Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 03/04/2020

Scroll to top

Top

‘n Brief uit Namibië

‘n Brief uit Namibië

Ons deel graag ‘n brief wat verlede week aan ons gestuur is na aanleiding van die Eikons reeks waarmee ons besig is. André het in sy preek Eikons in Afrika dele uit die brief vertel. Luister hier na die preek.

Hi André en Dewaldt

Hierdie mag dalk ‘n lukrake epos wees, ek het dit begin skryf as ‘n kort “dankie” boodskap vir die reeks waarmee julle besig is. Dit het egter vinnig gevorder tot ‘n uitvloei van gedagtes,maar die kern van die saak bly steeds: Baie dankie!

Ek is tans in Namibië – werk vir ‘n kontrakteur waar ons besig is om ‘n pad te bou op ‘n myn. Ek werk sedert middel Junie nagskof, wat so ongeveer 15-16 ure per dag is – so die werksomstandighede is tans meer maanskyn as rose. Relatief onlangs het ek ‘n iPhone gekry (weens ‘n klein onderonsie tussen my foon en gravitasie) en het die SG podcast ontdek. So die lesse wat julle elke Sondag deel, strek veel verder as net die saal by Paul Roos… Ek geniet werklik die Eikons reeks waarmee julle nou besig is. Elke preek wat ek tot dus ver geluister het, is direk van toepassing op waar ek tans is in my lewe. Baie, baie dankie vir julle woorde en moeite wat julle insit in al jul preke en ook die span in die agtergrond wat dit moontlik maak vir my om daarna te kan luister!

Ek glo hierdie tyd van elke jongmens se lewe (myne inkluis) lê daar verskillende fasette voor jou soos jou loopbaan; soeke na jou lewensmaat; die realiteit van die verantwoordelikhede; vervulling van drome en die bemeestering van vrese. Hierdie dien as beginpunt van ‘n nuwe en opwindende ontdekkingsreis. Die pad kan soms oorweldigend wees as jy net die berge en dale raaksien wat nog gestap moet word, maar die lesse wat julle deel is soos ‘n blik uit die hemel (birds eye view) wat die geleentheid gee om na omstandighede te kyk vanuit ‘n ander perspektief en die groter prentjie te kan sien.

Die woord “fasette” gebruik ek doelbewus, omdat ‘n faset (veral die gebruik in Engels: facet) word gedefinieer as ‘n gladde oppervlak van ‘n edelsteen. ‘n Tweedimensionele voorstelling van ‘n gedeelte van iets wat waardevol is. Ons identiteit is ‘n edelsteen, wat se waarde die liefde van God is. Die wêreld sien die verskillende fasette van hoe ons dit uitleef. Dit is vir my verteenwoordigend van die reeks Eikons, waar elk van die fasette in ons lewens iets verteenwoordig van ons identiteit as geheel. Afhangende van hoe die lig val, kan ‘n faset ongelooflik blink of geen refleksie gee nie, maar weens die feit dat daar so baie fasette tot ons identiteit is, sal daar altyd minstens een wees wat blink. Dit is nie die fasette wat ons identiteit bepaal nie, maar eerder ons identiteit wat bepaal hoe die fasette lyk. Soms spandeer ons so baie tyd en energie om “die blink kant bo te hou” dat ons vergeet die “blink kant” is net ‘n tweedimensionele voorstelling van ‘n gedeelte van wie ons werklik is.

Daar is eintlik nog baie wat ek graag met julle wil deel en oor wil gesels, maar ek sal dit vir eers hou vir ‘n volgende (meer gestruktureerde) brief. Hoe meer ek aan die verskillende temas in die reeks dink, hoe meer idees vorm in my kop, hoe meer dink ek weer aan ander temas. Dit is ‘n siklus wat my my al hoe meer opgewonde maak oor my eie ontdekkingsreis wat ek stap… Maar vir eers laat ek hierdie epos afsluit:

Die visie van SG – ‘n Lewe wat iets beteken – het ‘n deel van my geword en is een van die riglyne waarvolgens ek daagliks my doen en late bepaal. Van alledaagse, gewone goedjies tot besluite wat ‘n onmiddelike en noemenswaardige impak het op my lewe. Weereens wil ek dankie sê vir die reeks, maar ook dankie vir die rol wat julle in my lewe gespeel het as student en steeds speel.

Vriendelike groete uit ‘n dorre, koue en donker Namib woestyn in die vroeë oggend ure.

Wolfram Klingenberg