Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 03/12/2020

Scroll to top

Top

SG Stories | Die huweliksherdenking

SG Stories | Die huweliksherdenking

geskryf deur Pieter Roeloffse

 

“The church is our mother. There is no other way to enter into life unless this mother conceive us in her womb, give us birth, and nourish us at her breast…” John Calvin

Pa skarrel al van vroegdag, soos sy gewoonte was, in die kombuis. Vandag is egter anders, dit is pa en ma se 20ste huweliksherdenking en ek wonder of hy vandag vroeër as gewoonlik met sy liefdesverklaring begin het. Soos soveel ander oggende is dit nie die wakkerskrik van ’n wekker wat my uit my drome skud nie, maar sy amper hoorbare neurie terwyl hy vir ma ’n spesiale bederf ontbyt-in-die-bed voorberei. Deur die mis strompel ek die gang af. Ek is nog nie lus vir wakker wees nie en weet met hierdie koesterwerk van pa moet ek liefs nie inmeng nie, dis té spesiaal. Versigtig glip ek langs ma in die bed waar sy nog salig onbewus, soos ’n vrou wat weet sy is geliefd, rustig lê en slaap.

Ek gaan lê op my sy en begin onbepland, seker maar bewus van díé spesiale dag, om haar te beloer. Die beloer word ’n later ’n dieper kyk — ’n ondersoekende kyk wat jy nie vir iemand kan gee terwyl hulle wakker is nie. Haar ontspanne gesig verklap haar plooie wat soos ’n kaart vol paadjies elkeen sy eie storie kon vertel. Party is goed deurtrapte voetpaadjies wat haar spontane lag verklap. Ander lyk soos groewe van frons en ek wonder oor die misterie van al die vrae wat al deur haar gemoed, haar staar, haar trane en vrae op haar gesig geëts lê. Ek wens ek kon die braille daarvan lees opsoek na die antwoorde wat sy al gevind het, selfs ook die wat sy nog oor wonder. My gedagtes dwaal na my lewe saam met haar en vir hoeveel van daardie voetpaadjies en groewe ek aandadig was. Hoeveel keer het sy nie my gesig met room gesmeer en my son-soen-sproete, soos sy dit noem, gesoen nie. Hoe het haar ma wees, vrou wees, haar altyd daar wees en wakker wees as ek al lankal geslaap het onder die sagte vel onder haar oë kom lê? Dit is eers nou dat ek ouer word, dat ek wakker word vir die alles van haar wat ek as kind maar net so vanselfsprekend aanvaar het.

Die stories van toe sy jonger was sleur my altyd op verbeeldingsvlugte mee en ek wens ek kon meer onthou van my kleintyd saam met haar — toe ma wees nog soveel makliker was as nou met ’n huis vol kinders se skedules en begeertes en skete en lesse en drange en ander maats se ma’s wat soos prikkelpop versierings haar laat struikel oor haar eie lyflike verwording a.g.v die koestering wat sy nog altyd vir elkeen van ons gehad het.

Sy verskuif haar lê en haar somer-slaap rok ontvou so dat ek die letsel van my keisersneegeboorte duidelik kan sien. Ek kan myself nie help om, soos toe ek ’n kleuter was, daaroor te streel en te onthou hoe sy vertel het dat hierdie nooit vir haar ’n litteken sal wees nie maar altyd ’n wonderteken sal bly.

Daar, terwyl sy nog so lê en slaap, ontwaak ‘n besef in my van hoe ma haar lewe, lyf, lag en sug vir my geoffer het en hoe skurwe hande, ’n ontsoepelde lyf, eelte op haar gemoed en elke litteken aan haar lyf die liefdestekens is van haar elke dag se lewe gee vir my. ’n Onverwoordbare emosie van dankbaarheid in my wil haar wakker maak en haar vertel hoe dankbaar ek vir haar is, hoe nodig ek haar — veral vir háár — in my lewe het…maar pa kom met die varsgeplukte laventel, die fyn rangskikte ontbyt en die ode fluisterwoorde spesiaal vir haar in die gang af. Ek besef ook skielik dit is sy liefde vir haar, sy glo in haar, sy omhelsing en versorging en fluistering vir haar, wat haar so onvoorwaardelik ter-wille-van laat leef.

Ek glip saggies, vinnig uit die bed en kry pa in die deur. Na ’n woordlose staar verby die oppervlak van sy oë met ’n lewe vol onthou in my gemoed, soen ek hom op sy wang en fluister in sy oor “Dankie vir ’n wonderlike ma, pa. Ek is ook lief vir jou.”