Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 21/03/2019

Scroll to top

Top

Matroosberg-avonture!

Matroosberg-avonture!

deur Deon Botha

 

‘n Gevoel van duiseligheid styg deur my lyf toe ek eindelik by die eindpunt staan. Die aarde val 1000m voor my weg en die kranse vorm ‘n klipmuur wat steeds hoër rys. Die leegte suig my nader maar ek is te verlam om op die trekkrag te reageer. Ons het ongeveer 8km, al met die kloof langs, gestap en geleidelik geklim-klim tot bo-op die berg. Die sweetdruppeltjies in my nek en slape is ysig in die koel luggie wat saam met die uitsig my asem bietjie wegslaan.

Untitled2

Die kinders het vroeg reeds die commitment getoets met “Hoe ver nog? Is ons al naby?” of “Kan ek nóú my broodjie kry?” maar ons het vasgestaan. Dit is presies wat ek wou hê moet gebeur, want geen broodjie is so bevredigend soos die gevoel van oorwinning en uitsig wat elkeen nou beleef nie. Soms moet ons dieper delf, langer uithou en harder druk om karakter te ontdek en groei. Hierdie 12 kinders het nou ‘n storie om te vertel. Ek voel dat ‘beter stories’ deel van my roeping is. ‘n Ander deel van my roeping is dalk die broodjies, want dit gaan nou GOED af…

IMG_0063

Die afstap is heelwat vinniger en stiller as die op. ‘n Deel van die geselskap vertoef ‘n rukkie by een van die kristalhelder bergpoele waar ons die dag indrink voordat ons weer by die res aansluit.

Terug by die Skihut kan jy die dag se opwinding en energie aanvoel. Die hut en berge is vlamrooi en oranje terwyl gogga-geluide en veldgeure die aand inlyf en dan kom alles tot rus.

Untitled1

Van die manne het intussen ‘n gesellige vuurtjie aanmekaar geslaan en ons kuier soos vriende wat mekaar jare ken. Opsomming: ‘dit was goed’, soos heel aan die begin. Onder die sterre verdwyn alles wat ons vroeër van mekaar kon skei en sorteer of klassifiseer. Ons kuier tot ons doodruk soos ‘n gedaan motor… dis lekker om ‘n mens te wees.

Die Matroosberg sal volgende jaar weer die kinderkerk se Graad 4’s tot 6’se sien, want hier gebeur iets en sien die kinders iets wat nie elke dag sigbaar is nie.

IMG_0062