in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
mdumbibanner2
Mdumbi 2009

Belewenisse van Mdumbi

Vyf dae in Transkei

Woorde beskryf nie werklik dit waarmee jy in jou lyf terugkom van ‘n uitreik af nie. Dis ‘n mengelmoes van landskappe, gesigte, teksture en realiteit wat jou verander en vervorm en met nuwe oë laat terugkeer na jou eie realiteit. Ver verwyder van ‘n week of twee in ‘n ander land of tuisland. Met die terugkeer uit Transkei stoei ek met gedagtes van balans vs wanbalans, regverdigheid vs onregverdigheid, hoop vs wanhoop.

In Transkei is die werk wat mense soos Transcape verrig bewonderenswaardig, ‘n groepie mense met ‘n skynbaar idiliese bestaan op Mdumbi gee klein stukkies hoop vir die Xhosa gemeenskap waar hulle werk. Opvoeding onder kinders en volwassenes bied ‘n alternatiewe toekomsvisie wat oorspoel in hoop. Transcape het nie genoeg personeel om al die projekte waarvan hulle droom te verwesenlik nie, en so speel ons (en ander gemeentes) se uitreikgroepe ‘n belangrike rol in die voltooiing van projekte.

Transcape is op drie maniere betrokke in die gemeenskap om Mdumbi Backpakers. In 2007 het SG se uitreikspan (10 lede) gehelp om die Mdumbi Education Centre te verf en gereed te kry vir ‘n kleuterskool, volwasse leersentrum en biblioteek. In 2008 het die span (9 spanlede) gehelp met die bemagtiging van een van die mans in die gemeenskap deur ‘n vlot reg te maak waarmee hy sy eie toerisme besigheid begin het.

Vanjaar se projek was gemik op gesondheid en ons het met ‘n span van 22 lede gaan help om ‘n huis vir HIV vrywilligers te voltooi. Op Canzibe sendingstasie is ‘n kliniek wat ‘n groot rol speel in die behandeling van HIV in die omgewing. Vrywilligers word gebruik met die opvoeding in die gemeenskap en behandeling en ondersteuning van HIV pasiente en hulle gesinne, daar is egter nie genoeg behuising vir vrywilligers nie.

Ons kon die huis binne drie dae voltooi en kon met trots terugstaan en kyk na ons handewerk! - Marissa Truter
Besoek gerus die volgende twee webwerwe: Mdumbi se website: www.mdumbi.co.za en Transcape se website: www.transcape.org

Getuienis van 'n sokkernet!

Elke mens het drome; en as dit in God se wil is, sal Hy ons drome bewaarheid op wyses wat ons maar met sekerheid kan weet “Dis net van GOD af”.

Op verlede jaar se uitreik het ons ‘n sokkerbal gegee aan die kindertjies wat elke middag met ‘n ou sokkerbal gaan sokker speel en ‘n netbalpaal wat dien as doelhok. Dit was ‘n paar van ons se droom om sokkernette saam te vat op hierdie jaar se uitreik. Die prys van sokkernette was R1 200.00. Ek het gevoel dit is bietjie duur en ‘n mens moet liewer die geld aan verf bestee aangesien dit ons hoofprojek was om ‘n huis te verf.

Maar die Here het dit op ‘n persoon se hart gelê om op daardie einste dag ‘n R1 200.00 te skenk vir die uitreik. Die nette is bestel en die volgende dag was dit veilig in Stellenbosch. Die volgende ding wat nodig was, was die pale wat ons by die “locals” van Mdumbi wou kry aangesien hulle houtpale gebruik vir hulle dakke. Ons het die mates van die doelhok vir hulle gestuur en gevra om solank die pale reg te kry vir ons. Weereens het die Here net vir ons gewys dat Hy dinge laat gebeur op Sy regte tyd.

Die mense van Mdumbi het vroeër die jaar houtpale klaar geplant vir doelpale, maar het net nog nooit die finansies gehad om die nette aan te koop nie. Prys die Here, alles werk goed uit. Nou het die kindertjies van Mdumbi hulle eie doelhok met nette en dis duidelik hoe trots hulle op hulle sokkerveld met die doelhok is as jy net kyk na die breë glimlaggies. Dit laat jou hart warm klop en dit laat my net weereens besef dat om te gee verskaf jou net soveel meer lewensvreugde as om net te ontvang. - Alzanne Lourens

Transkei se mooi

Hoe mooi is die Oos-Kaap en Transkei? Terwyl ons so ry het ek nie woorde om die skoonheid en andersheid van die Oos-Kaap te beskryf nie, net die vraag wat oor en oor in my kop spoel...hoe mooi is...? Hoe mooi is...?

Een natuur-wonder belewenis wat my oorweldig het was egter 'n besoek aan die “Hole in the wall”, 'n baken van Transkei.

“Hole in the Wall” is die Tafelberg van die Oos-Kaap, toeriste kom van ver om die wonder te sien. Dit is 'n berg in die see waar die see 'n mooi gat in die middel uit gekerf het.

Wat my getref het was die volgende:
Eenvoud:
Jy ry met 'n eenvoudige grondpaadjie tot by die natuur toneel. Daar is geen bordjies of rigtingwysers nie, ook geen parkeerterrein, wat nog van 'n parkeerterrein waar jy moet betaal! Daar is ook geen geplaveide paadjie nie en geen toegangsfooi nie. Inteendeel jy loop teen 'n graswal af tussen beeste en bossies. Dan ontvou hierdie wonder toneel homself. Wat my getref het was die eenvoud van alles...

Skoonheid in gebrokenheid:
Dit is so mooi hierdie berg in die see met sy gat in die middel. Wat hierdie gat doen is hy maak die berg nie meer perfek nie. Hy maak dat die berg 'n fout (flatter)het. Maar dit is so mooi en jy het 'n waardering vir God en die natuur.

Hierdie belewenis het my uitreik in Transkei saamgevat en my uitgedaag om in eenvoud hier te leef en om skoonheid ook gebrokenheid te sien en te waardeer. - MC Engelbrecht

En so sê die spanlede...

Ek is tydens die kontakmaking met Mdumbi en sy mense oorweldig deur die plek, die ruimte, die stilte, die eenvoud - 'n eenvoud waarna ek verlang. Maar dan wonder ek nou dat ek terugkyk en kontak maak met die "locals" hier, die Xhosa's hier, die mense naby ons, wie se huise in Transkei is, of ek nie die eenvoud verromantiseer nie - want dis great as jy dit kan kies, as jy dit definieer as die afwesigheid van luxeries, maar as jy dit elke dag leef omdat dit jou lewe is, wonder ek of eenvoud so great is? Transkei het my herhinner dat ons nog nie gelyk is nie, dat daar steeds nie geregtigheid is nie - ek hoop ek onthou dit. – Amanda van der Vyver

Die fantastiese heuwels van die Transkei, het my na die Bron van avontuur&liefde&lewe gelei! Inspirasie gevind in eenvoud en in God se natuur, mense gesien wat mekaar dien en 'geconnect' om 'n vuur....- Renie Nel

Die hele ervaring het my laat besef dat ons so maklik gedurende ons normale lewentjies gebeure en tonele by ons laat verbygaan en dinge maar net aanvaar soos dit is en nie die tyd vat dat dit impak op ons maak nie, ons raak afgestomp en gelate. Ons moet onsself toelaat om weer emosie te ervaar, hetsy uit oomblikke, gesprekke of net uit mooi natuur tonele, sodat ons weer mense kan word met dryf, doel en rede in die Koningkryk.- Liezel van Zyl

Mdumbi, waar wíé God is, jou wees, jou werk, jou word, jou dink, jou voel, jou is, helder maak. En waar Hy dit warm laat brand in en deur jou. – Marguerite Potgieter

Transkei is ‘n plek waar jy in eenvoud leef en rus kan vind. Dis ‘n plek waar jy God se almag en kreatiwiteit deur die onbeskryflik, pragtige natuurskoon kan ervaar. – Alzanne Lourens

Obviously ….. kan mens nie transkei noem sonder om te droom oor die prag van die natuur, of die vreugde wat daar in eenvoud gedien was nie. Dink die hele pakkie van die uitreik het mens net tot stilstand gebring en laat ervaar…- Suzanne Ferreira

Mdumbi 2009 het my (dalk vir die eerste keer) laat besef hoeveel meer impak die kerk kan hê as mission binne verhouding gebeur. Want na 3 jaar het die personeel van Mdumbi stories begin vertel van ‘n kerk wat in liefde aanvaar en nie sommer net oordeel nie… van ‘n kerk wat gee en nie net wil ontvang nie… en van ‘n kerk wat gemaklik en inklusief kan feesvier… Dink net wat kan gebeur as hierdie kerk-prentjie ‘n God-prentjie raak! – Helene Smit

Eenvoudig. Amazing. – Gideon Murray

Dit is vir my “great” (beter woord??) om te sien hoe ons visie en die mense wat reeds daar werk se visie ooreenstem. Bou EERS verhoudings en bring dan verandering en nie andersom nie. – Heinrich Fuchs

Die samekoms van entoesiasme, gebrokenheid en talent oor bultende heuwels om te gaan wees, werk, hare verf, skater, vrae, aandagtig aanhoor, dans en dien vir iets groters…- Philip du Plessis

 

Voor die groot trek Transkei toe...

Dit is weer tyd vir die 925ers om die lang pad na die Wildekus aan te pak. Vir die 3de opeenvolgende jaar gaan dié groep die NPO Transcape help met hul werk by Mdumbi Backpackers naby Koffiebaai. Die 2009 span is meer as dubbeld die groote van enige van die vorige spanne en saam met die groter span kom daar hierdie jaar ook ‘n baie groter projek.

22 mense het 5 dae om ‘n huis by die naby gelee kliniek se binnekant, buitekant en dak te verf voor die eerste vrywilligers van die kliniek Augustus daar intrek. Maar die harde werk het eintlik al maande terug begin by die soek van borge om hierdie uitreik moontlik te maak. En daarom wil hulle dankie sê vir elke persoon wat pannekoek gekoop het, materiaal geborg het en geld geskenk het! Die geld wat ingesamel is as borge, word hierdie jaar aangewend om die volgende te vermag:

• Die koop van alle verf, kwaste en rollers wat benodig gaan word vir die vrywilligersbehuising
• Aankoop van leesboekies en ander leermiddels en materiaal vir die kleuterskool (wat 2 jaar terug deur hierdie selfde groep geverf is)
• Mediese voorraad vir die kliniek
• Hulle gaan ook tydens hulle week in Mdumbi, genoeg videomateriaal bymekaar maak om vir Transcape ‘n DVD te maak wat weer gebruik gaan kan word vir fondsinsameling vir die organisasie.

Niks hiervan sou moontlik gewees het sonder borge, ondersteuning en gebede van soveel mense nie en daarvoor sê ons baie dankie!

DAGBOEK:

Saterdag: 18 Julie @ 04:00 vertrek vanaf BP, Lord Charles. Wel na 'n bietjie geskarrel met spasie is die span darem toe reg om te vertrek. Almal 'n koffietjie geniet en 'n bid sessie met die ondersteuners (wat soos altyd gerock het!) is die 6 karre weg om 04:45 - erg opgewonde oor wat anderkant die heuwels van Transkei wag.
Bietjie band probleme met die sleepwa - na dit gefix is, 'n vinnige ontbyt stop in George - WIMPY rock! Vat die pad verder NOORD. Tel vir Suzanne & Marissa op in PE en druk deur na Port Alfred. Slaap & eet vir oulaas in weelde :-)
Wat 'n blessed dag!

Sondag: 19 Julie @ 08:30 vertrek uit Port Alfred na 'n goeie nagrus. Middag ete by die KEIrivier, vat die laaste (lang) stukkie Mdumbi toe - die weer is awesome. Maak vir oulaas kontak met die wêreld wat agter gebly het.
Arriveer 16:30 by Mdumbi - slaan kamp op, explore bietjie en geniet die amazing weer! Goeie nagrus wag?

Maandag: 20 Julie @ 08:00 vertrek 3 bakkies en baie verf na die VERF bestemming. Vanaf 09:00 - 15:30 verf ons..onderlaag word geverf op die mure, die plafon, die dak, die vloer en op skurkie se kop danksy MC! Ons werk bitter hard maar lekker. Vermoed Stephanie & MC se hare gaan waai...
kommentaar via sms: lekker dag gehad, groot groep mense neem maar 'n tydjie om aan al die asems gewoond te raak :-)

Dinsdag: 21 Julie (dag4) 2de werksdag - updat via sms @ 11:06 Oppad bed toe na 'n bitter lang dag. 08:30 tot 18:30!!! Skurkie se hare skonerig...
Hoop om more met verf job klaar te maak. Dan te rus...en kwaliteit tyd in die natuur en omgewing deur te bring. En natuurlik met die kids te speel = sokker, vingerverf, biblioteek besoek ens. Span kuier en lag lekker!

Woensdag: 22 Julie (dag 5) Nog 'n harde dag van 08:30 - 16:30 mar ons is KLAAR met verfjob! En sien bitter baie uit na 'n dag van laat slaap, rus, kaartspeel en niks doen môre in die Mdumbi reën. Almal pootuit maar tevrede. Hard gewerk maar lekker, almal se lywe het 'n pyn iewers. Lag vreeslik! Almal leef in liefde saam, party liewer as ander ;-) Die kouefront het sopas getref! Lê in die tent en luister na die reën.


 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf