Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 28/01/2022

Scroll to top

Top

Oor Geloofsvorming in gesinne

Oor Geloofsvorming in gesinne

Wie besluit nou eintlik hoe ‘n mens kinders moet grootmaak en wat die regte manier is om ‘n ouer te wees? Ek onthou hoe ek en Pierre as jong ouers gewonder het of ons goeie ouers is en of ons alles reg doen soos dit moet wees. Later het ons uitgevind ‘moet wees’ beteken verskillende dinge vir verskillende mense en ons het maar net gehoop ons is goeie ouers. Nou is ons ‘n splinternuwe oupa en ouma en ons hoop steeds dat ons goeie grootouers sal wees.

Ek gesels onlangs met Mike en Stefni Cruywagen oor ouerskap en geloofsmomente vir ons kinders. Hulle hoop ook hulle is goeie ouers en hulle voel ook dat hulle soms so besig is met ouerskap en die lewe, dat hulle vergeet om hoe om stil te staan en ouerskap net te geniet. “Ons wil ons kinders dinge leer, soos verantwoordlikheid byvoorbeeld. Ons sê so baie keer, tel jou klere op. Ons praat so baie oor dit wat ons kinders moet of nie moet doen nie, en dan vergeet ons van al hulle positiewe eienskappe”, sê Stefni.

Daarom was hulle so opgewonde oor Deon se voorstel in ‘n onlangse SG nuusbrief oor ‘n graad een ete as geloofsmoment vir gesinne. Mike vertel hoe hulle soms oorweldig voel deur al die aanlyn opsies vir die moets en moenies van ouerskap. “Dit was so lekker om ‘n voorstel te kry van ‘n plek af wat ons vertrou”, sê hy. Deon se voorstel het ondermeer ingesluit dat die toekomstige graad eentjie self die kos vir die aand kies, skoolklere aantrek of nie, tafel dek en selfs gaste nooi vir die geleentheid as hulle wil.

Stefni sê: “Simon het pannekoek gekies, so ons het pannekoek gebak en dit saam geëet.” Die aand vol drukkies, soos sy dit noem, was spesiaal. Simon het sy skoolklere aangetrek en hulle kon vir hom sterkte toewens vir sy jaar, hom vertel van al sy goeie eienskappe, soos ‘n omgeehart, nuuskierigheid, wysheid, humor en uithouvermoë. Sy vier jaar oue sussie kon selfs vir hom vertel watter goeie ouboet hy is en daarna kon hulle vir hom bid, vir sterkte en voorspoed en vreugde in sy skoolloopbaan. Mike sê: “Dit was so lekker om te sien hoe alles wat ons doen en sê tydens die ete hom ‘boost’. Ons sê baie keer vir hom ons is lief vir hom, maar nie so spesifiek nie”.

Mike en Stefni glo dat ons as ouers, ouerskap saam kan deel as ons bereid is om te gesels oor dit wat vir ons uitdagend is as ouers, of die goeie stories en saamdoen dinge deel, soos die gemeentekamp. Dit bied soveel geleentheid vir interaksie met ander gesinne, saamspeel, kuier om ‘n vuur en ook diep konneksie met jou kind. “Ons moet van ons eie idees afstand doen om met ons kinders te ‘connect’” sê Stefni, daarom is die oomblike soos akkers optel en ‘n bed vir poppie bou by die kampnaweek ook kosbaar.

Hulle is eers huiwerig om my te antwoord op my vraag oor raad vir splinternuwe ouers. Uiteindelik sê hulle: “Wees lief vir jou kind vir wie hy of sy is. Moenie te veel bekommer oor min slaap of enige-iets oor die toekoms nie. As hulle nou huil, wees net daar. En moenie jouself meet aan onnodige goed nie.

Ek weet nou Pierre en ek sal ‘n goeie oupa en ouma wees, ons het oor tyd darem die meeste van ons ‘hang-ups’ afgeskud. Ons kan nou net daar wees en alles raaksien wat ons voorheen misgekyk het. En ons kan bid.

*Kyk hier op ons webblad vir die inset oor Geloofsmomente vir kinders.

– Liesl Cronje –