Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 31/05/2016

Scroll to top

Top

Klein genoeg om ’n geleier van God se krag te wees

Klein genoeg om ’n geleier van God se krag te wees

deur Stephan Joubert

Ek is mal oor Twitter. Om jouself behoorlik in 140 karakters uit te druk is ’n heerlike uitdaging. Iemand wat dit goed regkry, is my vriend Jaco Strydom. Nou die dag tweet hy die volgende woorde: “I’d rather go to God with my brokenness than with my promises.” Dit het my diep laat nadink. Toe gaan lees ek weer 2 Korintiërs 12 en onthou van vooraf dat God se krag die heel beste werk deur swak menslike houers.

Paulus moes op die harde manier leer hy’s nie ’n eindverbruiker of ’n persoonlike vertoonvenster van die Here se krag nie. Hy is net ’n swak menslike geleier hiervan. Ook moes hy ontdek hyself kort nie nog krag nie, maar meer genade. Menslike swakhede is Goddelike geleenthede. Menslike kragvertonings hoort nie tuis in die kerk nie. In Jesus se kring gaan dit nooit oor spog-krag nie. Wanneer die Here se krag wel ter sprake is, soos in Handelinge 1:8, gaan dit oor die krag om oor Jesus te praat. In 2 Timoteus 1:7-8 gaan dit weer oor die krag om te volhard op die lydingspad van Christus. Geestelike krag lyk dus heeltemal anders as krag elders in die wêreld.

Gelowiges voel nie aldag die Here se groot krag nie. Net soos wat ’n dun elektriese draad nie die krag voel wat daardeur vloei nie, hoef ons nie eers sterk te voel voordat ons aan diens is vir die Here nie. Ons is maar swak geleiers van aardskuddende hemelse krag na ander menslike eindverbruikers. Let wel, ons is nie die eindverbruikers hiervan nie. Daar oorkant die lewenspad is die eintlike eindverbruikers van die Here se krag. Ons moet die hemelse kragkabels maar net oor die pad aanlê na diegene se lewens toe wat die Here se aanraking benodig.

Daar’s nie ’n “S” embleem onder gelowiges se klere wat staan vir iets soos “Super-Dissipel” nie. Ons is breekbare erdekruike, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Ons kry soms diep seer. Ons is broos en breekbaar. Ons struikel partykeer. Menigmale is ons oor raad verleë. Soms stel ons ander mense teleur. Nogtans is die Here vol genade. Nooit hou Hy nie op om Hom oor ’n ieder en ’n elk van sy kinders te ontferm en sy genade dag na dag ruim oor ons uit te stort nie.

Bron: http://blog.ekerk.org