in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
attie
Attie Jonker

Gemeentebestuurder

Waarvan het jy te veel in jou huis? Te veel…kampeertoerusting, veral braaiers en stoele; skroewedraaiers, motorpolitoer, hemde en sokkies, skeermesse. As mens te veel boeke kan hê, dan het ek dit ook;…en al die WEG tydskrifte.

Watter rugbyspan ondersteun jy...? Province is nog altyd my span (sedert 1964 toe Jannie Engelbrecht  in ry 2 op die hoofpawiljoen laat ge”tackle” is, sy sleutelbeen morsaf, en hy druk nog steeds 3 keer vir die span;..en dit alles die eerste maal wat ek op Loftus gaan rugby kyk het).

Is daar iets wat jy mis van die laaste 30 jaar?
Ek mis die energie wat ek gehad het om 101 dinge op ‘n Saterdag te kon doen; en dat ek nie, soos nou, ‘n trollie nodig het as ek iets met die omvang van ‘n sak sement wil verskuif nie. Ek mis die rustige  ervarings tydens gereelde kuiertjies in die Kruger Park. Ook die sorgloosheid van daardie tyd toe mens nog in relatief veiligheid kon kom en gaan na hartelus; toe petrol en kruideniersuitgawes nie die grootste deel van jou geldjies opgevreet het nie, en toe jy 5 sent in die parkeermeter kon gooi en sonder kommer jou motor die volgende uur daar laat staan.

Vertel van jou gesin...Ek is reeds 37 jaar getroud met Jansie (skoolkys wat die studenteaktiwiteite oorleef het). Jansie is reeds baie jare die sekretaresse van Maties swemklub wat ontstaan het a.g.v. die seuns se betrokkenheid by swem sedert kleintyd. Ons 2 seuns, op wie ons baie trots is;… André wat ‘n uitstaande sportman was en wat provinsiale en nasionale kleure verwerf het in swem en tweekamp en na skool besluit het om voltyds landbou te swot het onlangs sy M verhandeling in Grondkunde ingehandig. Hy is in Mei 2008 getroud met ons boesemvriende van Pretoria se dogter, Karen, en hulle woon en werk (hy as senior produksiebestuurder en sy as projekbestuurder) op ‘n plaas in die Prieska distrik wat die enigste plek in SA is waar pistachio neute verbou word . Wouter, het pas sy B graad voltooi in Sosio Informatika, en hy is tans deeltyds in diens van US verantwoordelik vir die WEB instandhouding van Teologie en Sportwetenskappe. Hy het ‘n groot belangstelling ontwikkel in alles wat draai rondom ewolusie, en politiek/sosiale sake.

As ek die dag weghol kies ek koers...Ek het nog nooit gedink waarheen om weg te hol nie, maar ek is baie lief vir die natuur, veral die bosveld en laeveld;…so ek sal seker in die rigting van die Krugerpark koers kies. As jy bedoel weghol oor die landgrense sal ek koers kies na Australië; ek het na my besoek aan daardie land gedink ek sal maklik daar kan aanpas hoofsaaklik omdat die klimaat en die manier van doen baie is soos ons dit hier in SA doen.

Om die wêreld uit te sluit luister ek na...My musieksmaak is baie uiteenlopend; ek hou baie van lig klassiek soos Johan Strauss se walse, Pavarotti en Andrea Botchelli se musiek, maar ek is ook ‘n groot Elvis en Queen “fan”

My lekkerste lekker is...As dit kos is kan jy my met byna enigiets verlei;…ek’s nie so mal oor vleis nie; meer vis/seekos en beslis pastageregte, veral tagliatelle met seekos in ‘n room sous; en dan is ek baie lief vir ‘n soetigheidjie soos ‘n lekker Lindt sjokolade. As die lekker nie kos is nie, dan is lees vir my baie ontspannend en vervullend. Ek lees graag goeie fiksie, en loop baie moeilik verby ‘n boekuitverkoping sonder om iets interessants te koop.

Ek herwin my fokus deur...Ek verloor nie maklik fokus terwyl ek met ‘n taak besig is nie, maar ‘n naweek in die woonwa iewers waar dit rustig is, sal die ding vir my doen. Ek dink die rede dat ek redelik gefokus bly kan toegeskryf word daaraan dat ons byna een naweek per maand wegbreek en iewers saam met die woonwaklub gaan ontspan. Ek is ook baie ywerig in die tuin en ons is alewig besig om te plant, verplant en te snoei; en dit lei enersyds my aandag af van die werksake, maar andersyds gee dit my baie geleentheid om probleme/sake goed te deurdink.

Strengths volgens Strengthfinder:
Achiever, Responsibility, Belief, Arranger, Positivity

Kontak Attie - Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf