in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
1.jpg
Foto-joernaal

925 reik uit na Vlaeberg

Kyk saam na die foto's van ons onlangse projek in die Vlaeberg gemeenskap buite Stellenbosch. Daar is meer as 100 mense getoets en ongeveer 60 brille is op 25 Oktober uitgedeel! Hou ons dienste dop vir meer terugvoer oor die geleentheid.


DIY Pizza. Kan dit so moeilik wees?

Byna 40 van die 925 se jongwerkendes het hierdie vraag onlangs beantwoord. Almal het saamgestem dat dit ‘n definitiewe NEE is!

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat een van die 925’ers se aktiwiteite van die jaar iets met kos uit te waai het, maar dan nie net aansit en eet nie, maar bietjie inspring en jou eie inisiatief en kreatiewe denke gebruik om jou maag reg te maak vir ‘n wonderlike dis.

Twee jaar gelede was dit DIY Sushi (onthou hoe Sushi nog hoog in die mode was?) en verlede jaar het almal dit vreeslik geniet om die fyner kuns van pasta te leer. Pizza is dalk die eenvoudigste een tot dusver, hoewel die wag-proses, nadat die deeg eers geknie is, nogal lank kan raak as jy net wil eet!

Nadat almal se deeg besig was om te rys, en meeste se hande lekker vuil was, is daar eers verder gekuier, nog ‘n glasie wyn geskink en ore ingestem op die Italiaanse musiek in die agtergrond. Sommige het natuurlik die kaggel as die ideale plek gekies om hulle bakke met deeg te plaas vir die rys proses.

Ongeveer 30 minute later en die eerstes het hulle deeg begin uitstrek en koekroller (sommige het hulle leë wynbottels gebruik) in hulle bakpan. Daar was hoender, ham, pynappel, kaas en nog vele meer om op jou pizza te sit. Die eerste pizzas is in die oonde en kort-kort het die pizza-eienaars die kombuis binne gegaan om te sien hoe hulle maaksels vorder.

Dit was nie lank nie, en die eerste pizzas is geniet terwyl die volgendes in die oond geplaas is. Daar was ook ‘n klein prys die aand vir die persoon(e) wat die Italiaan-Afrikaanse woordvasvra regkry. Japie en sy vrou Sandra was die gelukkige wenners en is daar weg met ‘n Gino’s geskenkbewys.

Na die tyd het almal gehelp om op te ruim en skottelgoed te was en so is die naweek op ‘n hoë noot begin. Die hoë noot was die pizza, nie die skottelgoed was nie!



Tulbagh Wegbreek

Ons deel 'n paar foto's van ons wegbreek van dag-tot-dag realiteit...en MC deel 'n paar gedagtes

Classic Red en Bitterballen?

MC Engelbrecht

Ek hou oor die algemeen nogal van die lewe, want hierdie lewe het die vermoë om jou op die onmoontlikste tye en op die onmoontlikste plekke te verras!

Case in point: Die Tulbagh Dutch Food and Wine Festival! Wat 'n fees...lag, musiek, kuier, eet, drink, son...sorry nou babbel ek, kom ek begin by die begin...

'n Groepie van ons was die naweek in Tulbagh en kom heel toevallig op ‘n fees af wat in die dorp gehou word. Tipiese Stellenboschers wat ons is vang ons oë heel eerste die WINE gedeelte van die fees en sit eerste af na Tulbagh cellers.....Ons is so verheug dat jy verniet kan proe dat ons al 30 wyne proe! Een van ons ('n kern lid van ons groepie) besluit toe om die Tulbagh Village Red te proe... hy is so beindruk dat hy sommer 3 bottels koop teen R15 'n bottel. Nie net is hy mal oor die wyn nie maar ook oor die prys!

Vir meeste in die groep is dit die aakligste wyn ooit, vir ander is dit 'n bargain vir so ‘n lekker wyn! Sal ons mekaar se smake en opinies kan integreer en akkommodeer of gaan ons groepie nou in twee skeur om apart wyn te proe?

Ek dink omdat daar onvoorwaardelike liefde was, goeie gesprekke oor wyn (meer spot as goeie gesprekvoering!) en 'n poging om mekaar te verstaan en respekteer, het ons groepie saam bly wyn proe....Ek wonder of die kerk dit baie keer kan sê, of maak ons groepies van mense wat dink en praat en hou waarvan ons hou. Kan jy ander intrek, nader trek? Mense wat anders lyk, dink, praat, voel?

Na ons wyn avonture het die honger begin inskop en is ons na die kosstalletjies om die Hollandse kos te gaan aandurf. Het jy al ooit gehoor van Bitterballen!? Ek ook nie! Wel van ons het dit probeer en was absoluut mal daaroor! Ander het weer eenkant bly staan en geweier om te proe. Inteendeel hulle het die Nederlanders en die Bitterballen sleg gesê sonder dat hulle self ervaar het. (Ek wil dit net hier duidelik stel: Ek love bitterballen, glo my hulle is alles behalwe bitter, wel dalk bitter-lekker!)

Ek lees koerant en loop op kampus rond en dit is sleg om te lees en te hoor van Rassisme. Mense wat geen respek het vir ander nie. Inteendeel mense wat dink hulle is verhewe bo ander. So is ons omring deur mense met uitgesproke opinies oor ander kultuurgroepe, wat nooit die moeite te doen om met mense buite hulle verwysingsraamwerk in gesprekke te tree nie. Die lewe is soveel armer sonder die verrassings en waarde van nuwe ervarings en verhoudings.

…Amper soos Classic Red en Bitterballen.



Kogelbaai oorslaap

Aan die einde van Februarie is die 925ers vir 'n nag Kogelbaai toe...kliek op die fotos om te vergroot.

Wat is nou beter as ‘n helder aand vol sterre, ‘n vuurtjie by jou voete en die gedruis van die see in jou ore?

Dis presies wat die 925ers gedoen het op 27 Februarie. 30 van ons het na ’n lang week die moee stof van ons voete afgeskud en die pad gevat Kogelbaai toe. Beman met hout, wors, buns, ietsie te drinke en slaapsakke. Die wind wat in die parkeerarea van die kampplek gewaai het, was ‘n onware weerspieeling van wat op die strand aangegaan het. Die lieflikste, windstilste, oopgetrekte aand het ons begroet. Dadelik is skoene uitgeskop, fotos begin neem, en klippe nader gerol vir ‘n heerlike kuiersessie. Heelwat later, nadat die mae vol is en die oe begin toeval, is die slaapsakke uitgerol (en tente!) en nes geskrop. Soos gewoonlik is die alarm in die middel van die nag gemaak dat almal hulle slaapsakke bietjie hoer moet opskuif om nat voete te voorkom.

Koffie en beskuit het gesorg dat almal naderhand uit hul sluimering ontwaak en, na ‘n klompie rondtes boules en laaste saamkuier het ons stuk-stuk begin huis toe slenter. Nuwe vriende is gemaak en herinneringe gebou. Ons sien uit na volgende jaar!


 

2008 Waterkaskenades!

Hier is 'n paar fotos van die onlangse waterkaskenade wat die 925 bediening aangebied het. Kyk gerus deur die foto's!


 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf