Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 08/12/2016

Scroll to top

Top

‘n Lewe wat iets beteken

‘n Lewe wat iets beteken

Is jy klaar met kerk, gaar geoordeel, en sat van skynheiligheid? Dalk glo jy in God, vertrek jy op ‘n geloofsreis, en is jy deksels dankbaar. Miskien soek jy geborgenheid, staan jy skepties, smag jy na verandering, of neem jy die grootste tree van jou lewe. Wie ookal, en waar ookal jy is, jou storie is uniek.

By Stellenbosch Gemeente wil ons die wêreld vanuit jou perspektief ervaar. Of jy nou gelowig, ongelowig, moralisties, immoreel, verslaan of ontnugter is. Van waar die belangstelling? Wel, êrens in Stellenbosch Gemeente is daar iemand wat met jou kan vereenselwig. So wanneer jy bly is, vier ons saam! Wanneer jy seerkry, hou ons net mooi niks daarvan nie. Wanneer mense onderdruk word, beskerm ons. Wanneer die aarde verwoes word, staan ons op.

In Matteus 23 vers 23 daag Jesus ‘n groepie skrifgeleerdes se hoogheiligheid uit. Dis nou die gelowigste van gelowiges wat kamstig weet van ‘reg en verkeerd’. Hy sê dat wanneer dit kom by kerksake is die skrifgeleerdes ‘pynlik presies’, maar wanneer dit kom by dinge wat regtig vir God saak maak, ‘skitter hulle in hul afwesigheid’. In ‘n gedurfte stelling sê Jesus vir hulle dat die hoogste prioriteit van liefde is om vir almal ‘n regverdige kans te gee, om vir mense te help, en om vertroue te skep.

Voldoen ons as gemeente hieraan? Nie genoeg nie. Dink ons ons is perfek? Alles behalwe. Probeer ons om in gebrokenheid vir ‘n hoër doel te lewe? Jip. Ons wil jou graag uitnooi na hierdie tipe lewe. Wie ookal jy is, of wat ookal jou storie is, kom neem deel aan ‘n lewe wat iets beteken.