in-karnasie
spacer
in-beweging
spacer
in-wording
spacer
in-klusief
sleutel.jpg
Ons Roeping

Ons visie |

Ons wil 'n verskil maak in die wêreld
deur Jesus te volg
in community.

Ons dieper behoeftes |

Ons elkeen het 'n dieper behoefte aan sin in ons lewe. Iets binne ons begeer om ‘n verskil deur ons lewe te maak. Ons elkeen het 'n diep behoefte aan 'n konneksie met ons Skepper. Iets in ons hunker na 'n verhouding met God. Ons elkeen het 'n dieper behoefte daaraan om te behoort. Iets binne ons hunker na betekenisvolle verhoudings met mense. Ons gemeentevisie hou rekening met hierdie dieper behoeftes.

God se geskenke |

Ons glo dat God dit aan ons skenk wat ons ten diepste nodig het. Hy skenk aan ons die gawes en vermoëns om 'n verskil te maak in die wêreld. Daarom roep Hy ons om medewerkers te wees in die skep van 'n nuwe werklikheid, sy koninkryk. Hy skenk aan ons 'n verhouding met Hom deur geloof. Daarom roep Hy ons om Jesus te volg as die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy skenk aan ons community. Daarom roep Hy ons om ons lewens met mekaar te deel en mekaar lief te hê.    

Drie geskenke in Een |

Ons glo dat hierdie geskenke van God met mekaar verband hou - die een word telkens in die ander verpak. Wanneer jy die geskenk van medewerkerskap oopmaak, ontdek jy 'n God wat aan die werk is in die wêreld, en skep jy community met ander. Wanneer jy die geskenk van geloof oopmaak, ontdek jy God se droom om deur jou 'n verskil te maak, asook sy hart vir en opdrag tot community. Wanneer jy die geskenk van community oopmaak, ervaar en ontdek jy God deur ander mense en kry jy die geleentheid om 'n verskil te maak in iemand se lewe. 

Die paradoks van die evangelie |

Die Christelike boodskap is telkens vol paradokse - dié wat swak is, is sterk; dié wat laaste is sal eerste wees; dié wat 'n leier wil wees, moet ander dien. Die geskenke waarmee ons ons visie beskryf het, is ook 'n paradoks. Die geskenk waaraan jy die grootste behoefte het, is dalk juis die geskenk wat jy laaste moet oopmaak. Indien jy hierdie geskenk najaag, word jy dalk 'n verbruiker daarvan. Maar indien jy een van die ander geskenke oopmaak - een waarbinne jou behoefte verpak is - vervul God jou behoefte op betekenisvolle en verrassende maniere. 
Geen van die geskenke is op sigself ‘n einddoel nie, maar telkens 'n middel tot nóg een van God se geskenke in jou lewe. 


 
 
Collaborative design by Stellenbosch Gemeente creative team & G2 New Media | Hosting by Websurf