



| Pastorale versorging |
Benodig jy pastorale ondersteuning?
Die pastorale sorg bediening leef die visie van Stellenbosch Gemeente deur ondersteuning en begeleiding aan mense te gee wat deur ʼn moeilike seisoen in hulle lewens gaan. Ons doen dit sonder goedkoop antwoorde en kitsoplossings, in liefde en gebed. Die volgende geleenthede vir ondersteuning is beskikbaar:Geselsgeleenthede…Elke Sondag na die onderskeie dienste is daar mense by die voorste NAGMAALSTASIE en KOFFIERUIMTE wat graag na jou storie wil luister, met jou wil gesels of saam met jou wil bid. Gebedsversoeke…Indien jy enige sake van voorbidding of dankbaarheid met die gemeente wil deel, kontak ons gerus of plaas jou storie in die bussie by die Inligtingstoonbank. Deur hierdie geleentheid kan jy die gemeente bewus maak van jou storie aangesien dit tydens Sondagdienste op die skerm geplaas onder die LIEF EN LEED-afdeling. Ons het ook ʼn span voorbidders wat graag vir, en saam met jou wil bid. Plaas enige GEBEDSVERSOEKE in die bussie by die Inligtingstoonbank of kontak ons telefonies of per e-pos (kontakbesonderhede volg aan die agterkant van hierdie blaadjie). Alle gebedsversoeke word vertroulik hanteer. Die VOORBIDDINGSPAN bid Sondagoggende voor die diens, asook op Woensdagaande saam. As jy wil deel word van hierdie span en/of gebedsversoeke per e-pos wil ontvang, kontak ons gerus. Ondersteuning deur die week…Buiten die geleenthede op Sondae, is jy welkom om ons in die week te kontak vir ondersteuning op geestelike, emosionele en psigologiese vlak. Ons predikante is per afspraak beskikbaar vir geestelike begeleiding. Verwysings word ook na pastorale terapeute, beraders en sielkundiges gedoen met wie ons in verhouding staan. Indien jy ʼn krisis het, is jy welkom om Stellenbosch Gemeente se HULPLYN, wat 24 uur beman word, te skakel by 072 959 1333.Kontak ons gerus as jy sukkel met huweliksprobleme, emosionele trauma, depressie, angs, eetversteurings of enige ander psigo-emosionele probleme; substansverslawing en loopbaanvoorligting. Ons doen ook verwysings na professionele terapeute in hierdie verband.
Ondersteuningsgroepe…In samewerking met Moederkerk het ons ondersteuningsgroepe wat ‘n veilige ruimte skep vir mense met verskeie behoeftes: - Angs en depressie - Homoseksualiteit - Seksuele Trauma Groeigeleenthede…Luisterkursus - Ons bied jaarliks ʼn luisterkursus aan. Tydens hierdie kursus staan ons stil by 'n paar idees wat mense kan help om meer verantwoordelik te luister en ander te bedien en ondersteun deur 'n respekvolle, aandagtige gesprek. Die kursus word aangebied deur André Kilian, ʼn klinies-pastorale terapeut. Strengthfinder - Hierdie kursus skep ʼn bewustheid van hoe om jou sterkpunte te ontwikkel en in jou hele lewe te kan gebruik. Dit kan jou help om jou potensiaal te bereik en om die mense rondom jou beter te verstaan. Hierdie kursus word veral vir pare, groepe en kollegas aanbeveel, aangesien dit kommunikasie en verhoudingbou kan bevorder. Padlangs - Padlangs is spesiaal geskep om jou te ondersteun op jou geestelike reis saam met Jesus. In hierdie kursus herbesin ons oor spiritualiteit, ons prentjie van God en die Bybel en hoe ons kan verander om meer soos Hy te word. Ons bespreek die misterie van God, die Heilige Gees en ondersoek die gewoontes van ʼn dissipel, onder andere bekering, doop en jou eie toegangsroete. Meditatiewe Dienste - Elke Sondagoggend om 08:30 hou ons saam met die Sentrum vir Spiritualiteit (www.christianspirit.co.za) ʼn meditatiewe diens in die kapel by die Teologiese Fakulteit in Dorpstraat. Ons fokus op lees, stiltes, gebede, sang en nadenke oor God. Woensdagaande 18:00 lei Fanie Herholdt meditasiesessies wat ook by die kapel van die Teologiese Fakulteit aangebied word. Raak betrokke... As jy ‘n hart het vir mense en wil help om ander te ondersteun, kontak ons gerus.Indien jy ʼn behoefte het aan pastorale versorging kontak gerus vir Amanda van der Vyver by 021 886 6883 of stuur vir haar ʼn e-pos. Indien jy dringend met iemand wil praat skakel gerus ons noodlyn by 072 959 1333.
|