Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 20/11/2019

Scroll to top

Top

SG Stories // Die Reünie

SG Stories // Die Reünie

deur André Serfontein

Ek het verlede naweek my 30-jaar skoolreünie gehad.

Ek ken myself as iemand wat nie vreeslik nostalgies en sentimenteel raak oor sulke dinge nie. Maar hier is ek nou, effe teensinnig, formeel deel van die Whatsapp-groep van die Klas van ’89. Die kommunikasie op die groep skop heel gedissiplineerd af; mooi in lyn met my kriteria vir virtuele konneksie. Totdat iemand, 10 dae voor die reünie, virtueel met visueel verwar en almal nooi om ’n foto van hulself te deel, “sodat ons mekaar darem kan herken”. Dit was ’n Woensdag – die eerste dag. Tweehonderd-en-vyftig boodskappe later sak die son, uitgeput, oor Woensdag.

Kom Donderdag, Vrydag, Saterdag, Sondag en elke dag daarna tot en met die reünie, en die klas lewer gemiddeld 300 boodskappe per dag. Ek dink nie ons het al ooit van tevore só presteer nie. Teen Dinsdag mute ek die groep – ek kan nie meer nie! Die laaste strooi was vermoedelik die herrysing van Francois uit die hiernamaals (hy is die vorige dag op die groep as dood verklaar) en die foto van Johnny met sy klein(!)kind. O ja, en Marius se voice-notes. Hy is die hele tyd op die pad en moet homself klaarblyklik besig hou.

Tot my teleurstelling beteken mute op Whatsapp nie wat ek gedink het dit doen nie. Ek kry wel nie meer ’n beep-geluid kry met elke boodskap nie, maar sien steeds hoe die boodskappe ophoop. Ek kan selfs ’n stukkie lees van die Whatsapp wat laaste op die hopie beland, en ek rol gereeld my oë. Ek sien hoe die hopie groei na 500, na ’n 1100 en later na 2400 boodskappe in die sewe dae voor die reünie. Dis bewysstukke hierdie, reken ek, dat sulke Whatsapp-groepe nie bestaansreg het nie. En sommer reünies daarmee saam!

Ek moet noem dat my beste vriendin van skool die reünie organiseer. Ek vermoed ek woon dit by uit lojaliteit teenoor haar. Sy stuur vir my die oggend van die reünie ’n boodskap en vra of ek bereid is om die aand ’n tafelgebed te doen. “No pressure”, sê sy, ek moet maar net laat weet. ’n Tafelgebed is waarskynlik die enigste ding wat nog nie op daai groep gedeel is nie, dink ek. Ek skop dikwels vas teen cliché’s soos hierdie: dat die enigste een uit die klas van ’89 wat ’n predikant geword het, nou ook die een moet wees wat bid. Maar ek betrap myself dat ek heelhartig instem daartoe, sonder enige teensin. Vreemd, gegewe my houding oor die reünie tot dusver.

Die res van die dag word ’n soeke na woorde om te bid. Ek vind nie regtig iets nie. Ek daag by die reünie op en is verlig oor die naamkaartjie op elkeen se bors; die jare was nie goed vir almal nie! Ek loop vir Johnny raak en kom agter die kleinkind stam vanaf ’n aangetroude kind, nie ’n biologiese een nie. Ek voel beter. Ek sien my matriekafskeid-date vir die eerste keer in 30 jaar en vind uit dat sy geskei is. Ek is nie seker of ek moet skuldig voel nie. Ek gesels met Marinda en sy vra: “Waar is Anne?” Ek sê vir haar dat ek en my vrou besluit het dat ’n reünie en ’n metgesels nie ’n goeie pairing is nie. Sy en haar man deel ons oortuiging. Sy peins vir ’n oomblik en sê: “Ek besef nou net; ek het met elk van die 10-jaar reünies ’n ander man gehad.” Ek bars uit van die lag, en tot my verligting dink sy ook dis snaaks. Ek groet vir Francois, wie ek ook in 30 jaar nie gesien het nie. Hy het die motor bestuur waarin vier van ons vriende aan die einde van graad 11 verongeluk het. Ek bewonder hom vir sy waagmoed om die aand by te woon, en verbeel my ek sien hoe die tyd hom afgerem het. Ek beland aan die tafel langs ’n goeie vriendin, wie ek gehoor het deur ’n moeilike egskeiding gaan. Ek hoor van Hein, met wie ek kontak verloor het, wat in London woon en 4 maande gelede sy been in ’n ongeluk verloor het (dit was als berig in die Whatsapps wat ek stilgemaak het.) Die toesprake begin en Marius – die een van die voice-notes– kry die toekenning as Kuberklets-koning vir die 30-jaar reünie. Alhoewel Malan alleen daaroor besluit het, is dit onbestrede. Marius kry ’n luide toejuiging en selfs ’n staande applous, en ek besef hoe sy Whatsapps van die laaste week die groep saamgebind het. Ek kyk na die mense, luister na die stories, dink terug aan matriek…en ek raak bewoë. Dit voel vir my of niemand ons werklik voorberei het op die 30 jaar wat sou volg nie.

My gebed het skielik woorde. Ek sê dankie dat ons hier is – letterlik; dat ons asem en lewe het. Ek sê dankie dat ons weer kan voel hoe dit voel om deel te wees en te behoort. Ek hoop dat ons kan voel ons is genoeg. Ek bid dat ons dieselfde naïewe vertroue in die toekoms sal hê as 30 jaar gelede. Mag ons lewens vorentoe betekenis hê; mag ons liefhê en omgee. En mag hierdie saam kuier en saam eet en drink ’n simbool wees van al hierdie dinge. Amen.

Die volgende oggend sit ek in SG se erediens, met ’n hees stem. Ek dink oor die vorige aand terwyl ek kyk na hierdie groep mense saam met wie ek, dertig jaar na skool, ’n gemeente vorm. Dit voel vir my of ek opnuut verstaan wat die bestaansrede vir só ’n community is: om saam dankbaar te wees dat ons híér is; om te behoort; om waardig te voel; om ’n toekoms te antisipeer en saam te soek na betekenis; en om te leer hoe om lief te hê en om te gee. Ek voel oortuig: niemand van ons kan dit  alleen doen nie.

SG is volgende kwartaal 20 jaar oud.

Daar is so baie wat ek hieroor sou wou sê. Ons dink egter dit vra vir ’n reünie van ’n soort. Ons wil jou nooi vir ete en jou deel maak van ’n gesprek oor waar ons vandaan kom, oor wie ons geword het, oor wie ons wíl wees, oor hoe jy hieroor dink en wat dit alles met jou te doen het. Ons gaan verskeie etes hou, met die intensie om dit so persoonlik as moontlik te maak, deur nie meer as 45 mense per ete te akkommodeer nie. Ons wil regtig in gesprek gaan en jou stem hoor.

Sien die info hier oor Die 20-jaar gesprek.  Ons sien uit om met jou te gesels.  

En ek sien uit na my 40-jaar reünie. Ek sal nie weer die groep mute nie.