Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 25/06/2016

Scroll to top

Top

Ignorance is bliss: ‘n Mosambiek storie

Ignorance is bliss: ‘n Mosambiek storie

Corine van Vreden is ‘n onderwyseres by Hoërskool Oosterlig, Boksburg.

Volgens die Engelse woordeboek beteken hierdie frase: “not knowing is better than knowing and worrying” en is daarom die beste manier om my ervaring in ons buurland, as deel van die Love_Mozam 2013 span, op te som!

Op ’n persoonlike vlak was dit vir my noodsaaklik om uit my comfort zone te kom en te kyk hoe dit daar buite lyk. Ek het nodig gehad om te weet of ek in staat is om dinge te doen waarvoor ek nog altyd te skrikkerig was, maar min het ek geweet wat die volgende 14 dae vir my sou inhou toe ek die 29 vreemdelinge in Johannesburg ontmoet het. Uit die groep van 30 het ek net vir Jaco geken, iemand wat al met soveel passie en opgewondenheid van sy trippies op in Afrika gesels het en stories gedeel het dat hy nuuskierigheid en ’n avontuur-lus in my geprikkel het. As ek daardie eerste dag geweet het wat ek nou weet, drie weke na die avontuur, sou ek nooit ingestem het om saam te gaan nie…maar nou dat ek weet wat ek nou weet, drie weke na die avontuur, sal ek my ervaring vir niks in die wêreld verruil nie en sal ek dit nog honderd keer oor doen. Ignorance is truly bliss!

So in die middel van een van die hope krisisse wat ons ervaar het, sê iemand: “Hierdie is nie die twee week vakansie waarvoor ek op gesign het nie!” en ek wil nogal met hulle saam stem. Ek het nie gedink, toe ek op gesign het, dat daar weermag-konvooie sou wees om ons te begelei deur hoogs gevaarlike roetes nie. Ek het nie gedink dat ek ooit so bly sou wees om ’n streepsak vol pão (beter bekend as brood) of ‘n yskoue, glasbotteltjie Coke te sien nie. Dit was die naaste wat ek al aan ‘n amper-afgevuurde AK-47 gekom het en die eerste bazooka en handgranaat wat ek in regte lewe gesien het. Ek het nie op gesign vir 10 ure sessies langs die pad, bande wat bars en “oorslaap” in ‘n plek sonder hotelle nie! Ek was nie heeltemal voorbereid vir bos-piepies of garage snacks as hoofmaaltye nie. Ek het glad nie die waarde van ‘n R 45,95 Crazy Plastic koplamp besef  nie, tot ek soos ’n myner moes lyk om enige vorm van stofpad of lewe voor my te kon sien. Min het ek geweet hoe hard en duidelik God in die chaos sal gesels. Ek het nie mooi besef hoe armoede lyk nie, maar belangriker dalk, hoe ryk arm mense kan wees nie. Ek het nie eers geweet hoe op my geleende tent op te slaan nie en het dit maar die aand voor die trip op my sypaadjie getoets, toe ek besef ek kort meer “bekendes” om hier in my guns te tel. Wanneer ek nou daarna terug kyk het ek maar baie min geweet van wat voorlê in hierdie twee week avontuur waarvoor ek op gesign het!

Gelukkig was ignorance total bliss, gelukkig het ek my oorlosie en selfoon by die huis gelos en gelukkig was daar geen ander manier uit hierdie situasies as beter mens aan die ander kant uit nie! In Mosambiek sien mens geboue, dorpe en gemeenskappe wat stukkend geskiet is deur ’n jare-lange oorlog. Mens sien die letsels en murasies van iets wat eens heel was. Mens besef dat hierdie mense die woorde “swaarkry” en “ellende” baie beter as enige van ons begryp, maar ek besef met skok dat hul die woorde “liefde” en “waardering” ook beter as ek verstaan!

My ervaring in Mosambiek was vol wonderlike oomblikke en pragtige memories. Ek kon deel wees van ’n span wat aan ’n ou bosbewoner ’n waterpomp kon gaan gee. Die waardering het soos daardie eerste sprei water uitgespuit uit sy hart uit, dit was doodeenvoudig pragtig! Ek het die geleentheid gehad om die “randomste” skool in die wêreld te besoek en dit het my juffrou-hart geskok en nederig gelaat. Daar onder die koelteboom op die grond speelterrein was ek alleen, hartseer en ongelooflik dankbaar. Die mense daar leef in so ’n diepe afhanklikheid van God, want daar is nie veel ander dinge om op staat te maak nie. Niks anders is definitief in daardie omstandighede nie, nie eers jou lewe nie. Ek het ervaar, en baie by oom Francois en tannie Alta geleer, oor wat dit beteken om vír iemand anders te leef. Ek het geleer hoe dit lyk wanneer die skrifgedeelte sê: “die liefde soek nie sy eie belang nie” Ek het geleer dat ek dinge, wat ek nooit eers sou oorweeg het nie, maar kán aanpak en oorleef. Ek het geleer om te kamp, in ’n tent te slaap, middagetes uit niks aan mekaar te slaan en ek het geleer om met Mama-Liria in vlot Afrikaanse-Portugees te “gesels”, want vreugde en liefde het nie woorde nodig nie.  

My “inreik” na Mosambiek is verhelder deur 30 mense wat ek nou my vriende kan noem. Dit was so lekker om saam so diverse groep jongmense te kon toer en beleef en stom geslaan gelaat te word.  Mense met so groot passie vir God en soveel sterk oortuigings, maar net so groot respek vir mekaar se opinies en sienswyse. Verskillende mense in verskillende beroepe en studierigtings wat tog almal die een ding in gemeen gehad het: ons was almal saam in hierdie situasie, hier en nou, en daarvan moes ons die beste maak…en was die beste nie net fantasties nie! Afrika is ’n werkwoord en het ons nie gewerk nie! Ons het behoorlik ge-Afrika in die stofpaaie van hierdie kontinent wat ons ons huis noem. Dankie tog vir al die stof, want mens kan nie voetspore op teer laat nie!

At the end of the day, the ignorance saved me. You can never un-hear or un-see of un-feel something. My lewe hier in Boksburg is nog presies dieselfde. Die mense hier het nie gehoor of beleef of gesien wat ek het nie, maar ek sal nooit weer dieselfde dink of voel nie. Nou is my werk om hierdie bekende “ou” dinge met die nuwe uitkyk te laat collide en te sien watter helder vonke daaruit spat!