Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 02/03/2021

Scroll to top

Top

Parstyd Herfstyd Lydenstyd

Parstyd Herfstyd Lydenstyd

Parstyd in die Boland nooi die herfstyd nader. Herfs is vir my ’n gunsteling tyd. ’n Parskuip-tyd. Kaggel-kleure en geure van klam grond en blare verklap iets van die broeisel van lewe onder die deklaag, daar waar my oog nie kan sien nie. Stroop, sterf, offer, rus, leef…

So loop die ewigheidsritme in die natuur, my are en ook in die kerk. Parstyd. Herfstyd. Lydenstyd. ’n Uittog én ’n intog. Sterwensbegeleiding én geboorte. Kruis én opstanding.
Paulus hou ’n spieël voor my op as hy skryf “My kinders, ek verkeer van vooraf weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte (metamorfoor) kry.” (Gal 4:19)

Christus as vorm is nie die stroewe strak godsdienstige versmoring wat ek van Hom maak nie — die “gestalte van Christus” is die wyn, die lente, die uitbundige nuwe lewe. Maar Christus as die weg (the way) is ook die metamorfose proses wat die op-die-oog-af onmoontlike doen: ’n verterende ruspe word ’n verrassende veelkleurige fladdering van bestuiwing.

Ek stap al weer, soos elke jaar, die pynlike geboortepad, die lewegewende sterwenspad — baie bewus van my en ons wêreld se gril wurmagtige verorbering. Ek stap verlangend in gebed en ander parskuip-praktyke dat die Vroedvrou-Gees tog nou hierdie jaar in my en in ons sal laat sterf wat moet sterf en sal opwek wat moet leef.

Lyding is nie lekker nie. Geboorte gee ook nie. Parstyd, herfstyd, lydenstyd verklap ’n misterie wat ek soos sticky notes op my palm wil graveer met die hoop om tog nou hierdie jaar dié pad met oorgawe te volg.

Mag die *as van jou verlepte halleluja’s ’n kruis kompas op die pols van jou gedagtes wees, soos jy die eerste tree op pad na nuwe lewe gee.

*Aswoensdag se kruis op jou voorkop of pols, word gemaak van verlede jaar se Palmsondagtakke.

Sien jou langs die pad,
Pieter