Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 18/11/2017

Scroll to top

Top

Oor Kuiergroepe | ‘n Storie uit ons community

Oor Kuiergroepe | ‘n Storie uit ons community

deur Liesl Cronje

 

Ek weet nou, kuiergroepe gee my lewe kleur. Hierdie jaar was ‘n nuwe jaar vir kuiergroepe in Stellenbosch Gemeete en ek is dankbaar vir elke gasheer en gasvrou en vir elke gas wat onvoorwaardelik hulle name opgeskryf het op ‘n lys tussen name wat hulle nie ken nie. In afwagting, vir ‘n kuier en konneksie en nuwe kleur in hulle lewe. Na elke kuier hoor ons stories soos: “Wat my geïnspireer het, is die stories waar mense uit hulle gemaksones beweeg en hulle drome uitleef!” en “die lekkerste oomblikke was die hele kuier, die geselligheid om die vuur en later om die etenstafel – niemand wat voorgee nie en almal wat net hulself kan wees”. Ander sê dat die moeite wat almal saam gedoen het met die kos elke keer fantasites was en dat selfs die stiller mense op die einde saam gepraat en gelag het en gesê hoe lekker die kuiers vir hulle was.

Ek was self by van hierdie kuiers en ek onthou spesifiek een gesprek. Iemand daar vertel my van die tydperk en die plek waar sy mens geword het, wat my toe laat dink oor hierdie begrip, ‘mensword’. Wat dit beteken en wanneer dit gebeur. Of almal op dieselfde manier mens word en hoe dit voel. Of jy nog jonk is as jy mens word en of dit eers gebeur as jy ouer is.

“Vertel my meer van mens word”, vra ek haar en sy wikkel haar skouers heen en weer voor sy praat, so asof sy besluitloos is, of nie in woorde kan sê wat sy dink en voel nie.   “Jy weet, ek was so …” en sy bly stil voor sy verder praat. Sy sê haar kinders was reeds gebore toe sy mens geword het.   En sy dink dis die plek waar sy toe was en die mense wat daar gebly het, wat haar gehelp het om mens te word. Ek dink by myself, en dalk haar eie dapperheid, om nuwe dinge aan te pak, en haar minder te steur aan al die moets en moenies wat ander uitdink, die praatjies wat almal rondvertel en die perfekte patroontjies van huis-huis speel. Sy’t my toe nooit vertel hoe sy was nie en ek het ook nie weer gevra nie.

Miskien gebeur mens word bietjie vir bietjie. Dalk het dit te doen met pretensie weggee. Ligter raak en ontslae raak van aannames en dinge wat jy onnodig saamdra. Weggooi van reëls wat ander uitdink en verstaan van raamwerke wat beter pas by jou. ‘n Aanvaarding van wie jy is en ‘n verklaring van wie jy nie wil wees nie.

Ek kan ook ‘n tyd onthou toe ek ‘n halfmens was, wat gedink het sy is ‘n mens-mens.  Met ‘tick’-lysies en boksies, in swart en wit, vol moets en moenies, ‘uptight’, meestal reg, min verkeerd, soms onseker. Ek is nou dankbaar dat ek steeds elke dag meer mens word en meer van my eie kleur kry. Wanneer ek nee sê vir dit wat ek nie wil doen nie en ja sê vir dit wat ek wil wees. Wanneer ek verskillende opinies en idees in ag neem en wanneer ek besef ander kan ook reg wees.   Wanneer ek inkleur buite die lyne en nuwe prentjies maak van ou dinge, en wanneer ek iets verstaan van eg wees en min wil weet van voorgee en aanplak.

Ek wonder as ‘n mens kleur kon koppel aan menswees, hoe ons sal lyk en waarvoor elke kleur sal staan. Miskien sal ons groen wees as ons hoop en groei, en blou as ons glo. Geel as ons optimisties is en aanhou probeer en wit as ons nuut begin. Dalk grys as ons veilig voel en rooi as ons opstaan vir ons regte. En dalk sal ons al die kleure van die reënboog wees as ons ‘n verskil kan maak in ons gemeenskap. As ons meer vir ander omgee as onsself en as ons na binne kyk, met dieselfde maatstaf as waarmee ons na buite kyk.

Ek dink, om mens te word is om kleur te kry. En ek dink kuiergroepe help daarmee.

*Blog geïnspireer deur ‘n kuiergroep ete van Stellenbosch Gemeente.

Liesl is vrou, ma, ‘Life Coach’ en eienaar van Thyme Events. Volg haar gedagtes op haar Voelgoed-blog of Facebook.