Ons dek graag ‘n tafel en nooi jou om saam met ons om die tafel te kom sit. Kom eet saam, ontmoet ander nuwe lidmate of kuiergaste en gesels met personeel en ander lidmate wat al langer saam met Stellenbosch Gemeente reis. Ons deel graag ons storie en sien uit na jou saam kuier!
As jy belangstel in so ‘n ete stuur asseblief ‘n epos na marissa@sg.org.za
Stellenbosch Gemeente is ‘n missionale gemeente. Altans, ons streef daarna om een te wees! Prakties beteken dit dat ons alle mense uitnooi om Jesus Christus se liefde vir die wêreld uit te leef (lees meer oor ‘wat ons glo’ hieronder).
Ons behoort nie aan ‘n spesifieke denominasie nie, maar ons staan in sterk verhouding met die Apostoliese Geloofsending (AGS), asook die gereformeerde kerke van Stellenbosch.
Ongeveer ‘n duisend lidmate is betrokke by die gemeente. Julle sal gou agterkom dat ons alles-behalwe perfek is. As gebroke mense soek ons in geloof na God se wil, en leef ons ‘n lewe wat iets beteken. Wanneer jy seerkry, probeer ons daar te wees. Wanneer mense onderdruk word, probeer ons beskerm. Wanneer die aarde verwoes word, staan ons op. Dit gebeur deur Stellenbosch Gemeente se bedieninge, maar heel waarskynlik reeds in jou eie lewe.
Ons glo dat die kompleksiteit van God se karakter nie gereduseer kan word tot ‘n goed geformuleerde visie- en missiestelling nie. Maar lees gerus verder vir ons beste probeerslag!