Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 30/10/2020

Scroll to top

Top

Oor ‘n nuwe plek | deur Liesl Cronje

Oor ‘n nuwe plek | deur Liesl Cronje

Vanoggend het ek op ‘n nuwe plek begin werk.

Ek werk al vir jare lank van die huis af. Alleen. In my huiskantoor waar dit stil is. Wanneer ek saam met ander wou werk, was dit so gestruktureer dat ek deel was van spanne op ander plekke, wat my behoefte aan groepsgeselskap aangespreek het en my uit my stil plek gekry het. Maar nou is alles deurmekaar. My gesinslede werk ewe skielik van die huis af en spanne waarvan ek deel was ook.  My alleen spasie waar ek gedink, gedroom en herlaai het, is nou vol van ander se telefoonoproepe, Skype of Zoom vergaderings en rekenaar gewoontes. En die plekke waar ek gewoonlik konneksie gebou het, idees uitgeruil het en mense bestudeer het, leeg. Gelyktydig mis ek alleen en saam.

Vanoggend het ek dus op ‘n nuwe plek begin werk. In ‘n gedeelte van my kamer wat uitkyk op die stoep. Dit is stil hier. Die wind speel deur die lint versierings in die deuropening en die eekhoring steel my pers grenadellas wat ek vanoggend vroeg wou pluk. Die son maak nuwe patrone op my stoep en ‘n klein groen suikerbekkie loer die heining se blare.

Soms het ons ander spasies nodig om nuut te dink. En ander plekke om ons naby mense weer raak te sien. Want dit is dan dat ons ‘n nuwe dankbaarheid kry, vir alleen en saam.  Die ketel kook en ek ruik nogsteeds die vars brood wat my man dou voor dag gebak het. Ek hoor verlangs die gesin se stemme. Kom ons drink tee en geniet vir ‘n oomblik ons nuwe alleen, en saam. En dan, soos Brian Draper sê: “ … let us bless the space between us.”

© Liesl Cronje