Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 30/10/2020

Scroll to top

Top

Self-isolasie | deur Natie Engelbrecht

Self-isolasie | deur Natie Engelbrecht

 

– geskryf deur Natie Engelbrecht 

 

Ek is nie eintlik ‘n introvert nie. Behalwe miskien op Woensdae. Maar, nou is ek in self-isolasie. Nee, eintlik nie self-isolasie nie. Ek word aangehou deur Skonie en skoonsus in ons huis. Onder toesig van Annie en onder instruksie van my baie streng dogter. Ek is ingeperk. Of geïnterneer. En ek kan nêrens heen ry nie. Nie eens om toiletpapier te gaan koop nie. Skielik verstaan ek katte. Al daai skuur teen mense se bene en so. Ek wil ook al skuur teen mense. As ek iemand die erf hoor inkom waai my stert amper. Dan loer ek maar net deur die blindings. Hierdie virus maak mens ‘n loerder. Die beskuit (en alles wat nie slaai is nie), is in Skonie se woonstel. Jip, net ‘n deur ver, maar nou is ek verbied om ‘n voet daar te sit. (En, ek kry mos maar ook die ou dier jammer. Ek sal haar nie regtig in gevaar wil stel nie.) Om my besigheid oor skype of zoom te doen is eweneens vreesaanjaend. Ek moet mense se lyftaal kan lees. Nou sien ek net oorgroot gesigte. Mense, ons is een vlesige spulletjie! Ekself lyk soos die Michelin Man oor zoom of Skype. En as ek so vinnig praat, omdat ek senuweeagtig is, dan spoeg ek op die skerm. Nee, nie aspris soos my broer toe hy in die voorste ry  laat sit is nie. Per ongeluk. Elke keer wat ek vandag die yskas se deur oopgemaak het, het die wortels lekkerder gelyk. Ek sit net ‘n rukkie by die eetkamertafel en werk, dan staan ek op en stap kamer toe. Kort-kort. Nie om iets te gaan haal nie, maar omdat dit ‘n ander plek is. Of omdat ek verveeld is met my eie geselskap. En ek het ook nou hardop met myself begin praat. (Gewoonlik doen ek dit net sag). Maar, eintlik is ek bevoorreg. Want hier is ander asems in die huis. Vandag het Annie my ‘n skouerdruk gegee en so op die kop gestreel…soos in “there-there”…en vandag het skoonsus met ‘n ou tannie gestoei oor ‘n pak toiletpapier. En Skonie smokkel beskuit in. En my ma bel terwyl ook oor besigheid skype. En daar is altyd Chloe, ons St Bernard hond.