in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
hangers.jpg
Stories

Het jy 'n inspirerende storie wat jy met die gemeente wil deel? Kontak gerus vir Marissa Truter om jou storie op die web te plaas.

'n Roepstem na vryheid - Philip du Plessis

Ek moet erken, tot op hede het ek nog nooit nasionale trots ervaar soos ek dit tans op ons sypaadjies, stalletjies, stadions en strate ervaar nie. Dit is asof die Suid-Afrikaanse vlag die ‘backdrop’ van ons leefwêreld vorm. Maar wie weet, miskien is dit kortstondige euforie? Daardie tipe geesdrif wat so kenmerkend is aan nasionalisme? Dit het al soveel keer in ons land se geskiedenis gebeur dat kulture bedwelmd geraak het deur hul eie goedheid en voortreflikheid. Ons het al soveel keer die fout gemaak om 'n gesonde stuk trots netjies te seel sodat die geur van individuele uniekheid toegesluit word om walms van gemeenskaplike selfbeheptheid te vorm...

As geesdriftige sokker-leek probeer ek om die verskillende Wêreldbeker-wedstryde by verskeie ‘random’ plekke te kyk. Dit doen ek omdat ek 'n groeiende fassinasie met die spel het, maar ook moet ek erken, doen ek dit omdat ek 'n sucker vir nuwe ervaringe is. Die gevolg is dat ek vanweë my aperige belangstelling in andersheid, heel waarskynlik soos 'n seer duim uitstaan by local, down-town sokkervenues, net soos daardie Khaki-gekleede toeriste in Stellenbosch.

Gelukkig is ek nie die enigste een nie! Verlede Dinsdag het ek saam met 'n paar vriende vir Bafana-Bafana gaan ondersteun in 'n stampvol Kayamandi-restaurant. Die ondersteuners het boud-teen-boud 'n oorwinning in die eetplek se mini-amfiteater afgewag, en in uitbundige omhelsing die twee doele teen Frankryk gevier. Die wit, middeljarige tannie wat regs-voor-my op die sement-trappies gesit het, kon volgens my die hoof van 'n ‘finishing school’ vir meisies gewees het. Haar couture-jas het die skel-geel van haar Bafana-t-hemp gedemp, en sy het versigtig aan haar rooiwyn geteug in wat vir my na 'n oningeligte senuweeagtigheid gelyk het (maklik vir my om te oordeel wat vir haar dopgehou het, en nie die TV nie). Maar toe Khumalo met 'n sidekick die eerste  doel aanteken het sy die rooiwyn met oorgawe gemors terwyl sy die ‘mama’ langs haar aangemoedig het om haar vuvuzela te blaas...

Op ’n woelige Kaapse Fan Mile moes ek weer my kop na die verbylopende Australiese paartjie draai terwyl die man heel ernstig aan sy nooi gesê het: “We can be very, very glad to be here”.

Ek dink ek vorm deel van 'n Suid-Afrikaanse middelklas wat as gevolg van ons verlede nog skepties staan teenoor nasionale euforie, en daarom moet ek myself afvra of die grense wat ons nou oorsteek slegs kosmeties is. Ontkragtig ons regtig die ekonomiese monster wat Suid-Afrika se kulture skei deur 'n Black label saam met locals in Kayamandi te drink?

Dalk wel.

Ek moet myself miskien eerder afvra of ek, as deel van Suid-Afrika se post-moderne, middelklas gemeenskappe, nie geneig is om waarhede soos “eenheid in diversiteit” te yk tot 'n afgewaterde politieke ideaal nie? Met ander woorde, omdat ons heeltyd vaskyk aan ongelykheid tussen verskillende kulture en ekonomiese klasse, gee ons dalk nie genoeg erkenning aan die “bietjie” integrasie wat wel gebeur nie. Radikaal anders as eksklusiewe nasionalisme deel 'n beduidende deel van ons bevolking wel 'n gevoel van eenheid te midde diversiteit, soos die Wêreldbeker nou bewys. Dit lyk tog of ons werklik 'n behoefte het aan verdraagsaamheid, en meer nog, ’n nuuskierigheid oor ander kulture en die menswees van die “ander”.

En tog begryp ons nie die krag van 'n glimlag oor 'n kultuurgrens nie. Dit is asof ons 'n sluier van sinisme oor ons koppe dra. Ons besef dit nie, maar ons groeiende interkulturele samewerking en saamkuier in ontwikkelende Suid-Afrika gaan inderwaarheid lynreg teen dit wat nou in ontwikkelde Europa gebeur. In byboorbeeld die tradisioneel, über-liberale Nederland raak burgers al hoe meer vreesbevange vir “ander” kulture, en is daar 'n groeiende ondersteuning vir die vêrregse ‘Partij voor de Vrijheid’ wat belasting wil hef op die dra van Moslem-kopdoeke. Die einste party, gelei deur die koddige maar charismatiese Geert Wilders, wil 'n verbot plaas op die lees van die Koran! En 15% van die land se bevolking het boonop vir hierdie vêrregse party gestem, wat dit tans die derde grootste party in Nederland maak. Ewe skokkend is die feit dat dit reeds onwettig vir Moslem vroue is om kopdoeke in België te dra. En dit lyk of Frankryk dieselfde gesindheid ontwikkel.

Wetgewing wat 'n mens amper aan 'n neo-Romeinse Ryk-mentaliteit laat dink. ‘Andersheid’ wat slegs toegelaat word wanneer jy volkome kultureel assimileer...

Kan dit dus wees dat die gees wat Suid-Afrikaners nou deel op 'n brose maar blywende hoop dui? Miskien is dit is 'n brose hoop omdat ons definitief mense is wat nie genoeg doen om armoede te verlig nie, maar miskien is dit is ook 'n blywende hoop omdat ons as gevolg van ons nabyheid aan ander ekonomiese klasse konstant herinner word aan die gebrokenheid van armoede. Miskien is dit 'n brose hoop omdat ons mense is wat nie genoeg met ander kulture meng nie, maar dalk is dit is ook 'n blywende hoop omdat dit vir ons geografies onmoontlik is om onsself in eksklusiewe Xhosa, Afrikaner, Zulu, Moslem, Kleurling en/of Indiër-kokonne in  toe te draai. Nog minder is dit vir ons moontlik om onsself psigies te isoleer van ekonomiese apartheid. Ons is verplig om verby 'n township ry oppad werk toe, of ons moet gewoon gaan werk soek in die "ontwikkelde stede".

'n Eenvoudige vryheidslied het hierdie jaar internasionale bekendheid verwerf as 'n Wêreldbeker treffer, en die Somaliese boorling wat die lied sing is gevolglik tot beroemdheid verhef. Maar vergeet eers van die ‘glitz en glamour’ van die sanger genaamd K’naan. Dit is die sikliese aard van die ‘song’ se pad na bekendheid, asook die terugwysende lirieke, wat vir ons miskien iets sê  van ware nasionalisme. Die vryheidslied, Waving Flag, is verlede jaar uitgereik as K’naan se vertolking van 'n onderdrukte gemeenskap se roepstem na vryheid, en alhoewel Waving Flag oor die lament van 'n onderdrukte gemeenskap gaan, is die lirieke passievol, en die melankoliese melodieë ritmies. 'n Mens kan die vurige hartklop van die gemeenskap waaroor hy sing hoor, amper asof hulle marsjeer na vryheid:

“When I get older I will be stronger
They'll call me freedom, just like a wavin' flag
And then it goes back, and then it goes back
And then it goes back, and then it goes”

(Luister die vryheidsliedjie by http://www.youtube.com/watch?v=RMT7o0yV3fo, en sien die lirieke in die aangehegte dokument)

As kind het K’naan self onderdrukking beleef. Hy het die Somaliese Burgeroorlog van die vroeg 90’s oorleef en het hy as tiener na Kanada gevlug. Dit was waarskynlik sy eie ondervinding met onderdrukking wat verlede jaar daartoe gelei het dat hy Waving Flag as 'n middel tot hoop toegepas het. K’naan het die lied as 'n ‘relief-song’ gebruik in 'n poging om geld in te samel vir die oorlewendes van die Haiti-aardbewing. Maar die hoop het ook nie hier geëindig nie...

In hul soektog na 'n ‘Wêreldbeker-tune’, kom Coca-Cola toe van die Waving Flag-lied te hore en kry hulle dadelik 'n ‘liking’ in die lied. Binne 'n paar maande sou K’naan saam met 15 plaaslik bekende kunstenaars, 15 internasionale weergawes van Waving Flag opneem. Daar is tans Arabiese, Spaanse, Chinese, Thai, Franse, Viëtnamese, Hongaarse en Nigeriese weergawes, om maar 'n paar te noem. En in baie van die musiekvideos is dit 'n mengsel van K’naan se Somaliese klanke, Suid-Afrikaanse instrumente en die plaaslike land se musiek. Binne 'n jaar ontwikkel die rou ‘vryheidsong’ tot 'n interkulturele, internasionale volkslied met Suid-Afrika as basis.

Met die oog op die Wêreldbeker-celebration-mixes het K’naan die lirieke “and then it goes back” vervang met “so wave your flag”. Alhoewel die oorspronklike lirieke van Wavin Flag dus ingrypend verander van die 15 Wêreldbeker-celebration-mixes, ontdek al hoe meer aanhangers nou die oorspronklike akoestiese vryheidslied op youtube... Nogtans sê “so wave your flag” en “and then it goes back” dalk beide iets van ware nasionalisme...

Soos K’naan se lirieke dit uitbasuin, gaan die lied daaroor dat ons vry is te midde van onderdrukking. Die manier hoe 15 lande vandag in hul eie taal saamsing op wat oorspronklik 'n vryheidslied was, leer ons dat alle kulture vry is om die onderdruktes se stem te hoor... aan te neem ... en te herhaal. En dit is slegs wanneer ons na hierdie stemme luister dat die besef van gemeenskaplike vryheid ons hoopvol terugneem na die harde realiteit van onderdrukking:

And then it goes back, and then it goes back
And then it goes back, and then it goes”

Dit is wat Suid-Afrikaners nou al vir 20 jaar lank bietjie-vir-bietjie regkry, en dit is wat ons tydens die Wêreldbeker sien: 'n Nasie wat terugkeer na mekaar.


Franse weergawe (mp3 aangeheg)

Thai weergawe

Arabiese weergawe

Latyns-Amerikaanse weergawe

Op reis met kanker...die realiteit - Pieter van der Merwe

“My eerste reaksie toe die neuroloog vir my sê ek het ‘n rare soort kanker en ek is boonop die eerste persoon in Suid-Afrika wat daarmee gediagnoseer word, het ek opgestaan en uit die dokter se spreekkamer in Grootte Schuur hospitaal geloop. Ek wou net vir vyf minute alleen wees.”

En dink.

25% kans vir oorlewing.

Kanker.

Brein.

Wat doen mens op 23 met hierdie inligting? “Hier is vir jou ‘n toffie, kou maar…en dink terwyl jy kou.”

Hy was student aan Elsenburg, fiks, energiek en positief oor sy lewe. Hy kon al so ampertjies sy graad raakvat.

Terwyl ek na hom luister wonder ek wat jy heel eerste voel. Ek vra of hy kwaad was. “Kwaad beskryf nie die gevoel nie, jy is bedonnerd. Dit voel of jy volspoed teen ‘n muur vasgehardloop het en dan kyk jy rond en wonder wat is dit waarin ek vasgehardloop het…en hoe?”

Middel 2005 het Pieter sy eerste blackout gehad. “Ons was in die wildtuin met vakansie toe dit gebeur. Kort hierna het die voorval homself herhaal en ek is na ‘n dokter toe, die het my verwys om ‘n MRI scan te laat doen en ek is met epilepsie gediagnoseer. Later is ‘n breinbiopsie gedoen en ek en my pa is Grootte Schuur toe om prof. Eastman (hy is verbonde aan UCT se neurologiese navorsingsafdeling by Grootte Schuur) se diagnose aan te hoor.

Na sy vyf minute buite prof. Eastman se spreekkamer is hy terug om die vonnis te kry.

Hy was die eerste in die land wat met hierdie spesifieke tipe kanker gediagnoseer is, 21ste ter wêreld.

“Ek is hardegat, was nog altyd, ‘odds’ is ‘n uitdaging vir my. Ek het teruggegaan en na die professor geluister en vir hom gevra wat ek kan doen met daardie 25% kans op oorlewing.”

“Kanker is ‘n mental game.”

Dis jy en jou geloof en die siekte.

Hy is dieselfde dag aan Russiese professor, prof Novitsche, voorgestel wat aan UCT by Grootte Schuur in bloed-& breinkanker spesialiseer, en so ontmoet hy stuk-stuk die mense wat sy kankerpad saam met hom sou stap.

Deur die loop van sy behandeling ontvang hy 15 chemo sessies, later 10 sterker chemo sessies waar hy vir 5 weke per sessie in kwartentyn moes wees. Hy vertel dat chemo nie ‘ligte musiek’ is nie. “As chemo ‘n mens was, sou jy hom ‘n harde hou wou gee. ‘n Vuishou. Jou hele lyf is vol slanggif wat jou moet beter maak.”

“Ek het baie Boontoe gepraat in die tyd wat ek in kwarentyn was. Ek het 50 weke altesaam in kwarentyn spandeer en baie gedink…dis nou die laaste, ek kan nie meer nie.” Hy verduidelik die gevoel aan die hand van ‘n treadmill. “Jy loop hierop en voor jou is hierdie wit lig. Aan die einde. En jy besef hoe erg die eensaamheid is, erger selfs as die chemo en die depressie.”

“Dan word ek die volgende oggend wakker, na so ‘n ervaring, en dit voel of ek ‘n marathon kan hardloop. Krag van iewers af, dit gebeur nie op jou eie nie, dit kom van Bo.”

“Ek het Wingerd- & Wynkunde studeer, daar was ‘n tydperk terwyl ek studeer het wat my geloof by Budhisme gedraai het. Omtrent ‘n jaar voor ek siek geword het, het ek my gedagtes gaan neerskryf, ek het op my kniee gegaan en repent en besef waaroor dit gaan. Ek was egter hierna baie op myself aangewese wat dalk ‘n klap in God se gesig was…ek weet nie.”

Tydens die boksgeveg met die kanker het hy besef dat dit nie iets is wat jy alleen kan doen nie, al het jy krag en die wil om te baklei, dis net nie moontlik as jy nie weet wie die Bron is nie.

“Jy het baie empatie met jou liggaam deur die behandelings waardeur jy gaan. Lumbale punksie, 18 daarvan, as die chemo nie werk nie is dit radiasie volgende. 30 breinradiasies, 5 radiasies van my hele lyf. ”

Wat was die seerste, vra ek: “Ek dink die naaste ding aan kraampyn is ‘n sponsbeenbiopsie.” Hy beduie na sy laerug, vertel van die naald, ‘n rilling gaan by jou eie rugraat af as hy vertel hoe pynlik dit was. “Maar die mense om jou help jou, ek het aan die begin vir my dokter gesê, my van is nie verniet van der Merwe nie. Ek moet kan lag deur dit alles! En my gesin was goed vir my.”

Deur die loop van die gesprek kom jy agter hoe belangrik humor is, ‘n regte platjie met geselsies oor ervaringe van die afgelope vier jaar wat jou as luisteraar net met hartseer en ongeloof laat wonder of jy sterk genoeg sal wees om so-iets te kan deurstaan.

Sy behandeling het op 9 April ‘n hoogtepunt bereik met ‘n stamseloorplanting, daar is verskeie bronne vir die stamselle, maar hy was sy eie stamsel-donateur.

“’n Mens se liggaam kan veel meer hanteer of verdra as wat jy dink.”

Pieter was altesaam 102 weke in die hospitaal gedurende die ‘vonnis’. Die behandeling het ongeveer R5 miljoen beloop toe hy op 21 April 2007 uit saal F4 in Grootte Schuur ontslaan is.

Genees. Van kanker.

“Die hospitaal vul my nog met nostalgie. Die slegte soort! Maar jy kyk terug na daai pad en jy weet jou perspektief op die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. “

“Die siekte was eintlik ‘n geskenk…elke rondte van die boksgeveg, elke fase van die siekte, en die gesond word.”

Jy besef die krag van Bo is bo jou eie begrip.


Oor roeping...Anéll Oosthuizen

Ek wil sommer net na aanleiding van André se preek my roeping met julle deel.

Ek is Anéll Oosthuizen en 23 jaar oud. Ek is `n verpleegkundige. Ek het in 2007 graad gekry by Stellenbosch Universiteit en in 2008 my Gemeenskapsdiensjaar by Stellenbosch se Provinsiale Hospitaal in Ongevalle en later in Kraamsaal gedoen.
In Desember 2008 het een van my vriendinne deur `n moeilike tyd gegaan en my een aand gevra wat ek doen as ek "leeg" voel. Omdat ek nie aldag daaroor dink nie, het ek toe begin wonder oor haar vraag. Ek het besef dat wanneer ek vir my pasiënte liefde gee deur aan hulle te raak of die babas vas te hou en met hulle te speel, my "leë tenk" sommer gou vol word. Ek dink dit was toe dat ek besef het dat my werk as suster regtig my roeping is. Vir my is daar niks lekkerder as om vir mense om te gee en seker te maak dat hulle okay is nie.
Ek het dit begin van die maand by Stellenbosch Medi-Clinic in die kraamsaal begin en hoop om nog vir baie jare my werk en roeping uit te leef.

 

 

 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf
ilaçlama, Seo Uzmanı, ilaçlama, Kene ilaçlama, haşere kontrol