Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 01/06/2020

Scroll to top

Top

Self-isolasie…nog ‘n hoofstuk

Self-isolasie…nog ‘n hoofstuk

deur Natie Engelbrecht

 

My besoek aan Hawston vandag: Ek moes vandag vir die houthuis elektrisiteit gaan koop voordat ek moremiddag na my girls toe terugkeer. Ek besluit om dit in Hawston by ‘n Algemene Handelaar te gaan koop. Sommer om te kyk hoe dit daar gaan. Reg by die ingang sit drie slim manne. Die een – sonder ‘n enkele tand in die mond en met die naam Colgate – is die leier. “Ek sal meneer se Ford oppas. Nie dat hierie Hawstoners ‘n Ford sal steel nie. Die manne hier ken mos darem hulle karre!” Hy en sy makkers lag lekker en ek speel saam. “Maar ek hoef jou seker nie te veel te betaal nie, want as jy hierdie manne kan dophou (ek wys na sy makkers) dan sal daar mos nie probleme wees nie”. Nou lag Colgate eers lekker. “Daai is waar, maar Kortes is eintlik ‘n kreefman en hierdie dikgat ken perlemoen. Maar hy is nou so dik sedert hulle sy knaters uitgehaal het dat hy net bo dryf”. Ek kyk na die pokkel. “Is true meneer. Sommer hier by die kliniek” bevestig hy. Ek lag en stap die winkel in. Niemand kan hier met oorlaaide trollies uitstap nie. Die meeste mense gebruik nie eens ‘n mandjie nie. Die paar goedjies word sommer so in die hand vasgehou. Voor my staan ‘n ou tannie. Baie klein. Sy koop ‘n klein polonie, ses eiers, twee brode, ‘n paar uie. En melk. Dan wys sy daar na die loslekkers en ek sien die twee seuns wat haar die kos help dra kan nie stilstaan nie. Hulle is erg opgewonde. Ek kyk na die twee rakke langs my. Skielik tref die reuk van Oom Faan, Oupa Joos, se plaaswinkel my. Ek gee my selfoon vir die meisie agter die toonbank. My oë traan te veel om die nommer te kan lees. Sy is van Somalië, maar praat bietjie Afrikaans. Buite gaan staan ek by Colgate en sy makkers. Ek gee vir hulle koeldranke. En ek gee vir elkeen R100. Want dis niks. Hier is dit regtig niks. Ek vra vir Colgate hoe hulle deur hierdie krisis gaan kom. Hy raak bietjie ernstig. Wat moeilik is vir hom. “Hier is baie krisisse meneer. Baie. Dis soos die dikke hier se operasie. Die goed gebeur. Dan huil ons. En hier is mens wat kán huil. Maar dan gaan mens maar weer aan. En dan lag ons weer. Almal saam. Lag. En huil. Want ons het mos nie goed nie, meneer. Net lag. En huil”.