie stadium sou enige gesoute stapper vir jou sê, draai om, klim weer op en gaan wag in Ai Ais vir die span. Maar nee, ons is groentjies wat nie van beter weet nie. Eers plak ons die skoen met ’n pleister-tipe band maar met die sand in die gom hou dit net 5 treë. Daarna probeer ons met ’n band van die rugsak maar dit kry nie ’n greep op die skoen en gly heeltyd af. My een kollega het altyd gesê: “Necessity is the mother of all invention”. Hy was reg. Ons prakseer ’n konstruksie uit twee cable ties wat die skoen bymekaar trek sodat dit nie sand skep terwyl dit geen effek op die voet uitoefen.

Daarvoor word twee cable ties  benodig en ons het drie.

Probleem opgelos.

Ons slaap op die 2,7km merk, nie wesenlike vordering gemaak nie. Die volgende oggend laat weet Wickus die een cable tie het gebreek, daar is net een oor. Ek dink: Ok, ons maak weer planne as dit finaal breek.

By die volgende rusplek sê die ouens: “Het jy gesien Wickus het ’n nuwe skoen gekry?” Eers dink ek hulle het nou ’n nuwe plan gemaak maar hulle hou aan, dis ’n nuwe skoen. So wragtag, daar wys hulle vir my ’n stewige leer stewel.

Dit sal goed wees om op hierdie stadium te noem dat daar niks in die Vis is nie. Daar lê nie ou sakke en tentseile of klere rond nie. Daar is klippe en sand en hitte en klippe en poele met klippe en sand. Nie leerstewels nie. Op ’n rots staan daar ’n leerstewel met ’n, raai wat… klip in. Presies die regte nommer, presies die regte voet. Wat is die kans?

Daardie aand lê en dink ek oor die dag se gebeure in my tent en kan nie help om te dink dat God nou-net vir ons geknipoog het nie. Hy wil ons uitnooi om waagmoed te hê. Hy wil ons uitnooi om Hom te vertrou selfs wanneer ons tyd maak om te gaan speel in die Visrivier.

Vandat ek terug is loop ek met ’n nuwe wip in my waggel. Iets het met ons gebeur in die Vis. Dalk is dit die nuwe vriendskappe, of dat ons saam iets moeilik oorkom het, of die druppels in die water. Ek is nie seker nie, maar dit voel of Iemand aan my kant is. Of Iemand wil hê ons moet slaag.

Dis ’n lekker gevoel om te hê en ek sal graag wil hê ander moet dit ook voel.