in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
jellybean.jpg
Kidaahvonture

Kidaah! Kamp 2009


‘n Hoogtepunt van elke jaar is die Kidaah! kamp. Hierdie jaar was dit dan ook niks minder nie. Op 20 tot 22 Maart het ons by die Simonsberg kampterrein gekamp. Die tema van die kamp was Deut 6:5 wat ons leer om God lief te hê met ons hele wese, met alles wat ons het.

Die kamp is ook ‘n fantastiese geleentheid om met mekaar verhouding te bou. Om God met jou hele wese te volg is nie ‘n maklike ding nie en ons beplan verseker nie om dit alleen te probeer doen nie. Verhouding maak dus 100% sin in die navolging van Jesus.

Adventure Rocks het weereens die avontuur gedeelte behartig en hulle puik van hulle taak gekwyt. Kinders wat verlede jaar bietjie skrikkerig vir die hoë foefieslide was het vasbeslote hierdie jaar hulle vrese begrawe. Die hele program het ‘n sterk klem op spanwerk en samewerking geplaas.

Tydens die Bybel-smokkel speletjie het die kinders die geleentheid gehad om wat hulle glo te moet verdedig of verduidelik. Dit open baie gesprekke rondom ons geloof.

Ons is opgewonde oor wat nou na die kamp kan gebeur omdat die kamp die vertrekpunt van baie nuwe moontlikhede is. Dankie aan almal wat deelgeneem het en hou volgende jaar dop wanneer ons weer gaan – dis nie ‘n kamp om te mis nie.


Rockets


Binne elkeen van ons is iets wat wil uit. Iets wat die lewe voluit, onbevrees wil gryp en omhels… dalk selfs ‘n bietjie wurg. Ons het die voorreg gehad om ‘n paar sulke karakters te ontmoet tydens die Stadsaal diens.

Ter voorbereiding van optredes onderwerp hulle hulself aan die mees ekstreme joga/pilates roetines denkbaar. Alles om die fokus te verskerp. Maar dan die beloning, die oomblik van waarheid wanneer hulle doen presies dit waarvoor hulle gemaak is. Hulle betree die verhoog en laat ‘n storm van energie los wat jare lank binne hulle woed.

Mens sou jouself die vraag wou vra ‘wanneer is jy gereed?’, maar dit bly onbeantwoord. Jy bevind jou midde die wonderlike misteries van die lewe en embrace eenvoudig wat jy dalk nooit sal verstaan nie.

Ek glo nie dit was die laaste sien van die passievolle nuwe bate tot die musiekbedryf nie. Ons wag in angs… en spanning op die volgende optrede. Mag julle klanke nog wyd en syd weerklink teen die Afrika kranse.

 

Speletjiesaand ‘09


‘n Stille geritsel van niks laat daal ‘n swart mis van magteloosheid en hopeloosheid, ledig kweek dit ‘n vae beeld van ‘n dier op sy oorkussing. Wie sal hierdie koue greep kan breek? Hoe sal ons kinders oorgesien word?, hulle is nog so jonk, so onskuldig.

Vanuit die broosheid van ons samelewing rys daar ‘n nuwe era, ongewone helde op ‘n bekende slagveld. Die gejagte word die jagter in die epiese stryd teen verveeldheid.

Op 6 Maart krap Kidaah! ‘n merk in die geskiedenisboeke uit wat die toekoms verander. Met fyn tegniek en as meesters van die spel word die dreigende gevaar ontlont.

Die Kidaah! Kids plaas hulle lywe op die spel wanneer hulle albasters met hulle tone uit die ys red en in kussinggeveg mekaar se tegniek tot die uiterste verskerp. Hulle onwrikbare fokus tydens die blaaspyp-teikenskiet, magneet-visvang en donkiestert besorg soete beloning. Intuisie en ‘n fyn aanvoeling help om die raaiselagtige getal obstruksies te bepaal en te verower.

Ons slaap rustiger elke aand met die wete dat ons hierdie kaliber jongmense in ons midde het. Dankie helde, dat julle opruk in onseker tye en dit dan met soveel grasie behartig.

 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf