Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 20/10/2020

Scroll to top

Top

Geestelike Postuur – Deel 2: ’n Postuur van leerbaarheid

Geestelike Postuur – Deel 2: ’n Postuur van leerbaarheid

’n Postuur van leerbaarheid: van antwoorde na vrae

 

Beheer. Seker. Beslis. Antwoorde…Alles eienskappe wat goed verkoop, waarna ons almal streef. Dit verklap egter dikwels ’n postuur van afgehandel wees, ’n rigiede, ongemaklike selfvertroue wat nie ruimte het vir vloeibaarheid, vir veelkantigheid, vir groei, vir ontdek, vir “dalk was ek nog altyd verkeerd” of “dalk moet ek weer hieroor dink”. 

Wanneer ek in die spieël kyk om eerlik my postuur te bestudeer dan besef ek dat ek dalk juis, omdat ons in ’n wêreld leef waar antwoorde goed “verkoop”, my rug soms lekker styf en selfversekerd trek en my arms vou in ’n selfversekerde afgehandel-heid. Dit is immers wat mense dikwels verwag: iemand wat geleer het om antwoorde te kan gee oor God, die lewe en spiritualiteit. Wanneer ek na die ander pyne van hierdie afgehandelde postuur kyk dan sien ek ’n verlies aan openheid, aan luister, aan ontdek, aan sensitiwiteit, aan oplettendheid…

 

 

Wanneer jy mooi in die evangelies kyk dan sien jy dat Jesus baie meer vrae vra as antwoorde gee. Hy vra altesaam 307 vrae. Hy word 183 vrae gevra — waarvan Hy net 3 antwoord. Hy vra meeste van die tyd ’n teen-vraag. Hoekom doen Hy dit? Is Jesus dan nie die antwoord nie?! Vrae forseer ’n geslote afgehandelde postuur weer oop. Openheid vir groei, openheid vir ander, openheid vir asem…

Daar is min dinge wat jou geslote afgehandel-wees so oop beur soos ’n krisis. Churchill het tereg gesê “Never let a good crisis go to waste!” Krisis nooi jou na self-ondersoek. Krisistye forseer ons tot openheid, tot leerbaarheid, tot weer kyk, weer dink… Krisis help ons ontwaak vir groei. Ongelukkig kan die teendeel ook waar wees in krisistye en ons sien dit. Dit boelie jou in ’n selfbeskermende postuur ter wille van oorlewing. Dit dwing jou tot fundamentalisme en ’n geslotenheid en self-omarmde selfversekerdheid — alles pogings van die ego om ’n valse beheer te orkestreer.

 

 

Die lewe en soveel fasette daarvan vra in die hierdie dae baie vrae aan elkeen van ons. Sou dit dalk goed wees om met vrae te antwoord? Wat sou ’n antwoord met vrae dalk kan los maak, kan oop maak? Kan dit dalk eerder gesprek, nabyheid, deel en nuuskierige ontdek aanmoedig as die vasgevalde afstand waarbinne ons leef?

Postuur word net deur doelbewuste ongemaklike oefeninge en gewoontes oor ’n lang tydperk verander. Watter gewoontes kan jou vorm tot openheid en leerbaarheid?

Mag jy ses goeie vrae voor ontbyt vra. Mag jy die versoeking van antwoorde gee (en die een-kantigheid daarvan) in jou lewe raaksien en mag jy gelydelik daardie poging tot beheer en mag laat vaar en mag jy 10 uitnodigende vrae ontdek vir elke antwoord wat jy dalk wil gee.

Groete,

Pieter